Dana Snyman skryf soos volg op Facebook oor 50 Boerekosgeregte van Caritas Gemeenskapsfokus:
Ek het al in goeie restaurante geëet, hier by ons, en oorsee. Franse cuisine. Spaanse cuisine. Turks. Grieks. Noem dit. Tog is dit boerekos waarna ek altyd terugkeer, en verlang. Herderspastei. Vetkoek. Piesangbrood. Die kos wat my oorlede ouma en ma gemaak het. Huiskos.
Daarom het hierdie resepteboek onlangs my oog gevang: 50 BOEREKOS-GEREGTE. Beesstert, boontjiesop, melkkos met snysels, basaarpoeding… Eerlike, eenvoudige resepte wat kom uit die kombuise… van lede van die Vroue Landbouvereniging (VLV) in die Noord-Kaap. Vrouens soos my oorlede ma, wat gekook en gebak en brou het om te versorg en te wil bederf. Anders as party kokke wat deesdae eintlik celebrities wil wees, die kos is maar so half toevallig.
Die boek word verkoop om geld in te samel vir Caritas-gemeenskapsfokus, ’n organisasie wat betrokke is by die opheffing van behoeftige mense, veral kinders, in die Noord-Kaap en die Noordwes-provinsie. Die kinderhuis op Barkly-Wes word onder meer deur Caritas onderhou. Hulle doen wonderlike werk. Gaan kyk op hul Facebook-blad: Caritas Community Focus. Die boek kan by alle goeie boekwinkels gekoop word, of bestel word op Lapa Uitgewers se webwerf. Bel ook gerus vir Esté by 087-150-5041/3 as jy meer wil weet.
Ek was veral bly – en dankbaar – om die resep vir ’n souttert in die boek te sien – ’n doodgewone Christelik-Nasionale souttert, met Weense worsies in. Almal quiche, quiche, quiche deesdae. ’n Onsmaaklike, volksvreemde ding.
Die souttert-resep is: Neem 3 gaar aartappels, 125 g margarien, 1 eier, geklits… Nee, nee, gaan koop die boek. Help hierdie mense, asseblief.
(Artikel met erkenning aan Dana Snyman)