Weke gelede het vlytige hande reeds begin woeker om kleinkoekies en beskuit te bak vir NG Kerk Kathu se minibasaar op Saterdag 28 Oktober.
Daar is ook sowat twee weke voor die basaar vleis gewerk om te verseker dat daar heerlike maalvleis, patties en wors is wat verkoop kan word. Vanaf 11:00 kon gemeentelede en inwoners van Kathu saam kuier en hulself geniet met ’n hamburger of vetkoek in die hand, die voetejeukklanke van Deben se boereorkes op die agtergrond en jillende kinders op die springkasteel.
Pannekoek, pap en sous, spookasem en ’n heerlike teetuin het alles bygedra tot die feestelikheid.
(Ernalize du Toit: skriba en kommunikasie – NG Kathu)