Die Vrouediens van die Ned. Geref. Kerk Loxton is aan die gang…
Tydens ’n vorige vergadering het een van die vrouedienslede ’n oggendgeselligheid voorgestel – net vir die ontspanning daarvan. Die vroue werk almal heel jaar hard aan al die geleenthede, iewers het hulle net ’n blaaskansie vir hulself nodig.
En wanneer Loxton se vroue ’n besluit neem, word die daad by die woord gevoeg!
Die winter het sy kloue reeds diep in die Karoo ingeslaan, maar op 20 Junie 2017 om elfuur die oggend, het al die kaggelvure in Jakhalsdans se huis al gebrand en koffie/tee en wortelkoek het die vroue ingewag… wat ’n heerlike verwelkoming!
Jakhalsdans het ook ’n baie smaakvolle gastehuis, en Jakhalsdans se eie kok, Betjie. Betjie het vir die vroue ’n broodbak-demonstrasie gehou. Betjie is al beroemd in die Loxton-omgewing vir haar heerlike brood, en almal was gretig om haar geheime uit te vind! Net om seker te maak die laaste bietjie koue is uit almal se gebeendere, het die gasvrou van Jakhalsdans, Linda van der Westhuizen, vir almal ’n lekker soetwyntjie gereed gehad! Na lekker gesels en kuier, is almal heerlik bederf met Betjie se lekker varsgebakte brood en sop.
(Annali Nel – Loxton Vrouediens)