Die Vrouediens van die Ned. Geref. Kerk Loxton het op Saterdag 16 September 2017 in ringsbyeenkoms vir Vrouedienste van die ring van Carnarvon aangebied.
Die volgend gemeentes was teenwoordig: Loxton, Carnarvon, Vosburg, Brandvlei, Vanwyksvlei en Williston.
Die Vrouediens van die Ned. Geref. Kerk Loxton het besluit om ’n ringsbyeenkoms te hou vir al die vroue van ons ring. Tye is moeilik, werk is baie, en ons vroue het dit nodig om vir een dag bymekaar te kom en net vrou te wees by God.
Die tema van die dag was: Wat ons is, is net genade (die gebed van Koos Doep). Ons gasspreeksters was Adri Vlok van Sutherland en Antoinette Pienaar van Beaufort-Wes.
Die ring is groot en uitgestrek, baie vroue moes ver ry om die dag by te woon (wat ons baie waardeer het!) Dus is hulle ingewag met heerlike koffie en tee saam met muffins en scones. En soos ons vroue mos nou maar is, het die gesels vining en maklik gekom – en daar is behoorlik gesels. En tussendeur is daar lekker deur die stalletjies geloop… dis mos elke vrou se groot lekkerte.
Nadat Annali Nel, voorsitster van die Vrouediens van die Ned. Geref. Kerk Loxton, almal hartlik welkom geheet het, het ds. Andrea Werner van Loxton die dag op die regte manier begin, met Skriflesing en gebed. Annali het van die geleentheid gebruik gemaak om bedankings te doen – waarvan die heel belangrikste ons Hemelse Vader is. Annali het genoem dat die samewerking, entoesiasme en positiewe gesindheid waarmee Loxton se vroue vir hierdie dag voorberei het, ’n riem onder die hart is. En dat daar, van die begin af, oor al die reëlings van en vir die dag die Here se seën rus.
Adri se praatjie het daarop gefokus dat God – in Sy groot genade – jou uniek gemaak het, en dat jy dus ’n unieke manier het om God en jou medemens te dien. Omdat elkeen op sy eie uniek is, moet ons respek hê vir mekaar en besef dat almal nie op dieselfde manier hoef te dien nie. Ons het ook lekker persoonlikheidstoetse gedoen… wat tot baie gelag en verrassings gelei het.
Na ’n heerlike middagete – elke vrou het haar eie mini-platter met southappies en slaaistokkies op gekry – was dit Antoinette Pienaar se beurt. Antoinette het mooi gevra of ons asseblief tog die nagereg na haar praatjie kan aanbied… sy is vanoggend vroeg in reën weg op haar plaas buite Beaufort-Wes, en sy moet voor donker terug wees daar. En hoe dankbaar was sy vir daardie stuk genade (al was sy bitter bang vir die modder waarin sy dan moet ry!)
Antoinette was – soos altyd – ’n bobaas storieverteller. En haar boodskap? God, in Sy groot genade, het vir ons stories gegee om ons van binne heel en gesond te maak. En baie belangrik: sit jou GLO voor jou BANG! Antoinette het stories met ons gedeel uit tye in haar lewe, en die genade van God is in hoofletters daaroor geskryf. En hoekom: want jy moet jou glo voor jou bang sit (glo in God, hy sal voorsien en help).
Op daardie lekker noot is die nagereg geniet, en die vroue het die terugtog huis toe begin.
Van my, Annali Nel, se kant af wil ek graag die volgende sê:
Baie dankie aan my spannetjie op die ringskomitee vir die lekker (en harde) saamwerk, die entoesiasme waarmee julle alles aangepak het, die pragtige saal en die kos wat so lekker en mooi voorgesit is.
Baie dankie aan elke vrou wat gekom het. Julle teenwoordigheid was vir ’n Loxton ’n groot voorreg.
Dankie, oom Schalk van Spektrum Musiek vir oom se klankstelsel wat ons vir die dag kon gebruik. Oom se getuienis was so mooi: vat dit gratis my kind, dit is vir die kerk. Baie dankie aan Deon Jonker van 4Sheep Restaurant van Beaufort-Wes vir die borg van die muffins en scones. Dit het ons so baie gehelp.
Dankie aan Riaanda Viljoen van Loxton vir die mooi foto’s. Nou is ons dag op film vasgelê.
Dankie aan Adri en Antoinette, julle was priceless.
En die heel grootste dankie: Aan ons Hemelse Vader. Wat ons is, is net genade!
(Annali Nel – Loxton Vrouediens)