Dankie JONK NK vir die geleentheid!
Na ’n hele klomp uitdagings het ons Nel-gesin van NG Kerk Hartskroon en ds. Neeltjé van Staden van Kuruman Moedergemeente saam met vyf ander tieners op Saterdag 7 Julie na Tsabong (Botswana) vertrek. Die uitreik na Tsabong is ingekleur deur ’n wonderlike ontmoeting met ds. TC du Toit, Linda (sy vrou) en die DRCB gemeente.
Die vyf tieners het van regoor die Noord-Kaapland mekaar in Kuruman ontmoet:
GF van Zyl van Jan-Kempdorp
Andri Longland van Augrabies
Beaula Mouton van Upington
Anke Britz van Kimberley
Anya Smith van Kuruman
Die leiers:
Ds. Neeltjé van Staden
Ds. Annatha Nel
AJ Nel
Klein Jacobus Nel (spanbestuurder)
As groep het ons deur die venster van Efesiërs gekyk. Ons het gekyk na die vroeë kerk onder konstruksie en in die proses saam gebou aan ons geloof. Die groep was elke dag in kontak met die jeug van die gemeente in Tsabong en het saam die geleentheid gehad om in die gemeenskap te kuier. Die groep het in hulle tyd by die gemeente ook fisies gehelp met die gooi van ’n stoep en die skoonmaak van die kerkterrein.
Ons is oorval met die vrede en liefde van die gemeenskap. ’n Onbeskryflike vrede met God en met mekaar.
JONK NK bedank elke persoon wat ’n bydrae gemaak het om die geleentheid moontlik te maak. Ons het teruggekom met wonderlike nuwe vriende en soveel nuwe drome.
(Ds. Annatha Nel – NG Kerk Hartskroon:JONK #Re-Imagine Uitreik na Tsabong Botswana)