Na besoek uit Nederland van verteenwoordigers van die “Kinderfonds Mamas Projek” in Suid-Afrika aan Caritas Gemeenskapsfokus NPC in 2017, was ons verras en baie dankbaar dat hierdie organisasie besluit het om deur middel van die VKO Sentrums van Caritas by die kinders van die Noord-Kaap betrokke te raak. Daar is besluit om kinders in vyf gemeenskappe wat deur die VKO Sentrums opleiding ontvang het en nou leerders aan dagskole is, verder te begelei deur middel van naskoolse programme wat aangebied word deur ’n ouer persoon – genoem ’n “Mama”. ’n Sesde gemeenskap is intussen ingeskakel by die projek. ’n “Leier-mama” is in elkeen van die 6 gemeenskappe geïdentifiseer. Elkeen het weer met 5-6 vroue (totaal van 36) wat onder die leier-mama se leiding, in die gemeenskap waar hul woon, naskoolse ondersteuning aan kinders gee. Dit alles geskied onder toesig- en begeleiding van Caritas personeel wat verantwoordelik is vir gemeenskapsontwikkeling. Hierdie projek gee ook uitvoering aan die aanbevelings van die navorsingsverslag in verband met die invloed van VKO Sentrums op die gemeenskap soos opgestel deur drr. Elize Smit en Marichen van der Westhuizen.
Hierdie projek geniet finansiële ondersteuning uit Nederland. Die administrasie en finansiële bestuur van die projek word deur Caritas gebied. Die projek bied selfs ’n ideale geleentheid vir lidmate van die Kerk om by die opheffing van die gemeenskap betrokke te wees – soos wat dit reeds gebeur!
Die bedoeling is dat die aantal “Mamas” moet vermeerder, die aantal kinders wat bereik word moet groei en ons vertrou dat die aanvangsperiode van drie jaar verleng sal word soos wat die resultate blyk tot voordeel van die kinders te wees! Die ses gemeenskappe waar die projek vanuit die VKO Sentrums in 2018 afgeskop het, is Strydenburg, Hopetown, Postmasburg, Marchand, Augrabies en Petrusville.
Foto: Caritas Gemeenskapsfokuks NPC het onlangs hierdie wonderlike dames opgelei in Gemeenskapsontwikkeling by Renosterberg te Petrusville.
(Artikel met dank en erkenning aan Caritas Gemeenskapsfokus NPC)