Die ring van Hopetown het tydens die ringsitting van 2018 ’n teologiese gesprek gehad oor die situasie waarbinne die kerk tans verkeer. Die rede vir dié tema is dat in Noord-Kaapland groot benoudheid is oor die toekoms van die kerk.
Dr. Fanie Cronjé het tydens die geleentheid as spreker en gesprekleier opgetree. Hy het gesê dat die realiteit is dat die kerk juis in soortgelyke omstandighede sy eerste treë gegee het. Al verloor ons aan die kwantitatiewe kant, kan ons – met die regte gesindheid – aan die kwalitatiewe kant wen.
Cronjé het die uitbreiding van die Christelike geloof vanaf die stad Antiochië, met ’n sterk argument vir die “ontploffing” van die Christelike geloof vanuit ’n sosio-kulturele perspektief, as verwysingspunt geneem. Hy het ook aangesluit by die omstandighede rondom die na-ballingskap se gemeenskap in die Persiese provinsie Jehud.
Drie beslissende momente in die geskiedenis van die volk van God is uitgewys as verwysingspunte, naamlik die val van Jerusalem in die jaar 587/586 v.C., nuwe moontlikhede wat oopgaan na die Persiese verowering van Babel (539 v.C.) en die vernietiging van die Jerusalem-tempel in die jaar 70 n.C.
Ons het vanuit ’n Bybelwetenskaplike kyk gesien hoe ongunstige omstandighede deur eeue heen ten gunste van geloofsgemeenskappe getel het. Die vraag is nou: Wat ontdek ons uit hierdie perspektief op die groter Bybelse verhaal?
Cronjé het ten slotte saamgevat:
“Om te bid vir en te vertrou op ’n regering en ’n president met integriteit is belangrik en dit bring hoop. Om te hoop op gunstige ekonomiese omstandighede waarin armoede afneem en rykdom meer regverdig versprei word, is eweneens belangrik en ook dit sal beslis vir baie mense moed laat skep. ’n Dramatiese afname t.o.v. alle vorme van misdaad sal meeste Suid-Afrikaners se gemoed ligter maak, ’n algemene gevoel van welwese ten gevolg hê en ’n gees van optimisme onder ons laat posvat.
Maar is dit die primêre dinge waarin ons hoop lê? Is dit dinge wat ’n egte en volhoubare verandering in ons gemeenskap en in ons gemoedstemming te weeg sal bring? Op grond van die groter Bybelse verhale en in besonder t.o.v. die getuienis van Israel en die eerste Christene onder traumatiese krisis-omstandighede, betwyfel ek dit.
Die Bybel getuig dat mense moed skep en dat heil in die gesigsveld kom wanneer gelowiges se woorde en daad in die Here se verbintenis aan hulle, in sy genade en sy verlossing gegrond is. Mens verloor moed en onheil oorval die gemeenskap wanneer selfs gelowiges meedoen aan byvoorbeeld onreg en gierigheid, terwyl hulle uitsluitend, onvergewensgesind en genadeloos optree. ’n Gemeenskap herstel nie wanneer selfs die Here se mense skuld verplaas.
Waarom voel ons ontredderd en moedeloos? In die lig van Miga wil ek sê omrede nie net ons land se leiers se handel en wandel gekenmerk word deur onreg, gierigheid, wetteloosheid en korrupsie nie, maar omrede ook gelowiges al te dikwels hierdie soort gedrag openbaar. Ons beleef nie net onreg van buite nie, maar ook van binne, ook in die Ned. Geref. Kerk.
Gelowiges beleef onderling dikwels te min lojale goedheid, geregtigheid, genade en vergifnis. Nie-Christene beleef in ons teenwoordigheid gans te min van God se universele lojale goedheid, geregtigheid, genade en vergifnis. Daarom is baie mense in Suid-Afrika moeg, moedeloos, terneergedruk en hooploos.
Mense gaan moed skep tot die mate wat gelowiges in verbondenheid aan die Here se lojale goedheid leef. In soverre gelowiges dit egter nié doen nié, gaan Miga 7:1-6 waar bly van ons kerk en ons land.
Herstel, genesing, vernuwing en vervulling is gegrond in die Here wat Hom aan alle mense verbind se skeppende, verlossende en ruimte gewende dade. Dit is nie iets wat ons doen nie. Dit is wie ons in Christus Jesus is. Ons word nie opgeroep om meer godsdienstig te word, meer te glo of harder te probeer nie. Ons is geroep om in die lig van ons posisie in Christus, in nederigheid met God te wandel. Mense wat verstaan wie God is en wat Hy in Christus vir ons doen, leef geregtigheid en is verbind tot lojale goedheid.
Omdat die Here as die enigste God Hom aan alle mense verbind, word ons geroep om soos die eerste Christene geregtigheid en lojale goedheid teenoor alle mense en oor alle grense heen te leef. Ons word geroep om soos die Kneg van die Here in Jesaja 53, op te hou om skuld te verplaas, maar skuld te dra en lyding te verduur. Wanneer ons dit doen, word dit sigbaar dat die Here alle mense roep om in nederigheid met God te wandel.”