In die volksmond praat die mense in Noord-Kaapland van die Oog Gemeente as na die Ned. Geref. Kerk Kuruman-Die-Oog verwys word.
“Oog Gemeente gee om vir ons boere en wil hulle graag bederf met ’n boeredag, gefokus op die boer” sê ds. Christo Jonck van Oog Gemeente. Christo verwys na ’n onderhoud waarin Fanie Kriel vir Christelle Webb-Joubert van RSG sê dat hy nie meer wil praat oor mense wat met droogte geteister word nie. Hy “wil praat oor mense wat emosioneel en fisies besig is om dood te gaan”.
Die Ned. Geref. Kerk Kuruman-Die-Oog reël ’n Pitkos Boeredag wat op 19 September 2019 by die GWK Veilingskrale te Kuruman plaasvind. Die dag skop om 09:00 af met koffie en beskuit waartydens die registrasie sal plaasvind. Direk hierna sal ’n biduur vir die nuwe seisoen gehou word.
Verskeie bekende sprekers tree tydens die boeredag op.
Dawie Roodt en Willem Basson van die Efficient Group sal oor die ekonomie praat.
Fanie Kriel, ’n gereelde spreker op RSG en pastorale sielkundige, praat oor: “Om boer te wees het jy drie essensiële dinge nodig nl. Water, Geloof en Hoop… hoe gaan ek aan as ek nie een meer het nie?”
Christelle Webb-Joubert van RSG het in Julie 2019 op die program Geestesgesondheid met Fanie oor die uitwerking van droogte op die emosionele welstand van die boerderygemeenskap gepraat. Jy kan na ’n potgooi van die gesprek luister of dit aflaai deur op die volgende skakel te klik: Die uitwerking van droogte op die emosionele welstand van die boerderygemeenskap.
Die Pitkos Boeredag sal met ’n heerlike steak ete afgesluit word – die ete is gratis!
Ds. Jonck sluit met ’n uitnodiging aan alle boere: “Kom woon die boeredag by en gee ons die kans om jou te bederf”.
Navrae:
Ds. Christo Jonck   082 948 2017
Mnr. Jan Joubert   073 303 6786
(Prentjie met erkenning aan pixabay.com)