Nou sien ek weer kans vir die droogte!
Elkeen wat hier was het vandag ’n treë nader aan die Here gegroei.
Ons is vandag bederf.
Die beste Boeredag wat ek nog bygewoon het.
Dit is van die opmerkings gemaak deur van die 174 boere wat die Pitkos Boeredag in Kuruman bygewoon het. Die dag is begin met Boeretroos en beskuit tydens registrasie. Daarna het 63 boere van die geleentheid gebruik gemaak om gratis hul bloeddruk, bloedglukose, cholesterol en prostaat toetse deur Pathcare en Arrie Nell se apteek susters te laat doen.
Die dag is nie net met Skriflesing en gebed geopen nie, maar met ’n biduur vir die seisoen gelei deur ds. Kobus van Tonder. Sy tema was: Om die beste te doen in die slegste tye: Blom waar die Here jou geplant het.
Dr. Fanie Kriel het die tema hanteer van Water, Geloof en Hoop. Hoe gaan ek daarsonder aan. Sy woorde: “Die Here het nie emigreer en ons alleen hier gelos nie” het by my vasgesteek.
Dawie Roodt en Willem Basson van die efficient groep het met die boere gepraat oor wat in die finansiële wêreld aan die gebeur is.
Toyota het pette uitgedeel, verskeie pryse is geborg deur Wurth en Agri mark.
Twee kontant geskenkbewyse is uitgedeel en boere kon ook raai wat ’n slagvers sou uitslag. Die wenner het ’n prys van Excelsior abattoir ontvang.
Die dag is afgesluit met ’n laaste bederf, ’n heerlike aansit steak ete geborg deur Karan beef. ’n Plaaslike gaskunstenaar PG Groenewald het musiek gemaak vir die boere tydens die ete.
Die reën kom, ons geloof het gegroei en ons het mekaar weer hoop gegee.
Foto v.l.n.r. Christo Jonck, Dawie Roodt, Willem Basson, Fanie Kriel en Jan Joubert.
(Ds. C. Jonck – NG Kerk Kuruman-die-Oog)