Met die eerste oogopslag van die kaart van Noord-Kaap lyk dit asof ’n groot brand vanaf die weste na die ooste oor Noord-Kaap beweeg.
Kaart: Die indeks van die toestand van die plantegroei (Vegetation Condition Index), die afgelope 23 jaar se data, bevestig die droogte toestande soos wat dit op grondvlak waargeneem word.
Die sinode in Noord-Kaapland het ’n ad hoc taakspan gemeenskapsversorging as gevolg van die droogte daargestel. Die taakspan bestaan uit ds. Kobus van Tonder, ds. Marais Kluge, me. Hanelie van Tonder, ds. Christo Jonck, lede van Agri Noord-Kaap, lede van Kerksondermure en. ds. Fritz Potgieter (Geref. Kerk Bloemfontein).
Mnr. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het twee weke gelede tydens ’n vergadering van taakspan diakonaat van die sinode in Noord-Kaapland verduidelik dat hulle ’n formule het van hoe hulle die effek van die droogte op die landbou meet. Dit was ontstellend om te hoor hoeveel grond in slegs ses maande in die kategorie van wat hulle ’n “prolonged drought” noem, geplaas is. In April 2019 is 10 000 plase of 21 miljoen hektaar in die ergste kategorie geplaas. Dié getal het in slegs ses maande se tyd, in Oktober 2019, opgeskuif na 15 500 plase of 58 miljoen hektaar.
Janine Byleveld van Agri Noord Kaap het tydens die vergadering van diakonaat gesê dat op die stadium reken hulle dat in die sinode in Noord-Kaapland:
20 distrikte t.o.v. die droogte as kritiek beskou kan word, naamlik Brandvlei, Van Wyksvlei, Olifantshoek, Vosburg, Strydenburg, Kenhardt, Noenieput, Askham, Hotazel, Britstown, Prieska, Vanzylsrus, Dibeng, Griekwastad, Postmasburg, Daniëlskuil, Carnarvon, Williston, Loxton en De Aar.
11 distrikte t.o.v. die droogte as redelik beskou kan word, naamlik Hartswater, Jan Kempdorp, Warrenton, Barkly-Wes, Kimberley, Orania, Philipstown, Petrusville, Hanover, Upington en Delportshoop.
7 distrikte t.o.v. die droogte nog kan aangaan – die distrikte waar daar uit die Oranjerivier besproei word.”
Kollegas van die NGKA Phororo het tydens ’n gesprek van NG Kerk Familie in Noord-Kaapland by die sinodale sentrum van die NG Kerk in Noord-Kaapland vertel dat daar gebiede is waar slegs 3% van hulle lidmate vaste werk het. Die ander kry óf staatstoelaes óf het geen inkomste nie. Hulle het getuig dat sommige van die leraars geen salaris meer ontvang nie. Sommige gemeentes kan die leraars slegs met hulle reiskoste help sodat hulle hulle werk kan doen. Die moderatuurslede van die NGKA Phororo sê dat die gemiddelde kollekte op ’n Sondag tydens eredienste in NGKA Phororo gemeentes slegs R200 bedra.