Vanzylsrus is nog die een oomblik besig om fondse in te samel en mense te mobiliseer om te help om verligting te bring vir die uitmergelende droogte dan is die volgende pandemie hier.
Totale inperking is een van die goed wat die mense in die Kalahari gedink het net in geskiedenisboeke of in die buiteland bestaan en toe ons ons oë uitvee hoor ons die staatspresident se aankondiging dat net uiters belangrike dienste gelewer mag word, die res van die land moet by hul huise bly.
In die reeds oorvol nedersettings waar armoede heers, is broodgebrek by baie huise nou ’n gegewe.
Sonder om te vra, het mense van oral spontaan hulp aangebied; ’n vrag vrugte en groente van die Wes-Kaap, blouwildebeeste, ’n bewerkte bees en 70kg. maalvleis asook mieliemeel wat nog van ’n vorige skenking oor is. Ander het kontant gegee waarmee ons die kospakkies kon aanvul.
Op Maandag, 27 April 2020 het lede van die kerkraad van Ned. Geref. Kerk Vanzylsrus en hulle gesinne, gemeenskapslede en lidmate van El-Shaddai, ’n verteenwoordiger van Sosiale Ontwikkeling en die SAP bymekaar gekom en 140 pakkies gepak en uitgedeel.
Hierdie is weereens ’n bewys dat ons maar net instrumente in God se hande moet wees. Hy voorsien!
Ons bid en vertrou dat hierdie nie ’n eenmalige gebeurtenis sal wees nie, maar dat ons binne die volgende maand weer in staat sal wees om kospakkies te kan versprei.
Aan God die eer.
(Hanelie van Tonder: NG Kerk Vanzylsrus)