… Mag daar altyd mense wees
Baie dankie voel altyd so min om te sê, maar uit ons hart waardeer ons elke skenking opreg!
Net wanneer ons dink nou kan ons nie meer nie, dan word daar engele oor ons pad gestuur…
Elke bietjie maak dit vir ons ook makliker om ons kontantvloei-krisis te verlig. Om dalk die maand die pakkie ‘sjokolade’ wat maar op die rak moet bly lê, dan te koop. Soos die molasse-stroop wat ons oor die droë grasbale vir die skape gooi, om dit vir hul ook aangenamer te probeer maak om te vreet.
Baie dankie

Mag die bome altyd groen bly
en die sterre wit,
en mag daar altyd mense wees
wat mekaar sonder skaamte
in die oë kan kyk –
…want die lewe is ’n asem lank
en die sterre op die Anderplek donker.
(Met erkenning aan: Breyten Breytenbach)
Foto met toestemming verskaf: Chrismari Batt (Boervrou Loeriesfontein)

…Dankie Vader vir vreemde mense wat U oor ons pad gestuur het
2020, net soos die 8 jaar voor dit, bring steeds net droogte. Met droogte dink ’n boer nie aan blaarslaai en blomkool of tamaties nie. Hulle dink in voersak of liters diesel gewys. Met R500 kan jy dalk 2 sakke pille koop vir die honger skaap. Ek as boervrou is al gewoond aan rek, om die tamaties of groente dingetjie te maak pas. Vir luukshede is daar geensins geld nie. Die rek is ook net so lank… Dit is boerdery, die beroep wat ons gekies het en waarvoor ons so lief is dat ons eenvoudig uithou en aanhou…
Laas jaar was ons op ’n punt waar daar geensins lig in die tonnel is nie… daar waar jy begin beplan vir as die bank jou gaan bel… In ons donker tonnel is daar ver ’n liggie maar in ag genome ons posisie besef ons dit moet die aanstormende trein wees.
Uit die bloute kom daar hulp van onbekende weldoeners wat meer as broodmeel en ’n vleisie op my tafel wil kom sit. Ek en manlief is verslae dat daar nog soveel omgee goedheid in die wêreld is. Daardie hulp was ons liggie van hoop in die donker tonnel en nie die trein nie.
Sien ek besef vandag weer. My ma het altyd gesê, My kind as die lewe jou op jou knieë dwing… is dit dan nie die beste plek om te wees nie?
Dankie Abba Vader vir vreemde mense wat U oor ons pad gestuur het om ook ons hand in hierdie uitmergelende droogte te kom vat sodat ons weer hoop kan hê, al is dit net vir 1 maand.
Boesmanland groete

…Ds Attie Botha sê: : Dit gaan rof in Brandvlei
Dit gaan rof in Brandvlei! Dit is droog, kurkdroog! Ek begin binnekort my derde jaar in hierdie gemeenskap. As ek met van ons boere gesels is daar ’n verstaanbare moedeloosheid en toekomsonsekerheid. Dit staan winter se tyd toe. Niemand het ordentlike, standhoudende reën ontvang nie. As predikant word ek altyd bemoedig deur die Brandvlei boere se verwagting: Ds, dalk môre! Dalk volgende week! Dalk ’n lekseltjie winterreën saam met Calvinia! Miskien volgende seisoen! Ons weet die reën is op pad!