Introspeksie – ’n woord of gedagte waaraan min van ons aandag gee. By die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit het hierdie woord weer betekenis gegee aan die uitdrukking ‘spirituele retraite’. Hier waar jy jouself en God weer vind. Waar die alledaagse geruis en gedruis uitgeskakel word en jy weer een word met jou Skepper. Waar Hy jou siel weer vernuwe en jy een raak met God. Waar jy toegee aan die stilte en God weer hoor. Waar rus, stilte en afsondering weer vir jou tyd alleen gee met God. Waar jy werklikwaar weer spiritualiteit ervaar.
Gedurende die week van 16 tot 20 Augustus, het die Kantoor vir Predikantebegeleiding in die sinode van Wes-Kaapland (met dankbaarheid aan die ad hoc taakspan vir gemeenskapsversorging van die NG Kerk in Noord-Kaapland) saam met Theunis Botha as PSD, ’n groep van 16 predikante en hulle gades vanuit die Noord-Kaap genooi om hulle te laat versorg deur te rus by dié Sentrum op Wellington. Dis is dan ook hier waar hulle tyd uit hulle besige skedules geneem het om net weer stil te word voor die Here, te luister en te ‘hoor’.
Droogte, Covid-19, personeelvermindering en die armoede in die plattelandse gemeenskappe plaas groot druk op die predikante van dié deel van die land wat baie swaar kry. By die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit kon hulle weer deel word van die ritme van die Sentrum deur kapelsessies, stilte, gebed en afsondering voor die aangesig van God.
En wat ’n besondere ervaring was dit nie! Die Vrouebediening van Wes-Kaapland het gesorg dat elke persoon ’n spesiale geskenkpakkie kry met hulle aankoms. Dr. Pieter van Jaarsveld het ook ’n praatjie aangebied oor emosionele intelligensie en die versorging van jouself. Vrye tyd is spandeer deur legkaarte te bou en kreatiewe kunsprojekte. Ook met lekker kuier, gesels en sommer net ‘wees’.
Dit was ook ’n emosionele tyd. Ds. Henry Williams van De Aar-Noord Gemeente het sy vrou Erika, aan die dood afgestaan. Erika het sommer op die eerste dag diep in almal se harte ingekruip met haar borrelende persoonlikheid en liefde wat sy uitgestraal het.
Andrew Murray se woorde bly ons by: ‘May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and His love’.
Wees stil en wees.
(Esté van der Merwe: Bemarkingsbestuurder – Caritas Gemeenskapsfokus NPC)