Op die naweek van 20 tot 22 Augustus het die tweede kursusgroep vir die Kerklike Diploma vir Bedienaars in Prediking & Erediensvaardighede, onder leiding van prof. Hannes Knoetze van die Teologiese Fakulteit Pretoria, in Kimberley afgeskop.
Dit was ’n uitsonderlike geleentheid en geestelike belewenis vir die 12 ouderlinge en een emeritus wat dit bygewoon het. Die studente is wydverspreid oor die sinodale gebied van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland: Joa Bekker en Rence-Marie de Waal (Upington), Lourens de Jager (Philipstown), Gerrit Fyver (Kathu), Willem Janse van Rensburg (Piet Plessis), Nicolene Kotze (Deben), Leonie Laubscher en Erika Lubbe (Prieska), Hennie Lombaard (Grootdrink), Hannes Pretorius en Cor van Graan (Mahikeng), asook ds. TC du Toit (emeritus-leraar betrokke by opleiding van studente en leraars van die DRC in Botswana.)
Met die kleinerwordende getal leraars in die bediening in die Noord-Kaap en gemeentes wat nie kan volhou om leraars te bekostig nie, is die behoefte aan opgeleide kerkraadslede wat die Woord kan verkondig tans groot. Die bogenoemde jaarlange kursus van die Hugenote Kollege is weldeurdag en geskied hoofsaaklik deur afstandsonderrig, met drie kontaksessies.
Prof. Knoetze se spesifieke benadering en aanbieding van die inleiding van die kursus, het meegebring dat die naweek nie net ’n akademiese geleentheid was nie, maar ’n ware ontmoeting met die Here en mekaar. Die boodskap van ouderling Cor van Graan op die studente WhatsApp-groep is hiervan ’n bevestiging:
Ek dink met dankbaarheid terug na verlede week se kursus in Kimberley. Dit was vir my baie besonders om julle te ontmoet en saam met julle te leer en te aanbid. Dit is soos om by Jesus se voete te kon sit om van Hom te kan leer. Mens kan daarvan nie genoeg kry nie. Dit was vir my werklik ʼn baie spesiale naweek.
Tans is die studente in groot afwagting op die eerste sewe take wat deur hulle, onder leiding van mentors, op die Hugenote Kollege se My Notes-platform gedoen moet word. Moenie hierdie inisiatief en studente in u voorbidding vergeet nie. In die uitdagende tye waarin ons leef kan hierdie poging uiteindelik die kerk dien op ‘n dieper en groter manier as wat ons tans vermoed.
(Ds. TC du Toit)