Barmhartigheidsbediening – diakonaat – missionêr

GESPREKSRIGLYNE VIR GEMEENTES EN KERKRADE NA AANLEIDING VAN ’N DIAKONALE KONFERENSIE MET DIE OOG OP BESINNING OOR ’N LEWENDE, AKTIEWE BARMHARTIGHEIDSBEDIENING (DIAKONAAT) IN EN VANUIT (MISSIONÊR) ELKE GEMEENTE

1. ORIËNTASIE
Die verslag beoog nie om ’n volledige referaat oor diakonaat te wees nie. Die verslag dien slegs opsommend tot die inhoud van aanbiedinge deur ds. WC van der Merwe tydens die Gemeentelike Diakonale Konferensie, 11-13 Maart 2011 te Deo Gloria. Die opsomming word aangebied in die vorm van moontlike gespreksriglyne vir gemeentes wat verkenning wil doen rondom hul eie posisie t.o.v. diakonaat. Aanvullend tot die insette van ds. WC van der Merwe, is daar ook notas oor ’n praktykmodel wat deur die NG Welsyn aangebied is, naamlik die vestiging van Early Childhood Development Centre’s.

2. WAT BEDOEL ONS MET GEMEENTELIKE DIAKONAAT
Diakonaat is ’n dinamiese konsep waaroor daar tussen kerke en gemeentes wêreldwyd en ook plaaslik, nie noodwendig eenstemmigheid is oor die unieke aard daarvan nie. Wat is byvoorbeeld die verskil tussen barmhartigheidsdiens, welsyn, alimentasie en diakonaat?
Skriftuurlik ontdek ons selfs meer nuanses. In die Ou Testament vind ons die woord chesed wat na God se verbondsliefde of verbondstrou verwys (Eks. 34:6). In die Nuwe Testamentiese verwys die stamwoord van barmhartigheid na baarmoeder (toevou, beskerm) en wys dit op die eensgesinde medelye van een party teenoor ’n ander. Dit is om in iemand anders se skoene te klim; om intens betrokke te raak; om innige jammerte te openbaar (Luk. 10:33). Die woord diakonia in die NT verwys in sekere gevalle na die bediening van die Woord, terwyl dit in ander gevalle na die bediening van versoening en geregtigheid verwys.
Waaroor ons wel duidelik kan wees, is dat diakonia na die kenmerk van liefde in ons Hemelse Vader verwys en soos wat hierdie liefde spesifiek uitdrukking gevind het in die verlossingwerk van Jesus Christus.
’n Verdere verruiming van die term diakonaat, is om in die Skrif raak te sien dat barmhartigheid en geregtigheid saam hoort (Ps. 146:7-0; Miga 6:6-8). Geregtigheid is om reg te laat geskied aan God se wil en God se karakter van liefde, trou en barmhartigheid.
Werêldwyd blyk daar tog ’n neiging te wees in die rigting van die gebruik van die term deernis as ’n oorkoepelende term vir diakonaat, barmhartigheid, welsyn. Hierdie term mag dalk ook in ’n SA konteks effektief te wees as ’n versamelnaam vir kerklike inisiatiewe rondom diensbaarheid en versorging.
Riglyn vir gesprek in die gemeente:

  • Wat verstaan ons in ons alledaagse funksionering as gemeente onder die terme diakonaat en barmhartigheid en is daar ’n verskil?
  • Hoe ver strek ons diakonaat/barmhartigheidsbewys tans (die grense in en of  buite die gemeente)?
  • Is ons tevrede met die Skrifbasering van ons plaaslike diakonaat/barmhartigheidsbediening, of behoort ons beter onderlê te word in die Skriftuurlike opdrag tot diakonia?

3. EREDIENS EN AANBIDDING
God Drie-enig is die “gemeenskap van perfekte liefde”. Vanuit ons aanbidding van God (diens aan God) vloei ons diens aan mekaar. Hierdie samehorigheid of koinonia manifesteer in onderlinge sorg en verbondenheid. In die erediens word ons toegerus om die onderlinge sorg ook na die wêreld te neem, soos wat Christus gedoen het. Daarom het koinonia en diakonia alles in gemeen. Barmhartigheid het sy oorsprong in die erediens, spesifiek in die nagmaal en in gemeenskap met God en mekaar.
Riglyn vir gesprek in die gemeente:

  • Is die erediens ’n plek waar ons samehorigheid en sorg op ’n persoonlike vlak ervaar?
  • Bied die erediens voldoende toerusting en aansporing tot diakonaat en barmhartigheid?
  • Dra die erediens die karakter van gestuurdheid?

4. MEER AS PROJEKTE
Vanweë die verband tussen diakonaat en geregtigheid, sluit dit ook die gemeente se publieke getuienis t.o.v. onreg in die wêreld in. Diakonaat gaan oor die skep van regverdige verhoudinge in die kerk en in die samelewing in die breë. Daarom kan diakonaat nie net ’n projek wees wat sommige lidmate betrek nie, maar die ingesteldheid en roeping van ’n totale geloofsgemeenskap. Diakonaat is geloof wat in dade oorgaan, en soms word hierdie dade in terme van projekte uitgeoefen.
Diens van geregtigheid sluit in dieselfde sin aan by die sorg vir die behoud van die skepping (ekologie) in. Hierdie fokus verbreed selfs die verstaan van diakonaat selfs verder.
Riglyn vir gesprek in die gemeente:

  • Is daar opsigtelike voorbeelde van onreg in die plaaslike gemeenskap?
  • Is die gemeente aktief betrokke by die aanspreek van hierdie onreg?

5. GESTALTES VAN DIE KERK
In die teorie blyk dit dat daar ses gestaltes is wat die kerk in die wêreld aanneem:

  • Erediens
  • Gemeente
  • Denominasie
  • Ekumeniese kerk
  • Individuele Christene in vrywilliger organisasies
  • Individuele Christene in daaglikse rolle

Dit is veral t.o.v. laasgenoemde dat die kerk veral ag kan slaan op die toerusting van elke lidmaat in die amp van gelowige. Diens en getuienis, diakonaat, barmhartigheid, geregtigheid, deernis, al hierdie nuanses van die Woord en daad karakter van die Evangelie, word dan die roeping van elke gelowige om gestalte te gee aan die kerk in die wêreld.
Hierteenoor het die kosbare roeping van elke gelowige deur die geskiedenis onder bedreiging van ’n paar realiteite verval:

  • Die institusionalisering van diakonaat
  • Die verprofessionalisering van diakonaat
  • Die kerk-staat verhouding en vennootskappe
  • Die skeiding van diakonaat en sending vanweë funksionele en ideologiese redes
  • ’n Gemeentesentriese benadering tot diakonaat
  • ’n Eng siening van sending

Die uiteindelike effek van hierdie en sekerlik nog ander werklikhede, het tot die vernouing van kerklike diakonaat bygedra. Die tendens van ’n missionale teologie en spesifieke fokus op die missio Dei sedert die laaste helfte van die vorige eeu het wêreldwyd bygedra dat die kerk opnuut besin oor sy roeping t.o.v. diakonaat. Hierdie gesprek is tans besig om die kerk opnuut te bring by die beklemtoning van die amp van die gelowige. Globalisering, sosiale ongeregtigheid, armoede, die ineenstorting van die ekonomie en talle ander kontekstuele werklikhede van die wêreld waarin ons leef, maak ’n nuwe appèl op die getuienisroeping van die kerk en van elke gelowige. Daar is ’n hulproep vir “diakonale gemeentes” om die koninkryk van God wat ’n koninkryk van geregtigheid, van barmhartige sorg, deernis en liefde is, ’n koninkryk van verlossing te laat kom in benoudende omstandighede.
Riglyn vir gesprek in die gemeente:

  • Tot watter mate is diakonaat/barmhartigheid nog maar net ’n projek(-te) in ons gemeente?
  • Is barmhartigheid nie ’n gawe waaroor net sekere lidmate beskik nie?
  • Wat is ons presiese teologiese begrip/verstaan van die missio Dei?

6. GEREED VIR TRANSFORMASIE
Die konferensie het onder die volgende tema plaasgevind: “Ons gemeentes se harte is reg, maar ons voete is lomp.”
Die tema op sigself dwing tot selfondersoek. Is ons harte waarlik reg t.o.v. die nood, die onreg, die armoede, die siekte, die sonde van die wêreld rondom ons? Wat is dit wat ons harte transformeer tot gereedheid? Is ons ontvanklik vir die duidelike oproep van die Evangelie oor die saak van diakonaat?
Riglyn vir gesprek in die gemeente:

  • Wat is die dinge wat dit vir ons harte moeilik maak om paraat en bereidwillig te wees?

7. PRAKTYKMODEL
Ons waak teen professionalisering van diakonaat terwyl ons terselfdertyd gryp na professionele hulp wat tot beskikking is in ons onmiddellike ooreenkoms met NG Welsyn. NG Welsyn het die vroeë ontwikkeling van kinders as ’n kritiese area geïdentifiseer en daarmee ’n praktykmodel begin ontwikkel en vestig wat haalbaar is vir enige gemeente om in gemeenskapsverband tot stand te bring en volhoubaarheid te verseker. Die model fokus dus op voorkoming eerder as behandeling en reik veel verder as net kleuters en jong kinders. Die vestiging van ’n “Early Childhood Development Centre” (ECDC) het ten doel om potensieel om ’n hele gemeenskap te bereik. Die ECDC is net die basis van ’n legio moontlikhede om nie net nood te voorkom nie, maar ook effektief en konstruktief aan te spreek.
NG Welsyn kan aktief aan gemeentes leiding gee in die inisiëring van sodanige sentrum in die gemeenskap wat ’n basis kan word vir diakonaat op plaaslike vlak.