Deben

Beginjare

Die plaas Deben is in 1906 deur die departement van landbou aan John Sutherland toegeken. Saam met hom het Hendrik de Villiers in ’n hartbeeshuisie op die plaas gewoon.
In Tswana beteken Deben (uitgespreek Dibeng) “drinkplek” of “eerste drinkplek”. Dit is waarskynlik so genoem omdat die reisigers vanaf Kuruman water op Deben kon kry en dan weer op Dedeben (tweede drinkplek). Op 15 Mei 1909 het die ringskommissie vergader in die huisie van Jan en Sannie de Villiers, en is die gemeente Deben gestig. “De grenslynen zijn: de politieke lijnen van het geheele distrik van Kuruman”. Dit het destyds die hele tans bestaande afdeling van Olifantshoek en die grootste deel van die distrik Postmasburg ingesluit.
Die nuutgestigte gemeente het oor geen grond, geboue of geld beskik nie. Die gemeente het met stigting 400 lidmate gehad en die jaar daarna het dit gegroei tot 800 lidmate. In 1914 was die gemeente Deben die vyfde grootste gemeente in Kaapland, met ’n sieletal van 4,400 en 1,600 lidmate. Dié groei was daaraan te danke dat baie mense uit die Vrystaat en die Kaapse Kolonie hulle aldaar kom vestig het. Grond was goedkoop en maklik bekombaar.
’n Groot tent is deur die kerkraad aangekoop wat van plek tot plek, waar dit nodig was vir dienste, vervoer is – dít was die koster se verantwoordelikheid. Vir die eerste twee jaar het die konsulent, ds. PT. Stroebel van Griekwastad, bygestaan deur eerw. Krynauw, die gemeente bearbei.
Na die stigting van die gemeente is eerw. Krynauw as tydelike werker aangestel. Eerw. Krynauw het sy intrek op Rietkloof , naby Olifantshoek geneem, waar ’n geboutjie opgerig is om as pastorie te dien. Die gemeente was vir sy salaris van £180 per jaar verantwoordelik.
Die eerste predikant van die gemeente, ds. JN Geldehuijs, is te Olifantshoek op 12 Augustus 1911 bevestig. Hy het vir bykans 2 jaar op Rietkloof, ’n plaas van mnr. JJ van der Merwe in die Langeberg, 9 myl van Olifantshoek, gebly.
Die gemeente het op hierdie stadium drie hoof “kerkplaatzen” gehad, nl. Deben, Olifantshoek en Kuruman. Nagmaal is al om die derde maand gevier. “Ieder plaats had zijn eigen aanneming, bazaars enz.” Vir die eerste 5 jaar is eredienste in ’n groot tent, wat met bokseile vergroot is, te Olifantshoek en Deben gehou. By Kuruman is die eredienste onder die bome by die magistraatskantoor gehou. Die predikant het ook sy tentjie gehad wat tydens kerkgeleenthede onder die bome opgeslaan is.
Aangesien die gemeente so uitgestrek was (180 myl lank en 150 myl breed) is oral in die gemeente buitedienste gehou – meestal onder die bome. Sommige mense moes 15 uur te perd aflê om die hoofdienste te kon bywoon.
In 1913 is die eerste pastorie te Kuruman, die hoofdorp en “de zetel van de Magistraat”, gebou. Die predikant het van toe af op Kuruman gebly. Op 25 Julie 1914 is die eerste kerkgebou te Kuruman opgerig en in Maart 1915 is een te Olifantshoek ingewy.
Op ’n kerkraadsvergadering van 27 Julie 1914 is besluit om stappe te neem om die gemeente in drie gemeentes op te deel. Die ringskommissie van Dutoitspan vergader op 3 Maart 1916 te Kuruman en op 7 Maart 1916 te Olifantshoek om twee nuwe gemeentes op vermelde plekke te stig.
Prop. AR Albertij is op 28 April 1917 te Deben bevestig “gedeeltelik onder den bloote hemel en de doornbomen want de kerktenten bevatte niet een derde van die opgekomen schare”.
Die eerste kerk se hoeksteen is op 28 Julie 1917 gelê. Boumateriaal is vanaf Taung met ossewaens en donkiewaens vervoer. Op 27/28 Oktober 1917 is die kerk ingewy. Die kerkgebou met banke het £1,250 gekos.
Die volgende leraar, prop. DJ Erasmus is op 1 Mei 1920 bevestig. Die restant van Deben A word nou aangekoop en staan voortaan as die Kerkdorp bekend. Die kerkraad word ook die eienaars van die hotel en die winkel. Die hotel word ingerig as pastorie.
Bronne
NG Kerk Deben 90 jaar – 13 Mei 1909 – 15 Mei 1999
Ons Kerk Album, bladsy 141
Van der Merwe, G. 1991. Ligbaken aan die Langberg; Ned. Geref. Gemeente Olifantshoek 1916-1991
Van Zyl, JJD. ’n Halfeeu van Gods genade 1909-1959
[Terug na bo]

Vandag

[Terug na bo]