Douglas

Beginjare

Na die koms eerw. Petrick van die Berlynse sendinggenootskap in 1894 na Douglas het lidmate eredienste in die kerkgebou van eerw. Petrick bygewoon.
Die gemeente is in 1897 uit gedeeltes van die uitgestrekte gemeentes van Griekwastad, Kimberley, Dutoitspan (Beaconsfield) en Hopetown gevorm. Griekwastad en Dutoitspan het tussen 300 en 400 lidmate aan die nuwe gemeente afgestaan. Ds. WF Marais van Dutoitspan is as eerste konsulent benoem.
Die eerste kerkgebou is op 12/13 November 1898 op die wal van die Vaalrivier ingewy.
Tydens die Boereoorlog, toe die gemeente nog nie ’n eie leraar gehad het nie, is die gemeente grootliks deur die plaaslike Berlynse sendeling, eerw. Petrick, bedien.
In 1903 is ds. BJ Wessels as eerste leraar bevestig. Hy ontvang ’n traktement van £345 per jaar plus brandhout. Sy opvolger was ds. CJ Grobler wat op 24 Mei 1913 bevestig is.
Die Groot Griep in die “swart Oktober” van 1918, laat kinders op Douglas sonder ouersorg, wat die daadwerklike aandag van die kerkraad vra.
Op 7 Februarie 1920 word die Ned. Geref. Gemeente Plooysburg gestig, die eerste gemeente wat van Douglas afstig. Die geweldige werklas van die leraar word hiermee verlig omdat die gemeente verklein, maar dit bring ook geweldige finansiële offers mee.
In 1913 word ’n nedersetting by Bucklands gestig, wat met verloop van tyd ook die aandag van die gemeente vra. In 1916 was daar al 100 gesinne woonagtig. Bucklands word ’n nuwe wyk van die gemeente Douglas, terwyl die kerkraad aan die einde van 1918 twee stukke grond bekom vir die bou van ’n eie kerkgebou te Bucklands.
Die gemeente word in die suide en suid-ooste deur die Oranjerivier begrens en van noord tot suid vloei die Vaalrivier vir meer as 50 myl deur die gemeente.
Die gemeente het vinnig gegroei, aangesien die besproeiingswerke langs die rivier vir honderde arm mense uit ander distrikte ’n toevlugsoord was. In 1916 het die gemeente 950 lidmate en 2,150 siele gehad.
Bronne
Ons Kerk Album, bladsy 140
Van der Merwe, G. 1997. Genade waar die groot riviere vloei – Ned. Geref. Gemeente Douglas 1897-1997
[Terug na bo]

Vandag

Die Liggaamsmodel van die NG Kerk
Die gemeente is ’n heterogene gemeente, teenoor die homogene gemeente, soos Plooysburg, wat net uit voedselprodusente bestaan. In homogene gemeentes is daar ’n baie sterk gemeenskaplike belang, byvoorbeeld na pastorale leiding. Daarom dat die rol van die leraar sterk funksioneer as herder of as vaderfiguur. In die heterogene gemeente is daar verskeie belangegroepe.
In ons gemeente is daar, ja, die voedselprodusente 30% van die gemeente), baie goed gevestigde werkersklas (GWK = 20%), baie jongmense (+ 40% van die gemeente), skoolgaande kinders, heelwat afgetrede senior burgers, ea. Elke belangegroep het sy eie verwagting, identiteit en behoeftes. Die liggaamsmodel as bedieningsmodel pas die beste in by so ’n bedieningstruktuur. Dit wil sê, geestelike leiers tree meer op as fasiliteerders en toerusters as beraders of pastorale troosters.
Die gemeente het verskeie bedieninge waar leiers verantwoordelikheid neem vir die verwagtinge van die betrokke bedieninge, soos ons grootliks teoreties op ons agenda het. Ons gemeente groei nou na hierdie ideaal wat ons daar gestel het, naamlik om as liggaam van Christus binne die diversiteit van ons gemeenskap en gemeente mense met God se genade en liefde te bedien. Hierdie is ’n baie lang proses wat tussen 15 – 20 jaar kan neem. Hierdie model het in die begin baie groeipyne, soos wat ons tans ervaar. Die rede is dat ons nie net na die leraar(s) kyk vir leiding nie, maar ook na mekaar. Die amp van gelowige kom in die model baie sterk deur. Elke gelowige is kerk in sy eie belangegroep, saam met ander belangegroepe. Uitdagend nê!
Jeugomgeegroepe (Kategese)
Sondae na die erediens, op dié Sondae soos op die jaarprogram aangedui.
Finalejaarsgroep (Belydenisklas)
Einde graad 10 doen kinders skriftelik aansoek om in graad 11 deel te wees van hierdie groep. Die leraar verantwoordelik vir die jaar se klas sal sy program en werkswyse met die ouers en kinders bespreek.
Volwassenes wat nog nie as volwasse lidmate verwelkom is nie (belydenis van geloof gedoen het nie), kan ’n afspraak met een van die leraars maak vir ’n gespreksessie.
Wyksbyeenkomste en Bybelstudiegroepe
Kontak die ouderling van Omgeegroepe vir verdere inligting oor tye en leiers van die groepe.
Omgeegroepe
’n Omgeegroep is soos ’n geestelike familie wat gereeld (weekliks/tweeweekliks) bymekaarkom om geestelik te groei en liefde na binne (geloofsfamilie) en buite (gemeenskap) uit te leef. Dis ’n Bybelse liggaamsmodel (Ef 4:11,12) wat deel van God se plan vir kerkherstel en kerkgroei is. Lidmate wat nog nie by ’n groep ingeskakel het nie, kan die ouderling van die omgeegroepe skakel.
Nuwe intrekkers
Ons verwelkom graag nuwe intrekkers so spoedig moontlik in die geloofsfamilie van Jesus. Daarom word ’n beroep op alle lidmate gedoen om hierdie persone te besoek en hulle welkom te laat voel. Die inligting kan aan die kerkkantoor deurgegee word waarna die wyksouderling hulle sal besoek en die nodige dokumentasie voltooi. Hy/sy sal dit dan weer met die kantoor opneem. Nuwe intrekkers kan ook self met die kerkkantoor skakel.
Huwelike
Skakel betyds met die leraar van u keuse vir die huweliksvoorbereiding, asook met die saakgelastigde, koster en orreliste vir ander reëlings rondom die huweliksbevestiging.
Sterfgevalle
Laat die leraar van u keuse en wyksouderling asseblief dadelik weet van enige sterfgevalle. Reël sake soos die lokaal vir die diens, tyd en koster deur middel van die begrafnisondernemer. Indien die oorledene ’n lidmaat van hierdie gemeente is, is daar geen addisionele fooi vir die orreliste betaalbaar nie. Die familie moet asseblief self vooraf met die orreliste reël.
Sinodale bydraes
Die inligting sal deur die jaar deur middel van die nuusbrief gekommunikeer word.

[Terug na bo]