Dutoitspan

Beginjare

 Die ontstaan van die gemeentes Dutoitspan (Beaconsfield) en Kimberley is baie interessant.
In 1867 besoek mnr. Schalk van Niekerk sy buurman Daniël Jacobs op die plaas De Kalk. By sy aankoms op die plaas was die kinders besig om “klip-klip” te speel. Hy sien dadelik ’n uitsonderlik steen tussen die ander klippies raak. Toe Schalk van Niekerk dit wou koop, skenk mevrou Jacobs dit. Op 12 Maart 1867 word die “blink klippie” per poskoets in ’n gewone koevert aan dr. William Guybon Atherstone op Grahamstad gestuur. Hy identifiseer dit as ’n diamant van 21,25 karaat. Die diamant, “die eureka”, is vir £500 verkoop.
’n Heelwat groter diamant word in 1869 deur ’n Griekwa, Swartbooi op die plaas Sandfontein naby die Oranjerivier in die distrik Hopetown opgetel. Dié kleinood was die beroemde “Ster van Suid-Afrika” (83,5 karaat) wat later vir £11,500 by mnr. van Niekerk gekoop is.
Dadelik is met prospekteerwerk begin en baie geluksoekers het hulle na Hebron gewend. Orals is vir diamante gesoek en op ’n pan wat aan mnr. Du Toit behoort het, is diamante gevind – vandaar die naam Dutoitspan. “Mettertijd werd dit gedeelte van de Diamantevelden De Beers Kompanjie”. Aangesien baie mense na die gebied gestroom het, het die kerk dit nodig geag om in hul geestelike behoeftes te voorsien.
Die eerste arbeider was ds. AD Luckhoff van Colesberg. Hý het na die gebied gegaan omdat ’n myn by Colesberg koppie geopen het. “Een klompie Colesbergse lieden, waaronder de heer Theodore Maeder, klerk eertijds te Philipstown, Magistraat Fleetwood Rawstone en de heer Meijer de Kock, later doodgeschoten door de Boeren, omdat hij het plan aan de hand gaf om de vrouwen in kampen te koncentreren, gingen in die buurte prospekteren. Het gevolg was dat op New-Rush de heer Maeder de grond uitpikte en die heer Rawstone die sorteerder, waaruit de eerste diamant te voorschijn kwam”. Die plek word later vernoem na Lord Kimberley, wat destyds te doen gehad het met die “’Keate award’, waardoor die Britse Regering het leeuwensdeel, de Vrijstaat het vossendeel van de Grikwalandse diamantvelden meester werden”.
Op 5 Junie 1873 verskyn die volgende proklamasie: “The encampment and town heretofore known as de Beer’s New Rush, the Colesberg Kopje No 2 Vooruitzigt, shall henceforth be designated the town of Kimberley”. In Desember 1873 word dié naam vir die eerste keer in die kerkraadsnotule gebruik.
Die mense wat daarheen gestroom het, is deur predikante van die Kolonie en die Vrystaat, wat vir tydperke daar vertoef het, bedien, o.a. di Luckhoff, C Fraser, J de Vries en later ds. BB Keet (1870 tot 1871). Die eredienste is onder die blote hemel gehou, aangesien daar nie ’n gebou was wat groot genoeg was nie.
Op Sondag 8 September 1872, is op ’n gemeentevergadering, net na afloop van die oggenddiens oorgegaan tot die verkiesing van kerkraadslede vir “De Beers New Rush,” d.w.s. die gemeente wat later as Kimberley bekend sou staan. Op dieselfde datum meld dieselfde beriggewer (De Kerkbode 5.10.1872): “Op Dutoitspan zouden heden op dezelfde wyze kerkraadieden door de gemeente gekozen worden”. Kimberley en Dutoitspan het dus op dieselfde dag hul eerste kerkraadslede gekies.
HG Gous skryf: “As aangeneem word dat ’n gemeente in kerkregtelike sin eers dan bestaan wanneer sy eerste kerkraadslede verkies en bevestig is, dan wil dit voorkom of hierdie twee gemeentes in die Diamantstad min of meer ewe oud is. Maar as die bevestiging van sy eerste diensdoende predikant die bepalende faktor moet wees, dan moet aan Kimberley (‘De Beers New Rush’) die eer van ‘senior’ toegeken word. Immers sy eerste predikant, prop. JW Louw, is reeds op 17 Augustus 1872 bevestig, terwyl nog meer as ses maande sou verloop voordat Dutoitspan sy eerste leraar in diens sou stel. Feit is egter dat beide gemeentes hul eerste kerkraadslede in 1872 gekry het, heel waarskynlik op dieselfde dag, nl. 8 September 1872, en daarom is ons van mening dat hul min of meer ewe oud is, en dat vir al twee 1872 as stigtingsjaar geld. Natuurlik het ons Kerk op die diamantvelde die eerste op Dutoitspan begin werk. In nie-amptelik sin is dit dan ook die oudste gemeente hier, vandaar ook dat die ring die ring van Dutoitspan heet. Om op te som: Op Sondag 8 September 1872 is die NG Kerk in die opkomende Diamantstad amptelik in funksie gestel”.
Uit De Kerkbode van 9 Maart 1873 verneem ons dat die eerw. prop. JC de Vries “die zich tans op die Diamantvelden bevindt” deur die kerkraad van Dutoitspan beroep is. Sy salaris was £300 (R600) per jaar “gewaarborgd voor zes maanden”. Hy is vroeg in Mei as leraar bevestig.
Ds. SH Kuhn word op 10 Junie 1877 as tweede leraar bevestig. Hy word opgevolg deur ds. AP Kriel, “later de grote geloofsman van de weesinrichting te Langlaagte geworden”. Sy opvolger was ds. SJ Perold en na hom was dit ds. WFP Marais wat ook die buitewyke begin bedien het. Ds. CP Kotzé het om opgevolg en hy is in 1916 bevestig.
Die naam van die gemeente het ’n interessante verhaal. In die oudste huweliksregister van hierdie gemeente word gemeld dat so en so in die huwelik bevestig is “in de parochie te Dorstfontein in het district Pniel”. Die oorspronklike naam van die gemeente was dus Dorstfontein – die naam van die plaas van die heer AJ van Wyk waarop die diamante in 1870 ontdek is. Maar dié eintlike ryk diamantvonds is op die gedeelte van Dorstfontein bekend as Dutoitspan gedoen. Ná hierdie delwery is as Dutoitspan verwys en aangesien die kerktent ook naby Dutoitspan opgerig is, is daar ook soms na hierdie gemeente as Dutoitspan verwys. Vanaf 1876 word daar in die huweliksregister aangeteken dat die betrokke huwelik bevestig is “te Dutoitspan in de parochie Dutoitspan in het district Dutoitspan”. Teen daardie tyd is die ou naam Dorstfontein vervang deur die van Dutoitspan.
HG Gous skryf: “Wat die status van hierdie gemeente (Dutoitspan) betref, moet hier aangemerk word dat dit net soos die van ‘De Beers New Rush’ (Kimberley) indertyd sonder kerkverband en wel as ’n ‘Vrye gemeente’ gestig is. In sy memorie van September 1873 aan die Kaapse sinode verwys die kerkraad na hul gemeente as die ‘Vrye Gereformeerde Gemeente te Dutoitspan’. Dit was dus ’n gemeente sonder kerkverband. Omdat die diamantvelde teen 1872 staatkundig onder die Britse kroonkolonie, Griekwaland-Wes, geval het en derhalwe buite die grense van die Kaapkolonie was, het die Kaapse Kerk nie sy weg oopgesien om die twee gemeentes op die diamantvelde binne sy sinodale kerkverband te stel nie. Die eintlike beletsel hier was Ordonnansie nr. 7 van 1843, waarin die Kaapse Kerk blykbaar beperk was tot die grense van die Kaapkolonie. Dit was in elk geval die bevinding van die Hooggeregshof in sy uitspraak in die Loedolff-saak van 1862, ingevolge waarvan die afgevaardigdes van gemeentes buite die destydse Kaapkolonie belet is om in die Kaapse Sinode sitting te neem.
Om hierdie rede kon Dutoitspan en sy sustergemeente ‘De Beers New Rush’ nie as gemeentes van die Kaapse Kerk afgestig word nie. Hierbo het ons reeds daarop gewys waarom ook die Sinode van die Oranje-Vrystaat nie sy weg oopgesien het om die twee gemeentes op die diamantvelde by hom in te skakel the. Die anneksasie van die diamantvelde deur Brittanje het derhalwe die ontwikkeling van die NG Kerk aldaar bepaald baie gestrem. Onder besonder moeilike omstandighede moes Dutotispan en ‘New Rush’ as ‘vrye’ gemeentes die mas probeer opkom.
Hierdie gebrek aan kerkverband het hul vanselfsprekend as ’n ernstige leemte aangevoel. Albei kerkrade het gevolglik vertoë vir nouer betrekkinge met die Kaapse Kerk tot die sinode van 1873 gerig: Vir die doel het elkeen ’n memorie opgestel en hul betrokke predikant afgevaardig om dit in Kaapstad voor te lê. In die memorie van Dutoitspan wat deur ds. JC de Vries ingelewer is, word na die Kaapse Kerk verwys as ‘onze Moeder Kerk’, aan wie hul deur ‘onverbreekbare banden’ van geloof verbind is. Hul kom derhalwe met die vriendelike versoek om in die eersvolgende sinode verteenwoordig te wees (Acta Sinodi [873 – 1/13p. 319). In die memorie van ‘New Rush’ word derhalwe ook gevra dat hul ‘als een zuster gemeente’ deur die sinode erken mag word (Acta Sinodi 1873 – S1/13 Bylae N.p. 331)”.
Alhoewel die sinode met besondere belangstelling geluister het na hierdie memories en veral ook die medede1ing van die twee leraars , kon om redes voortspruitend uit ordonnansie nr. 7 van 1843 natuurlik nie aan inlywing by die Kaapse Kerk gedink word nie.
Toe Griekwaland-Wes egter in 1880 staatkundig by die Kaapkolonie ingelyf word, is die weg tot kerklike inlywing van die gemeentes op die diamantvelde by die Kaapse Kerk dan ook gebaan.
Die eerste predikante van Dutoitspan het onder baie moeilike omstandighede gewerk. Hulle gebied was baie groot. Dit het tot naby Warrenton gestrek en het Honeynestkloof, Du Plooysburg en Modderrivier/Ritchie ingesluit. By Griekwastad is ook dienste gehou. In die tagtigerjare van die negentiende eeu is daar ’n kerk, pastorie en die eerste kerkskool vir 22 leerlinge gebou. Die skool het later ’n goewermentskool geword, omdat die gemeente dit nie finansieel kon onderhou nie.
Die gemeente het die Driejarige Oorlog, die Swartgriep en die Rebellie beleef.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog, die Depressie van 1933 en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, was die myne van Dutoitspan, Bultfontein en Wesselton gesluit Dit het groot werkloosheid en nood tot gevolg gehad en in die tyd word die gemeente hulpbehoewend. Die kerkraad het egter reeds in 1925 besluit om ’n kerksaal te Ritchie te bou en ’n nuwe kerk te Dutoitspan.
Die Ritchie-wyk het hard gewerk. Dit het baie jare geneem om genoeg geld in te samel om hulle saal te bou en dit sonder skuld aan die gemeente Dutoitspan te oorhandig. Dit het Dutoitspan-gemeente 15 jaar van ywer gekos om hulle ideaal, om ’n kerk te bou, te bereik. Op 13 Julie 1940 het hulle die kerk sonder skuld ingewy. Uit die gemeente het Modderrivier-Ritchie, asook Plooysburg, afgestig.
Bronne
Ons Kerk Album, bladsy 115
Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972
Ned. Geref. Gemeente Kimberley-Harmonie: 25 jaar (1979-2004)
Van Boereplaas tot Makrogemeente 1871 – 1968 – 1989 (Ned. Geref. Kerk Kimberley-Vooruitsig)
Van der Merwe, G. 1993. Onverganklike rykdom: Nederduits-Gereformeerde gemeente Barkly-Wes 1918-1993
[Terug na bo]

Vandag

 
[Terug na bo]