Gereformeerde Kerkreg en Geskiedenis – diakonale gestaltegewing

NAVORSING OOR DIE MOONTLIKHEDE WAT DIE GEREFORMEERDE KERKREG EN GESKIEDENIS BIED VIR DIE KREATIEWE GROEI VAN ’N LEWENDE, GEFOKUSDE DIAKONALE GESTALTEGEWING EN -DIENS BINNE DIE GEMEENTE, SAMELEWING EN WÊRELD

Die taakspan diakonaat het ds. FP Avenant versoek om ’n aantal lyne te trek. Hier volg dit:

Die skuif in konteks na 1994 in Suid-Afrika en die Noord-Kaap het ons oorweldig. Ons moet bely: Ons weet nie regtig nie. Tog is God daar. En sy Woord. En ons broers en ons sisters. En die tradisie. En die konteks. Die krisis. Die geleentheid. En God se roeping vir sy kerk in elke tyd en op elke plek. En ’n kerk wat bely dat hy God se Woord en die konteks waarin hy leef, altyd weer moet laat ontmoet. Dat hyself instrument in Gods hand is. Dat hyself voortdurend moet reformeer, verander, groei, ten einde regtig van betekenis, sout, lig in die samelewing/die wêreld te wees. Bely ons dat Jesus gesê het: “God se koninkryk het gekom.” Nie sy kerk het gekom nie. Nee, sy kerk is alleen instrument tot koninkryksdiens. Natuurlik moet die instrument ook na homself kyk. Om instrument, geslypte instrument, te kan bly. Dit bly egter middel tot ’n doel. Hierin moet God deur sy Woord (en sakrament) en Gees ons altyd weer help.
Reeds vanaf 1986 hoor ons die algemene sinode en op voetspoor daarvan, vanaf 1987 die sinode van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland, die oproep dat die NG Kerk moet begin beweeg ten opsigte van die gemeentelike diens van barmhartigheid. Maatskaplike dienste behoort tot die “welwese” van die kerk. Die diens van barmhartigheid/deernisdiens/diakonaat, behoort tot die “wese” daarvan. Daarsonder is die kerk gebrekkig/nie volledige kerk nie/nie volledig gehoorsaam aan God nie. Na 1987 is die opdrag tot studie en praktyk telkens herhaal. Veral by die 1995 sinode van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland toe maatskaplike dienste en die gemeentelike diens van barmhartigheid per besluit ontbondel is en opdrag tot fokus en verryking van gemeentelike diakonaat vanuit kerkverband gegee is. Ons beskeie indruk is dat min daarvan tereg gekom het. In die Noord-Kaap en in die res van die land. Gevestigde maatskaplike dienste het egter voortgegaan. Dikwels onder groot druk. Hulle is, hoewel baie keer beperk, vanuit gemeentes ondersteun. In die Noord-Kaap, en dalk elders ook, het maatskaplike dienste telkens gekla dat dit hul ervaring is dat min aansluiting in plaaslike gemeentes ervaar word. Dat hulle wonder wat diakonaal op grondvlak in gemeentes aangaan. Dat hulle nie alleen die kerk se diakonale verantwoordelikheid kan, of mag dra nie. Is daar gewonder oor waarmee diakonieë besig is, meer as om op te gaan daarin om as kollektante vir die gemeentebegroting (“instandhouding van die erediens”) op te tree. En dit, terwyl die nuwe kerkordes die amp van die diaken suiwer uitspel.
Ons verstout ons om te wonder of die kyk van maatskaplike dienste se kant nie dalk ’n harde, seer stuk waarheid/werklikheid raakgesien het en nog steeds raaksien nie. Ons is oortuig daarvan dat die diakenamp in die NG Kerk in die moeilikheid is. Dat dit oor jare verval het tot iets anders as wat Skrif en gereformeerde tradisie (Dordt 1618/19, die aanloop daartoe en praktyke daarna) daarvan maak en dat reformasie hier dringend nodig is as die NG Kerk ’n daadwerklike getuienis in die huidige Suid-Afrikaanse konteks wil lewer. En wel in elke plaaslike situasie. Waar is daar nog ’n kerkgemeenskap in die RSA en voeg daarby die familiekerke, wat letterlik oor elke duim breedte van hierdie land gevestig geraak het? Wat ’n geleentheid!
Ons is oortuig dat in die konteks van Suid-Afrika, met al sy fisiese, psigiese en ander nood, die kerk nie anders kan as om daadwerklik te fokus op die volgende nie:

  • Die verhaal van die verval van die diaken amp in die NG Kerk. (Kyk na die laaste gesaghebende amptelike publikasie vanuit die NG Kerk: “Die Diens van Barmhartigheid en die Nederduitse Gereformeerde Kerk.” Red. Prof JJ de Klerk, 1990.) Op bladsy 99/5.5 is die opskrif: “Diakonieë uitgeskakel?”
  • Die noodsaak van gemeentes as diakonale gemeenskappe.
  • Die plek van diakonieë in gemeentes as voorgangers in die diens van barmhartigheid.
  • Die funksionering van diakonieë by eredienste en die nagmaal.
  • Die kerkordelike plasing en strukturering van diakens en diakonieë. Die Dordtse Kerkorde 1618/19 kan hier van groot betekenis wees. ’n Gesprek met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika oor hulle verstaan en inrigting daarvan kan verreken word.
  • Die daadwerklike vestiging van ’n gesamentlike diakonaat tussen gemeentes van familiekerke as deel van ons gesamentlike roeping in/met plaaslike gemeenskappe.
  • Die vestiging van ’n ekumeniese diakonaat waar kerke oor ’n wye front hande vat om nood in gemeenskappe daadwerklik aan te spreek.
  • Die neem van daadwerklike stappe om ’n profiel van gemeenskappe op te stel wat sake soos nood en wie reeds waar betrokke is karteer.
  • Die gee van aandag aan die vestiging van vennootskappe met instansies wat reeds diens lewer en nie “die wiel van vooraf te ontwerp” nie.  Ons sal dalk laatkommers op die toneel wees, maar “vars bene” sal verwelkom word!
  • NG Welsyn as ’n onontbeerlike instrument by van gemeentelike diens van barmhartigheid. Sy nuwe fokus op hulp aan gemeentes/diakonieë word van harte verwelkom!
  • Die ontwikkeling van ’n fokusarea, soos vroeë kinderontwikkeling (ECD), kan sterk aanbeveel word. Om dit as ’n gesamentlike fokus tussen gemeentes/diakonieë/gemeen-skappe/maatskaplike dienste op te neem, moet aangeprys word.
  • Die befondsing van diakonieë/diakonale werk vanuit die erediens/nagmaal en selfs ander bronne, moet groot aandag ontvang.
  • Die ordelike doen van die werk, met behoorlike verslag aan kerkrade is van uiterste belang.
  • Die skep van die gesamentlike kommissie vir diens en getuienis op sinodale vlak word verwelkom. Befondsing moet aandag ontvang. Die fokus: Diens en getuienis.
  • Die nagaan van die stand van opleiding by teologiese fakulteite ten opsigte van predikante in die vakgebied diakoniologie. Dié gesprek kan ook met Hugenote Kollege gevoer word.
  • Voortdurende gesprek met die kerkorde kommissie van die NG Kerk in Noord-Kaapland gevoer word oor toepaslike kerkorde artikels rakende die amp van diaken, hulle roeping, gesag en kerkordelike plasing na aanleiding van bevindinge oor die gereformeerde ampsbeskouing hieroor. Locus standi (regs bevoegdheid) van gemeentes moet beveilig bly.