Geskiedenis Noord-Kaapland

Die stigting van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Noord-Kaapland was nie ’n impulsiewe daad op ’n sekere oomblik gedurende ’n sinodale vergadering nie. Die ideaal en noodsaaklikheid om in kleiner sinodes te verdeel, het met die verloop van tyd in die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika al hoe sterker en dringender geword. Vir sommige streke is die ideaal vroeër, vir ander later verwesenlik.

Stigting van die eerste gemeentes

Die verhaal van die sinode in Noord-Kaapland moet ons gaan haal by die stigting van die eerste gemeentes noord van die Oranjerivier. Die gemeente Dutoitspan en Kimberley is ter sprake. Lees meer oor hulle stigting by Dutoitspan en by  Kimberley. Die grens van die Kaapkolonie het net gestrek tot by die Oranjerivier. Die twee gemeentes het dus buite die grense van die Kaapkolonie geval. Dit was ook waar van die volgende gemeentes wat daarna gestig is, nl. Reivilo (1883), Vryburg (1883), Upington (1893) en Mafikeng (1892). As gevolg van die alombekende Loedolff-saak kon hierdie gemeentes nie wetlik by die Kaapse sinode ingelyf word nie. Loedolff, ’n ouderling van Swartland, het in 1862 ’n hofbevel op grond van ordonnansie 7/1843 verkry waardeur alle gemeentes buite die staatkundige grense van die Kaapkolonie hul sittingsreg in die Kaapse sinode verloor het. Alhoewel gemeentes, noord van die Oranjerivier deur ringe versorg is, kon hulle nie amptelike sitting hê op die Kaapse sinode nie, omdat hulle buite die politieke grense van die Kaapkolonie geval het. Dié gemeentes was dus independentisties– buite alle kerkverband.

[Terug na bo]

Gebrek aan verband: Dutoitspan en Kimberley

Die gebrek aan verband was vir dié gemeentes ’n groot leemte aangesien hulle almal, in baie moeilike tye, in hul babaskoene was.
In 1873 het die twee Diamantveldse gemeentes die wens uitgespreek om by die Kaap sinode ingelyf te word, maar ordonnansie 7/1843 was die struikelblok. Daarná het die twee gemeentes herhaalde versoeke aan die Vrystaatse sinode gerig om daar ingelyf te word. Dié sinode was nie onwillig nie, maar om een of ander rede is nooit tot ’n finale besluit gekom nie. Prof. Van der Watt sê hieroor: “Hierdie versuim om tot ’n positiewe besluit te kom, is onbegryplik. Niks – staatsregtelik of kerkregtelik – het die uitbreiding van die Vrystaatse sinode in daardie rigting verhinder nie. En as ons vra na die rede vir hierdie aarselende houding dan wys die vinger hier ook na die Loedolff-saak”.
In 1880 is Griekwaland-Wes by die Kaapkolonie ingelyf. Die gemeentes Dutoitspan en Kimberley het dus vanaf hul stigting in 1872 tot 15 Oktober 1880 buite enige meerdere kerkverband gestaan.

[Terug na bo]

Beskrywingspunt Ned. Geref. Kerk Kimberley – 2007

Dit is interessant dat die gemeente Kimberley, wat vir sy eerste paar jaar independentisties bestaan het, in 2007, 135 jaar na die stigting van die gemeente, ’n beskrywingspunt by die sinode in Noord-Kaapland indien dat dié sinode uit die algemene sinodale verband moet te tree.
1. Algemene sinodale verband           
Die sinode besluit met groot hartseer om ooreenkomstig Artikels 36 en 37 van die Kerkorde uit die algemene sinodale verband te tree, aangesien die algemene sinode – in stryd met Skrif en Belydenis – toenemend besig is om ‘n permanente kerklike hiërargie te vestig waarbinne die plaaslike kerke hulle selfstandigheid toenemend verloor.     
2. Federale verband
Die sinode besluit om sonder verwyl ’n federale verband met die samestellende kerke van die algemene sinode, sowel as met ander gereformeerde kerke, te soek en te vestig.         
3. Kerkorde
Die sinode wys ’n kommissie aan om sonder verwyl en met raadpleging van alle kerkrade ‘n Kerkorde vir die Ned. Geref. Kerke in Noord-Kaapland saam te stel vir voorlegging aan die eersvolgende gewone sinodale vergadering van die kerke. Totdat sodanige Kerkorde finaal goedgekeur is, word die huidige Kerkorde so ver dit moontlik is, gebruik.           
As motivering was onder andere die volgende: “Elke Ned. Geref. gemeente (lidmaat en ampsdraer), ring en selfs streeksinode gaan toenemend gebuk onder en word ingebind deur die algemene sinode, sy permanensie, sy gesag, sy funksionarisse, sy taakspanne/kommissies, sy verklarings en veral sy selfopgelegde bevoegdheid om bindende (selfs ten opsigte van die gewete) besluite te neem. Die feite spreek van die uitbou en institusionalisering van ‘n gesentraliseerde kerklike hiërargie op algemene sinodale vlak, wat van bo af die Ned. Geref. Kerk as ‘n saamgestelde korporatiewe grootheid effektief bestuur en regeer”. 
Op die laaste dag van die sitting deel die ouderling van die Ned. Geref. Kerk Kimberley (Z Blömerus) die vergadering mee dat hy bereid is om die beskrywingspunt namens die kerkraad van Kimberley voorlopig terug te trek, aangesien dit onregverdig teenoor die vergadering en die kerkraad sal wees om te probeer om so ’n gewigtige saak in ’n kort tyd af te handel. Hy versoek dus – deur die voorsitter – die vergadering om dit goed te keur. Die vergadering keur dit met dankbaarheid goed dat die beskrywingspunt teruggetrek mag word.

[Terug na bo]

Gebrek aan verband: Reivilo, Vryburg, Upington en Mafikeng

Die gemeentes Reivilo, Vryburg, Upington en Mafikeng het ook buite enige meerdere kerkverband gestaan en is eers na die inlywing van Brits-Betsjoeanaland by die Kaapkolonie in 1895, op eie versoek in kerkverband gestel.
Ds. C Albertyn, die destydse saakgelastigde van die sinode in Noord-Kaapland, het met verwysing na die gemeentes Dutoitspan en Kimberley opgemerk: “Die Kaap kon hulle nie vat nie en die Vrystaat wou hulle nie hê nie”.
Die gemeentes ten noorde van die Oranjerivier het blykbaar nooit in daardie jare, soos blyk uit verslae en notules, daaraan gedink om ’n eie breëre kerkverband te stig nie. Die genoemde twee gemeentes, asook die ander 4 wat daarna gestig is, het dus eerder independentisties bestaan as om ’n eie breëre kerkverband te stig.
RB van Aarde kom tot die gevolgtrekking dat “die blote stigting van die gemeentes Dutoitspan en Kimberley al ’n faktor was wat aanleiding gegee het tot die stigting van die sinode van Noord-Kaapland, meer as honderd jaar later”.

[Terug na bo]

Streeksinodes

Nadat die Kaapkolonie se grense tot die grense van dié van die teenwoordige Kaapprovinsie uitgebrei is, was die probleme wat met die Loedolff-saak geskep is nie meer relevant nie en kon al die gemeentes in Noord-Kaapland in sinodale verband tree. Tog het die verskillende sinodes – elke provinsie het sy eie sinode gehad – afsonderlik bly voortbestaan. In 1905 is “De Raad der Nederduitsche Gereformeerden Kerken in Zuid-Afrika” gestig en het die sinode bymekaargekom. Dit het uitgeloop in die stigting van die algemene sinode in 1962.
Die hele saak van verdeling en verkleining van sinodes het van die begin af nou saamgehang met die hereniging van die verskillende sinodes in Suid-Afrika.        
Tydens die sinodesitting van 1953 het die vraagstuk van die wenslikheid van streeksinodes op die spits gekom. Die Kaapse sinode het te groot geword en daar is besluit om die sinode op een of ander manier te verklein. Die predikant van Okahandja, Suidwes-Afrika, vra in ’n beskrywingspunt dat die saak in verband met “verkleinde of streeksinode” behandel moet word. Daar was ook beskrywingspunte vir die afstigting van ’n sinode vir Oos-Kaapland asook ’n versoekskrif wat aan die sinode voorgelê is vir die afstigting van Suidwes-Afrika. Die kerkraad van Hanover het ’n beskrywingspunt ingedien dat enige gedagte van verdeling verwerp word en onverwyld oorgegaan word tot die verkleining van die sinode. Uiteindelik is die volgende voorstel aanvaar:    
“Die sinode verwerp die beginsel van ’n verkleinde sinode en verklaar dat hy dit in die belang van die Kerk beskou dat waar kerkrade van ’n bepaalde gebied daarom vra, selfstandige Kerke gestig sal word met dieselfde belydenis en kerkregering as die Nederduitse Gereformeerde kerk in Suid-Afrika, met handhawing van die federale verband”. 
Later is by verskillende vergaderings voorgestel dat Oos-Kaapland, Noord-Kaapland en Wes-Kaapland streeksinodes vorm, met ’n algemene sinode vir die hele Kaapland. Hierdie voorstelle is nooit aanvaar nie, maar na die totstandkoming van die algemene sinode is alle sinodes streeksinodes.
Die gemeentes in Suidwes-Afrika het op 23 Oktober 1956 toestemming gekry om “tot ’n selfstandige Nederduits-Gereformeerde Kerk met dieselfde belydenis en kerkregering binne die federale band van die NG Kerk te konstitueer”.
Reeds in 1957 is die eerste voorstel vir die verdeling in streeksinodes ingedien, maar is met ’n meerderheid van 404 stemme verwerp. In 1961 kon dieselfde voorstel met slegs 16 stemme verwerp word. By die volgende sinodesitting (1965) vra sewe ringe uit Noord-Kaapland vir ’n eie sinode (Reivilo, Mafeking, Kenhardt, Warrenton, Dutoitspan, Upington en Griekwastad). ’n Ad hoc-kommissie word benoem om alle implikasies i.v.m. streeksinodes te ondersoek en aan die volgende sinode verslag te doen. Op grond van hierdie kommissie se verslag besluit die sinode van 1969 in beginsel om in drie streeksinodes te verdeel. Vir Noord-Kaapland word in vooruitsig gestel bogenoemde sewe ringe, plus die ringe van Hopetown en Richmond. Toe die 74 gemeentes, wat destyds in dié gebied bestaan het, getoets is, het 12 ongelukkig nie van hulle laat hoor nie, 26 het daarvoor en 36 daarteen gestem. In 1973 word die sinode van Oos-Kaapland gestig, wat die ideaal vir ’n eie sinode vir Noord-Kaapland weer laat opvlam het.
Een van die grootste probleme wat die eerste gemeentes in Noord-Kaapland gehad het in verband met die bywoning van sinodesittings was die geweldige afstande wat afgelê moes word. Te perd was dit baie ver en selfs na die koms van motors en spoorlyne was dit steeds ’n groot probleem. Predikante was lank weg uit hulle gemeentes en dit het groot koste meegebring.
Ds. GFJ van Rensburg bepleit in 1975 vir ’n aparte sinode. Hy sê onder andere:    
“Kerkorde artikel 32: ‘Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes uit die gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik kan saamkom’ Die Noordweste is wel staatkundig ’n deel van die Kaapprovinsie, maar vorm beslis nie ’n geografiese eenheid met Suid-Kaapland nie. Dit kan ongetwyfeld ook nie gesê word dat die afgevaardigdes van Mafikeng en Kaapstad maklik kan saamkom nie. Mafikeng is 1,350 km van Kaapstad en slegs 370 Km van Kimberley en 550 km van Upington af….
Hieruit blyk dat óf Upington óf Kimberley, of albei om die beurt, as vergaderplek vir die nuwe sinode kan dien en dit in albei gevalle vir die betrokke gemeentes veel nader is as Kaapstad”.

[Terug na bo]

Stigting: sinode in Noord-Kaapland

By die sinode van 1975 word ’n ad hoc-kommissie benoem om alle implikasies van ’n afsonderlike sinode vir Noord-Kaapland te ondersoek. Die volgende ringe is vir die doel van die ondersoek, as die gebied van die moontlik te stigte sinode vir Noord-Kaapland beskou, nl. Dutoitspan, Hopetown, Griekwastad, Calvinia, Kenhardt, Reivilo, Upington, Warrenton, Mafeking en Richmond. ’n Dagbestuur is op 3 November 1975 gekies met dr. JD Vorster as voorsitter en ds. GFJ van Rensburg as skriba. Baie werk moes afgehandel word, nl. ’n inligtingstuk moes opgestel word vir voorlegging aan gemeentes en ringe, gemeentes moes getoets word en die finale uitslag moes aan die sinode van 1979 voorgelê word. Op 27 Februarie 1979 kon al die betrokke gemeentes in kennis gestel word dat 65 uit 85 gemeentes wat getoets is, ten gunste van ’n eie sinode gestem het. Die vreugde en dankbaarheid was groot toe die verslag van die ad hoc-kommissie op Woensdag 17 Oktober 1979 voor die sinode kon dien en aanvaar is. Dit was ’n aandoenlike plegtigheid toe die name van die afgevaardigdes, wat lede van die nuwe sinode in Noord-Kaapland sal wees, deur die moderator uitgelees word en die broeders die vergadering verlaat.     

Eerste sinodesitting Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland -1979
Besigtig volgrootte foto

Ds. FJC van Heerden, die oudste leraar met die langste diensjare in die nuwe sinodale gebied, het die optog vanaf die sinodale sentrum na die Van Heerdensaal gelei waar die nuwe sinode gekonstitueer het.
Na konstituering is die eerste moderatuur gekies, nl. oudl. ds. JS Marais (Kimberley) as moderator, ds. C Albertyn (Kimberley) assessor, dr. HJ Hendriks (Upington) as aktuarius en ds. SA Esterhuizen (Vryburg) as skriba. As assistent-skriba word di. JJ Vogel (Tadcaster) en PJ David (Daniëlskuil) verkies.
Die vergadering het so fluks gevorder met die agenda dat reeds op Dinsdag 24 Oktober 1979 verdaag kon word.
Op die eerste vergadering is ook die eerste saakgelastigde met bykomende opdrag sending en diens van barmhartigheid benoem, nl. ds. C Albertyn.
Verskeie belangwekkende besluite is reeds op die eerste sinodesitting geneem, waarvan die besluit dat in die sinode in Noord-Kaapland net een Vroueaksie sal wees, seker dié belangrikste was.
Ds. C Albertyn het die benoeming aanvaar en op 21 Januarie 1980 is die sinodale kantoor in die Saambou-Nasionale gebou te Kimberley geopen. Eers is net gebruik gemaak van die dienste van ’n deeltydse tikster, maar op 1 Maart 1980 het ’n boekhoudster, ’n administratiewe assistent en ’n tikster (half-dag) hulle dienste aanvaar. Spoedig het dit geblyk dat dit nie vir een sinodale predikant moontlik was om reg te laat geskied aan die werk wat gedoen moet word nie. Die sinode van September 1980 het derhalwe besluit om nog ’n sinodale predikant te beroep met opdrag sending, jeug en ampsbediening en evangelisasie. Ds. GFJ van Rensburg, die skriba van die ad hoc-kommissie het op 1 Maart 1981 diens aanvaar. Die werk het so uitgebrei dat drie sekretaresses aangestel moes word, nl. vir jeug, sending en ampsbediening en evangelisasie. Op 1 Mei 1982 kon ook die eerste hoof administratiewe beampte aangestel word.
Die tweede vergadering van die sinode gedurende September 1980 het die Kerkorde en Bepalinge en Reglemente goedgekeur.   
Ds. C Albertyn skryf: “Dit het gedien as ’n stimulus vir die sinodale kommissies om met groot ywer hulle groot werk voort te sit. Met groot dankbaarheid kan gemeld word dat op die gebied van die sending – binnelands en buitelands (Botswana), diens van barmhartigheid – inrigtingsversorging en gesinsorg, jeug en ampsbediening en evangelisasie daar baie groot vordering gemaak word. Die groot vordering op alle terreine van die kerk se werk in Noord-Kaapland, toon dat die stigting van ’n eie sinode die regte stap was. Die groot getal jong predikante in ons sinodale gebied kan hulle talente nou tot ’n baie groter mate tot beskikking van die Koninkryk van God stel as vantevore. Omdat ons getalle min is, moet elkeen sy gewig ingooi. Só is al baie verborge en latente talente ontdek”.
Ds. C Albertyn skryf dat die statistiek in 1983 as volg was: “In die sinodale gebied is op die oomblik 81 gemeentes, met 112 predikantsposte, waarvan slegs enkeles vakant is. Die kleinste gemeente is Goedvertrou met 100 belydende lidmate, met Kathu wat in 1975 gestig is, die grootste met 2,099 belydende lidmate met 3 predikante. Kimberley-Vooruitsig met 1,805 belydende lidmate het 4 predikante. Die oudste gemeente is Hopetown wat in 1854 gestig is. Altesaam 14 gemeentes is reeds meer as 100 jaar oud. Twee gemeentes, nl. Reivilo en Vryburg vier vanjaar (1983) hulle eeufees. Sedert die stigting van die sinode in Oktober 1979, het vier nuwe gemeentes bygekom, nl. Kimberley-Suid, Kimberley-Bakenskop, Lime-Acres en Mareetsane”.    
Bronne          
Albertyn, C. 1983. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland (dokument by sinodale kantoor beskikbaar)
Van Aard, RB. 1984. Die geskiedenis van die sinode van Noord-Kaapland

[Terug na bo]

Vandag

Die sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Noord-Kaapland is hoofsaaklik ’n plattelandse sinode met 82 gemeentes – waarvan die meeste in die provinsie Noord-Kaap geleë is. Enkele gemeentes (14) is in die provinsie Noordwes (die ring van Mafikeng en die ring van Reivilo).
Die sinodale streek het twee “hoofstede”, nl. Kimberley (Noord-Kaap) en Mahikeng (Noord-Wes). Die ander groot sentrum is Upington aan die walle van die Garieprivier. Nie een van die groot sentra is sentraal geleë in die streek nie. Die sinode strek oor ’n baie wye gebied met groot afstande tussen die onderskeie sentra.
Die sinodale kantoor is in Kimberley. Die grens na die Vrystaat is slegs 10 km na die ooste van Kimberley.

[Terug na bo]

Roepingsverklaring sinode van Noord Kaapland

’n Sinode is gemeentes wat in ’n kerkverband aan mekaar gebind is en as kerk saam na die Woord van die Here luister en die pad so saamloop dat ons ons roeping ontdek en mekaar moed en hoop gee om dit uit te leef.

Die sinode het die volgende kernwaardes aanvaar:

1.   Luister

  • Ÿ  Die sinode wil God deur sy Woord en Gees ontmoet en na Hom luister.
  • Ÿ  Die sinode wil saam God se wil en roeping vir die Kerk ontdek.
  • Ÿ  Die afgevaardigdes luister na mekaar sodat ons mekaar tot troos en hulp kan wees.

2.   Liturgiese grondhouding

Die sinode vergader met ’n liturgiese grondhouding.

3.   Deelname

Die afgevaardigdes soek saam in die lig van die Woord en onder leiding van die Heilige Gees na God se wil. Dit kan geskied deur kleingroepbesprekings (tafelgesprekke) en debat deur die volle vergadering.
Die sinode poog om so ver as moontlik konsensus te bereik wanneer besluite geneem word.

4.   Beplanning

Die sinode wil gemeentes en ringe ondersteun om konkreet en prakties uitvoering te gee aan God se roeping vir sy kerk.

5.   Verbondenheid aan mekaar

Gemeentes is met mekaar versoen deur Jesus Christus. Hierdie verbintenis word uitgedruk in ons belydenis, nl. Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leer-reëls. Ons deel ons roeping in die wêreld en het ooreengekom om ordelik volgens ons kerkverband op te tree soos dit in ons Kerkorde weergegee word.

[Terug na bo]