Hartskroon

Beginjare

Ganspan en Weskanaal was wyke van Warrenton-gemeente. Terwyl Warrenton-gemeente die ontstaan van ’n delwerybedryf, die Anglo-Boere-oorlog, en eienaarskap van die dorp in sy ontstaansagtergrond gehad het, het boerderyaktiwiteite rondom die ontstaan van die Vaal-Harts-besproeiigskema, aan die gemeente ’n verdere sterk besigheids-ingesteldheid gegee, wat dikwels by kerkraadsvergaderings, die geestelike aard van kerkwees, oorheers het. Weskanaal- en Ganspanwyke het hierdie karakter gedeel en in lidmatetal só toegeneem, dat dit al meer en meer onprakties geraak het om as een gemeente te bly voortbestaan.
Op 13 Oktober 1951 word besluit dat dié twee wyke afstig en kry die nuwe gemeente die naam Hartzvallei, klaarblyklik omdat dit geleë is in die omgewing van die Hartsrivier wat vanuit die noorde deur die gebied vloei en waaraan gemeentes soos Noorderharts (Magogong), Hartswater en Hartskroon, sowel as die besproeiingskema, ook almal hul name ontleen het.
Slegs 3 jaar later, op 5 Desember 1954, word besluit dat die Ganspangedeelte van Hartsvallei afstig. Dié dogtergemeente kry toe die naam Hartskroon. Die gemeente het die Ganspan-nedersetting en ’n aantal besproeiingspersele (klein plasies) ingesluit.
Die (huidig grootliks uitgediende) nedersetting bestaan uit ongeveer 200 een-morg-perseeltjies met waterkanale tussenin. Eenvormige woonhuisies is op die persele gebou en, oorspronklik, met die ontstaan van die Vaal-Hartsbesproeiingskema, aan huurders beskikbaar gestel. Soos wat die ontwikkelingswerk van die skema, handearbeid ingesluit, volgens wetgewing, slegs deur blanke mans gedoen is, is dié persele ook slegs aan blankes toegeken. Hierdie reëling het later verval, en huidig word die huisies uitsluitlik vir sub-ekonomiese behuising vir alle rassegroepe gebruik. Slegs enkele van die een-morg-perseeltjies is nog onder besproeiing. Die totale terrein van ongeveer 200 hektaar vertoon ’n uiters vervalle en armoedige voorkoms.
Die gemeente het, gedurende die sestigerjare, van die regering gebruiksreg van ’n besproeiingsperseel van 22 hektaar, waterreg ingesluit, ontvang. Van dié grond het die gemeente later volle eienaarskap verkry. Die opbrengs uit die grond wat deur boerelidmate bewerk is, het grootliks bygedra tot die inkomste van die gemeente. ’n Klein beesboerdery is ook, namens die kerkraad, deur verskillende boerelidmate bedryf, en word steeds in stand gehou (Des 2009).
Leraars wat die gemeente bedien het, is die volgende:

  • Ds. J M van Niekerk (derde beroep uitgebring) – 1955 tot 1960
  • Ds. WH Oosthuizen (sewende beroep uitgebring) – 1961 tot 1964
  • Ds. CJ Liebenberg (vierde beroep uitgebring) – 1964 tot 1970
  • Ds. FD Hugo (derde beroep uitgebring) – 1970 tot 1984
  • Ds. AJ Crouse (sewende beroep uitgebring) – 1985 tot 1988
  • Ds. LM Basson, leraar  van Hartsvallei, bedien Hartskroon ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms tussen die twee gemeentes, met die hulp van ’n proponent op kontrakbasis – 1988 tot 1991
  • Ná ds Basson se vertrek, neem proponent Borstlap en later proponent Coetzee waar – 1991 tot 1993
  • Ds. SF Coetzee (eerste beroep uitgebring) – 1993 tot 1997
  • Ds. C Jonck (eerste beroep uitgebring) – 1998 tot 2009
  • Ds. AJ Britz (emeritus) neem waar sedert Mei 2009 – 2009
  • Ds. SJJ Strydom (bevestig op 2 November 2012) – 2012 tot 2015

Eredienste is vir die eerste aantal jare in die gemeenskapsaal van die Departement Volkswelsyn gehou. Die hoeksteen van die eerste kerkgebou, wat tans nog gebruik word, is op 25 Mei 1968 deur ds CJ Liebenberg gelê.
As gevolg van die verslegtende finansiële situasie in Hartsvallei-gemeente, kon dié gemeente sedert 2001 nie meer ’n voltydse leraar bekostig nie en is ds PE de Jager as pastorale hulp aangestel en het hy diens gelewer tot in 2006.
In 2006 is Hartskroon se moedergemeente, Hartsvallei, by die dogtergemeente ingelyf om een gemeente, Hartskroon te vorm, met Ds C Jonck as leraar.
[Terug ’n a bo]

Vandag

As gevolg van die agteruitgang in boerderywinste, sowel as ernstige probleme met die reëling van besproeiingswaterbeurte, reeds sedert 1994, het die kerkraad, ná die vertrek van ds C Jonck, wat in 2009 ’n beroep aanvaar het, besluit om die landbouafdeling van hul boerdery te staak en die perseel te verkoop.
Die kerkraad het verder besluit dat dit, in die lig van onvoldoende inkomste, nie raadsaam sou wees om ’n voltydse leraar te beroep nie.

[Terug na bo]