Hopetown

Beginjare

Hopetown ou kerkgebou

Hopetown nuwe kerkgebou

Hopetown was eers bekend as Gonna, wat Waterplek beteken en dit word later Duvenaarsfontein. Dié naam kom van ene Duvenhage, ’n trekboer, wat ’n tyd lank met sy vee hier gebly het en die plek na homself vernoem het. Op 25 Februarie 1839 is Duvenaarsfontein deur die staat aan Michael van Niekerk toegeken.
Die gemeente is eers Hoopstad genoem en later Hopetown – in onderskeiding van die gemeente Hoopstad in die Oranje-Vrystaat. Die gemeente is in 1854 op Duvenaarsfontein gestig. Volgens die notules van die kerkraad blyk dit dat ’n kommissie van die ring van Graaff-Reinet aanbeveel het dat ’n gemeente in “Noord Middenveld” gestig word. Die plaas Duvenaarsfontein is vir 15,000 riksdaalders vir die aanlê van ’n dorp aangekoop.
Ds. W Murray van Middelburg was die eerste konsulent van die gemeente. Tydens sy konsulentskap word die eerste kerkgebou op 7 Februarie 1858 ingewy. “Het inwendige der kerk was zeer ‘primitief’, bestaande uit stoelen, veldstoeltjies en harde banken”.
In 1861 is ds. Gerrit van Niekerk as eerste predikant bevestig en hy bedien die uitgestrekte gemeente vir 16 jaar.
In 1877 volg ds. WP Rousseau hom op. Hy het die gemeente slegs tot 1880 bedien “toen er eene groote beroering ontstond wegens den buitengewonen ijver des leraars voor de zaak der Goede Tempelieren. Men verstond deze zaak niet en een groot deel der gemeente was er tegen gekant, sodat ds. Rousseau genoodzaakt werd te bedanken als predikant der gemeente en een zeker som gelds hem betaald werd”.
In 1882 word ds. GA Scholtz as leraar bevestig. Deur sy toedoen word groot verbeteringe aan die kerkgebou aangebring, onder andere plankvloere, banke en ’n nuwe gallery.
Hy word opgevolg deur eerw. prop. JD Louw. Gedurende sy bediening is Strydenburg gestig en ’n deel van die gemeente het daaronder geval. “Ook vond er eene opwekking (geestelijk) plaats in zijn tijd”. Na sy vertrek, tydens die vakature, word 15 lidmate onder invloed van ene Bücher in die Oranjerivier oorgedoop. Gelukkig het almal, op uitsondering van ’n paar, na die kerk teruggekeer.
In 1898 word ds. PJA de Villiers bevestig. Aangesien die eerste kerkgebou se fondament in sanderige grond was, het die mure van tyd tot tyd gebars. Die barste in die mure het algaande meer probleme verskaf. Die mure is later met ankers aan mekaar geheg. “Voor ongeveer 4 jaren geleden deed een geweldig schok van aardbewing de kerkmuren zoo barsten dat de gemeente verplicht was een nieuw sierlijk kerkgebou daar te stellen, dat over £8,000 gekost heeft (orgel en gaslichten ingesloten, bevattende 850 zitplaatsen”.
Bronne
Ons Kerk Album, bladsy 94
Wiid, R. 2004. 150 Jubeljare 1854-2004
[Terug na bo]

Vandag

Die bediening in die gemeente het twee hooflyne naamlik:
1. Die bediening van die Woord en die sakramente aan die gemeente (na binne) as toerusting van die gemeentelid sodat elke gelowige sy dienswerk tot opbou van die gemeente kan doen en
2. Wanneer toegerus met die Woord en sakramente kan die gemeente as kerk van Jesus Christus verder as homself kyk (na buite), waar elke gelowige die verantwoordelikheid het om as profeet, priester en koning die evangelie uit te dra sodat die wêreld kan glo en die Heer meer en meer verheerlik word.
Die bediening in die gemeente staan dus op 2 gelyklopende bene:
1. BEDIENINGSONDERSTEUNING (om lidmate toe te rus vanuit die woord en lidmate pastoraal te versorg);
2. DIENSGETUIENIS (om lidmate na buite te rig sodat die wêreld sonder Christus van Hom kan hoor en Hom in ons kan sien. Waar daar geloof in Christus kom, word God verheerlik – die doel van die gemeente!)
Om bogenoemde bediening moontlik te maak – wat die verantwoordelikheid van elke lidmaat is – is daar hulpdienste in die gemeente.
3. HULPDIENSTE sorg vir die infrastruktuur, finansiële en administratiewe rugsteun om die bediening na binne en buite moontlik te maak.


 [Terug na bo]