“By die ontwerp van meegaande seël het die kommissie in oorweging geneem wat eie is aan die gebied van Noord-Kaapland en wat mens maklik aan ’n skrifgedeelte kan verbind. Twee dinge het uit die staanspoor uitgestaan naamlik water – riviere, reën, droogte, ens. en die landelikheid. Die watergedagte moes laat vaar word, omdat dit uiters moeilik is om water sinvol uit te beeld.
Die landelikheid daarenteen kan maklik en op verskeie maniere uitgebeeld word. Na die laaste samesprekings met die kommissie, het dit egter duidelik geword dat die voor die handliggendste beeld die van die herder is. Dit is nie alleen eie aan die gebied nie maar loop veral soos ’n goue draad deur die ganse Bybel totdat dit sy ontplooiing vind in die beeld van die Goeie Herder. Die kommissie het dit goed gedink om as uitgangspunt die baie bekende Psalm 23:1 te neem: “Die Here is my Herder” (Dit bly dieselfde in die nuwe vertaling). Met hierdie gedagte en met enkele sketse het die kommissie dr C Pama, die bekende heraldikus en ontwerper van o.a. die sinode-seëls van die algemene sinode en die NG kerk in Afrika, in Kaapstad besoek. Uit ons besprekinge het dit duidelik geword dat mens versigtig moet wees om nie die afbeeldinge te naturalisties te maak nie. (Dan lyk dit te maklik na ’n prentjie uit ’n Kinderbybel!) ’n Ander probleem waarvoor ons te staan gekom het, is dat daar wel seker uit een of ander oord beswaar sou kom, as Christus afgebeeld word as die herder- of dan dat die afbeelding na Hom verwys.
Die kommissie het getrag om ’n eenvoudige, sprekende simbool te vind wat al bogenoemde probleme oorbrug; wat meer sinnebeeldig is en wat tog die Bybelteks goed weergee.
Aanvanklik het ons die herderstaf op verskeie maniere probeer plaas, maar telkens gevind dat die gesig van die seël nie goed gevul word nie. Dr. Pama het uiteindelik met hierdie voorstel gekom…” (Bron: Addendumverslag van die kommissie vir vorms en embleem – sinode 22 September 1980)
’n Omgewende herderstaf, daaroorheen ’n gaande omsiende lam, binne-in ’n sirkelvormige rand waarop die bewoording NED GEREF KERK IN NOORD-KAAPLAND, bo, en die leuse DIE HERE IS MY HERDER, onder aangebring is.