Kimberley

Beginjare

Die ontstaan van die gemeentes Dutoitspan (Beaconsfield) en Kimberley is baie interessant.
In 1867 besoek mnr. Schalk van Niekerk sy buurman Daniël Jacobs op die plaas De Kalk. By sy aankoms op die plaas was die kinders besig om “klip-klip” te speel. Hy sien dadelik ’n uitsonderlik steen tussen die ander klippies raak. Toe Schalk van Niekerk dit wou koop, skenk mevrou Jacobs dit. Op 12 Maart 1867 word die “blink klippie” per poskoets in ’n gewone koevert aan dr. William Guybon Atherstone op Grahamstad gestuur. Hy identifiseer dit as ’n diamant van 21,25 karaat. Die diamant, “die eureka”, is vir £500 verkoop.
’n Heelwat groter diamant word in 1869 deur ’n Griekwa, Swartbooi op die plaas Sandfontein naby die Oranjerivier in die distrik Hopetown opgetel. Dié kleinood was die beroemde “Ster van Suid-Afrika” (83,5 karaat) wat later vir £11,500 by mnr. van Niekerk gekoop is.
Dadelik is met prospekteerwerk begin en baie geluksoekers het hulle na Hebron gewend. Orals is vir diamante gesoek en op ’n pan wat aan mnr. Du Toit behoort het, is diamante gevind – vandaar die naam Dutoitspan. “Mettertijd werd dit gedeelte van de Diamantevelden De Beers Kompanjie”. Aangesien baie mense na die gebied gestroom het, het die kerk dit nodig geag om in hul geestelike behoeftes te voorsien.
Die eerste arbeider was ds. AD Luckhoff van Colesberg. Hý het na die gebied gegaan omdat ’n myn by Colesberg koppie geopen het. “Een klompie Colesbergse lieden, waaronder de heer Theodore Maeder, klerk eertijds te Philipstown, Magistraat Fleetwood Rawstone en de heer Meijer de Kock, later doodgeschoten door de Boeren, omdat hij het plan aan de hand gaf om de vrouwen in kampen te koncentreren, gingen in die buurte prospekteren. Het gevolg was dat op New-Rush de heer Maeder de grond uitpikte en die heer Rawstone die sorteerder, waaruit de eerste diamant te voorschijn kwam”. Die plek word later vernoem na Lord Kimberley, wat destyds te doen gehad het met die “’Keate award’, waardoor die Britse Regering het leeuwensdeel, de Vrijstaat het vossendeel van de Grikwalandse diamantvelden meester werden”.
Op 5 Junie 1873 verskyn die volgende proklamasie: “The encampment and town heretofore known as de Beer’s New Rush, the Colesberg Kopje No 2 Vooruitzigt, shall henceforth be designated the town of Kimberley”. In Desember 1873 word dié naam vir die eerste keer in die kerkraadsnotule gebruik.
Die mense wat daarheen gestroom het, is deur predikante van die Kolonie en die Vrystaat, wat vir tydperke daar vertoef het, bedien, o.a. di Luckhoff, C Fraser, J de Vries en later ds. BB Keet (1870 tot 1871). Die eredienste is onder die blote hemel gehou, aangesien daar nie ’n gebou was wat groot genoeg was nie.
Op Sondag 8 September 1872, is op ’n gemeentevergadering, net na afloop van die oggenddiens oorgegaan tot die verkiesing van kerkraadslede vir “De Beers New Rush”, d.w.s. die gemeente wat later as Kimberley bekend sou staan. Op dieselfde datum meld dieselfde beriggewer (De Kerkbode 5.10.1872): “Op Dutoitspan zouden heden op dezelfde wyze kerkraadieden door de gemeente gekozen worden”. Kimberley en Dutoitspan het dus op dieselfde dag hul eerste kerkraadslede gekies.
HG Gous skryf: “As aangeneem word dat ’n gemeente in kerkregtelike sin eers dan bestaan wanneer sy eerste kerkraadslede verkies en bevestig is, dan wil dit voorkom of hierdie twee gemeentes in die Diamantstad min of meer ewe oud is. Maar as die bevestiging van sy eerste diensdoende predikant die bepalende faktor moet wees, dan moet aan Kimberley (‘De Beers New Rush’) die eer van ‘senior’ toegeken word. Immers is sy eerste predikant, prop. JW Louw, reeds op 17 Augustus 1872 bevestig, terwyl nog meer as ses maande sou verloop voordat Dutoitspan sy eerste leraar in diens sou stel. Feit is egter dat beide gemeentes hul eerste kerkraadslede in 1872 gekry het, heel waarskynlik op dieselfde dag, nl. 8 September 1872, en daarom is ons van mening dat hul min of meer ewe oud is, en dat vir altwee 1872 as stigtingsjaar geld. Natuurlik het ons Kerk op die diamantvelde die eerste op Dutoitspan begin werk. In nie-amptelik sin is dit dan ook die oudste gemeente hier, vandaar ook dat die ring die ring van Dutoitspan heet. Om op te som: Op Sondag 8 September 1872 is die NG Kerk in die opkomende Diamantstad amptelik in funksie gestel”.
HG Gous skryf: “Wat die status van hierdie gemeente (Dutoitspan) betref, moet hier aangemerk word dat dit net soos die van ‘De Beers New Rush’ (Kimberley) indertyd sonder kerkverband en wel as ’n ‘Vrye gemeente’ gestig is. In sy memorie van September 1873 aan die Kaapse sinode verwys die kerkraad na hul gemeente as die ‘Vrye Gereformeerde Gemeente te Dutoitspan’. Dit was dus ’n gemeente sonder kerkverband. Omdat die diamantvelde teen 1872 staatkundig onder die Britse kroonkolonie, Griekwaland-Wes, geval het en derhalwe buite die grense van die Kaapkolonie was, het die Kaapse Kerk nie sy weg oopgesien om die twee gemeentes op die diamantvelde binne sy sinodale kerkverband te stel nie. Die eintlike beletsel hier was Ordonnansie nr. 7 van 1843, waarin die Kaapse Kerk blykbaar beperk was tot die grense van die Kaapkolonie. Dit was in elk geval die bevinding van die Hooggeregshof in sy uitspraak in die Loedolff-saak van 1862, ingevolge waarvan die afgevaardigdes van gemeentes buite die destydse Kaapkolonie belet is om in die Kaapse Sinode sitting te neem.
Om hierdie rede kon Dutoitspan en sy sustergemeente ‘De Beers New Rush’ nie as gemeentes van die Kaapse Kerk afgestig word nie. Hierbo het ons reeds daarop gewys waarom ook die Sinode van die Oranje-Vrystaat nie sy weg oopgesien het om die twee gemeentes op die diamantvelde by hom in te skakel nie. Die anneksasie van die diamantvelde deur Brittanje het derhalwe die ontwikkeling van die NG Kerk aldaar bepaald baie gestrem. Onder besonder moeilike omstandighede moes Dutoitspan en ‘New Rush’ as ‘vrye’ gemeentes die mas probeer opkom.
Hierdie gebrek aan kerkverband het hul vanselfsprekend as ’n ernstige leemte aangevoel. Albei kerkrade het gevolglik vertoë vir nouer betrekkinge met die Kaapse Kerk tot die sinode van 1873 gerig: Vir die doel het elkeen ’n memorie opgestel en hul betrokke predikant afgevaardig om dit in Kaapstad voor te lê. In die memorie van Dutoitspan wat deur ds. JC de Vries ingelewer is, word na die Kaapse Kerk verwys as ‘onze Moeder Kerk’, aan wie hul deur ‘onverbreekbare banden’ van geloof verbind is. Hul kom derhalwe met die vriendelike versoek om in die eersvolgende sinode verteenwoordig te wees (Acta Sinodi [873 – 1/13p. 319). In die memorie van ‘New Rush’ word derhalwe ook gevra dat hul ‘als een zuster gemeente’ deur die sinode erken mag word (Acta Sinodi 1873 – S1/13 Bylae N.p. 331)”.
Alhoewel die sinode met besondere belangstelling geluister het na hierdie memories en veral ook die medede1ing van die twee leraars , kon om redes voortspruitend uit ordonnansie nr. 7 van 1843 natuurlik nie aan inlywing by die Kaapse Kerk gedink word nie.
Toe Griekwaland-Wes egter in 1880 staatkundig by die Kaapkolonie ingelyf word, is die weg tot kerklike inlywing van die gemeentes op die diamantvelde by die Kaapse Kerk ook gebaan.
Op 17 Augustus 1872 is die kerkgebou van Kimberley ingewy en is die eerste leraar, prop JW Louw, bevestig. Die kerk het onder die ou mense as die “Sinkkerk” bekendgestaan en die dae van die tydelike Kerktent was dus verby (volgens die Gereformeerde Kerkbode van 10 Febr. 1872 het daar toe reeds “en zeer nette Kerktent” op New Rush gestaan). Vermoedelik was ’n tent aanvanklik as pastorie gebruik. Op 12 November 1872 besluit die kerkraad om ‘n pastorie te bou. Dié gebou is opgerig tydens die bedieningstyd van die gemeente se tweede leraar BB Keet (1874-1879) en was vermoedelik een van die heel eerste baksteengeboue in Kimberley. Tussen 1889/99 is die pastorie vergroot en in 1903 van elektriese ligte voorsien. Die pastorie is in die laat 1930’s aan die sendinggemeente verkoop.
Ds. JW Louw het op 30 April 1874 demissie ontvang en prop. BB Keet word op 17 Oktober 1874 georden en bevestig. Ds. Keet is opgevolg deur ds. JD Kestell wat in 1885 in die gemeente Kimberley bevestig is. Die huidige kerk is volgens ’n plan wat ds. Kestell geteken het, gebou. Hy was ook verantwoordelik vir stigting van die Newton Weeshuis. Die weduwee van ds. Badenhorst was aan die hoof van die Weeshuis.
Ds. Kestell is opgevolg deur ds. PJ de Vaal wat ’n pyporrel in die plek van die harmonium laat aanskaf het. Die orrel het ongeveer £800 gekos. In 1903 word elektriese ligte in die kerk en pastorie aangebring – seker een van die eerste kerke in die land wat die gerief van “elektriese ligte” gehad het.
Kimberley-Noord
In die veertigerjare was in Kimberley slegs twee gemeentes, nl. Kimberley (Newton) en Dutoitspan. Kimberley-Noord was destyds, net soos Kimberley-Wes, ’n wyk van die Kimberley-gemeente. Laasgenoemde gemeente het op daardie stadium bestaan uit 2,600 lidmate en het beskik oor ’n kerkgebou en twee pastorieë.
Die rustige gang van die Kimberley (Newton)-gemeente word egter versteur toe die destydse stadsraad van Kimberley besluit om die Newton-gebied tot ’n Kleurlinggebied te verklaar. In hierdie proses is die Newton-kerk aan die stadsraad verkoop vir die skamele bedrag van R18,000 (£9,000) terwyl die pastorie deur die toekomstige kleurlinggemeente oorgeneem sou word. En opeens moes ’n ou gevestigde gemeente, te midde van ontwrigtende omstandighede, ’n plek vir aanbidding soek asook ’n woning vir ’n herderspaar. Met die oog hierop is die perseel op die hoek van Bean- en Villiersstrate aangekoop en bouplanne is in die vooruitsig gestel. Hierdie perseel sou hom uitstekend leen tot ’n sentrale kerkgebou, binne redelike bereik van alle lidmate van die gemeente.
Maar, tog was die wil van die Here anders, want pas het die Newton-gemeente sy planne agtermekaar gehad, of die Stadsraad herroep sy vorige besluit. Weer eens is die gemeente se sake vertroebel – maar hierdie keer nie sonder verreikende nagevolge nie! Op ’n kerkraadsvergadering wat gehou is op die aand van 9 Desember 1949 is daar besluit om die voorgestelde bouplanne in heroorweging te neem; met die Munisipaliteit te onderhandel vir die kansellasie van die verkoop van die gemeente-eiendomme en ’n kommissie te benoem om deeglike ondersoek in te stel in verband met moontlike afstigting.
En so word daar op die aand van 24 Februarie 1950, tydens ’n spesiale kerkraadsvergadering, die volgende voorstel met ’n meerderheid van stemme aanvaar: “Hierdie kerkraad aanvaar die beginsel van afstigting en gee opdrag aan die ringskommissie om onverwyld op te tree en twee gemeentes af te stig”.
En met hierdie voorstel van die twee broeders HD Roux en Barry Steyn is ’n vertrekpunt gelaat wat die ganse gemeentelike patroon van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kimberley sou verander.  Op 14 April 1950 is, onder leiding van di SB Meyer en W. Fullard, ’n kommissie vir afstigting saamgestel om vir die afstigting van twee gemeentes, naamlik die vir Transvaalweg / De Beers en die vir Wes-Einde / Homestead finale voorbereidings te tref. Hierdie kommissie pluis sake deeglik uit en op 4 Mei 1950 om 10 vm. tydens ’n buitengewone vergadering van die ring van Dutoitspan, word die amptelike versoek tot afstigting voorgelees en in beginsel deur die ring goedgekeur.
Tydens dieselfde vergadering dien die kerkraad van die gemeente Dutoitspan ’n amptelike versoek in vir die afstigting van die wyke Modderrivier, Ritchie en Heuningneskloof.
En so gebeur dit dan dat op die aand van 5 Mei 1950 die ringskommissie, saam met die gemeente van Kimberley, in die Newton-kerk vergader waar op plegtige wyse, twee nuwe gemeentes, te wete Kimberley-Wes en Kimberley-Noord, selfstandige status ontvang – Kimberley-Wes met ’n bruidskat van R700 (£35O) aan kontant, die pastorie in Wes-Einde en ’n bouperseel vir ’n kerk en Kimberley-Noord met ’n kontantbedrag van R7,200 (£3,600).
Op 4 Augustus 1969 besluit die ringskommissie dat die gemeente Kimberley-Vooruitsig kan afstig. Die volgende bruidskat word aan die nuwe gemeente gegee, nl. die pastorie in Oakridgelaan 7, twee kerkpersele op die hoek van Meyerstraat en Croninweg, die helfte van die saalboufonds (R2,411) en R2,000 kontant (beraamde totale waarde van R22,000). Die kerkraad van die moedergemeente het die naam Kimberley-Park voorgestel, teenoor die afstigtingskommissie se aanbeveling van Kimberley-Suid. By die gemeentevergadering waar die ring die afstigting hanteer het, het die jong medeleraar van die moedergemeente die naam Kimberley-Vooruitsig voorgestel. Die gemeente het, met stigting, 800 belydende en 700 dooplidmate gehad.
Bronne
Ons Kerk Album, bladsy 115
Fullard, W. Die Ned. Geref. Kerk Kimberley: geskiedenis van die gemeente 1872-1972
Gous, HG. 1971. Die NG Kerk Dutoitspan-gemeente: Beaconsfield Kimberley 1872-1972
Kimberley Gemeenteblad – Feesuitgawe 1872-1947
Ned. Geref. Gemeente Kimberley-Harmonie: 25 jaar (1979-2004)
Ned. Geref. Kerk Kimberley-Noord (1950-1975)
Van Boereplaas tot Makrogemeente 1871 – 1968 – 1989 (Ned. Geref. Kerk Kimberley-Vooruitsig)
Van der Merwe, G. 1993. Onverganklike rykdom: Nederduits-Gereformeerde gemeente Barkly-Wes 1918-1993
[Terug na bo]

Vandag

Ds Fullard was sy hele bediening in Kimberley. Na sy aftrede het Kimberley-gemeente vir ds. Nico van Zyl beroep en in 1981 is di. Zach Blömerus en Kaiser Cornelius op dieselfde dag bevestig.
Hierna het eers Kaiser Cornelius ’n beroep aanvaar na Potchefstroom Eerste Vesting en later het ds. Nico van Zyl afgetree. Zach Blömerus het alleen agtergebly en die kerkraad het besluit om tydelik met een predikant reg te kom. Hierdie besluit is geneem in die lig van finansiële druk wat in die laat tagtiger en vroeg negentigs die kerk onder druk geplaas het.
Dit het egter goed gegaan in die gemeente. Die kerkraad se kommissies het hard gewerk en werkgroepe het alle diensterreine behartig.
In 1991 besluit die kerkraad om nog ’n leraar te beroep. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die gemeente, word die pos geadverteer. Die kerkraad is van mening dat Kimberley-gemeente nie net die eerste gemeente was wat elektriese ligte gehad het nie, maar ook die heel eerste om ‘n pos te adverteer. Uit die aansoeke en na deeglike onderhoude, besluit die kerkraad om Lukas Basson van Hartsvallei te beroep. Op 15 Junie 1991 word Lukas Basson in die gemeente ontvang en bevestig.
Nie lank na sy aankoms in Kimberley nie, word die gemeente die eerste in die Noord-Kaap om ’n tentmaker-dominee te beroep. Ds. Danie Fourie, toe van Kimberley-Wes, het ’n pos by Oranje Toyota as diensbestuurder gekry en word deur die kerkraad as ‘n tentmaker met beperkte pligte beroep.
Kestell Kinderhuis stel in persoon van John Haycock ’n bemarkingshoof aan en soos Danie Fourie word ook hy ’n tentmaker-dominee in die gemeente. Met twee voltydse predikante en twee tentmakers het die gemeente op hierdie stadium die meeste predikante in diens ooit in die geskiedenis.
Dit het egter nie lank geduur nie. Eers het Danie Fourie ’n verplasing na Bloemfontein ontvang en kry demissie na hy ‘n beroep van ’n Bloemfontein gemeente ontvang. John Haycock kry demissie om in Kanada te gaan werk en sluit by die Presbeteriaanse kerk in Kanada aan.
Tussen 1992 en 1995 verander die gemeente se omstandighede drasties. Met die vinnige verandering van die stadsgebied kort na die 1991 verkiesing, trek byna al die lidmate wat in woonstelle en meenthuise in die stadsgebied gewoon het uit die gemeente. Verder vind daar ‘n verskuiwing plaas waar besighede uit die stadsgebied beweeg om in woonhuise hulle besighede verder te bedryf. Eers word die hele South Sircular Weg ingeneem, daarna volg byna die hele Georgestraat en toe Angelstraat waar 21 woonhuise en een woonstelblok (gesamentlik 5 wyke) gesloop word om plek te maak vir die nuwe GAME sentrum. Later, na 1997, sou Longstraat volg en nog 3 wyke verdwyn om besigheidsgebied te word. Die verskuiwing is steeds (in 2009) besig om plaas te vind en strate aangrensend aan Longstraat word geteiken as ideale besigheidsareas. Dit het tot gevolg gehad dat die gemeente binne ‘n tydperk van 11 jaar slegs een derde van sy lidmate oorgehou het.
Reeds in 1995 het die gevaarligte begin flikker. Die gemeente, wat hoofsaaklik bestaan uit middelinkomste mense, se finansiële posisie het sodanig verander dat dit nie langer moontlik was om meer as een voltydse predikant in diens te hê nie. Die kerkraad het na deeglike besinning besluit om sy leraars te vra om vir poste aansoek te doen. Na ‘n hele aantal onsuksesvolle aansoeke, het Lukas Basson besluit om werk te soek buite die kerklike sfeer. Hy word gedurende September 1995 deur Sanlam genader en op 1 Desember 1995 word hy in ‘n tydelike verteenwoordigerspos aangestel wat vanaf 1 Januarie 1996 ‘n voltydse pos geword het. Hy het ’n tentmakerspos by die kerkraad ontvang en ’n 50% werksopdrag gekry volgens die bepalings van die Kerkorde van die NG Kerk. Dit het tot gevolg gehad dat die gemeente se finansiële verpligting drasties ingekort is en daar weer asem geskep kon word.
Ds. Zach Blömerus se gesondheid het egter geleidelik verswak en hy het gedurendie 1997 vir 10 maande spesiale verlof van die kerkraad ontvang om ondersoeke af te handel met die oog op vervroegde aftrede wat aan hom toegestaan is op 14 Desember 1997.
Hierna het die kerkraad het onverwyld pogings aangewend om Lukas Basson terug te kry in ’n voltydse predikantspos. Na onderhandelings, het Lukas Basson gedurende Februarie 1998 by Sanlam as ’n voltydse verteenwoordiger bedank, en is hy in ’n voltydse pos by Kimberley-gemeente aangestel. Die kerkraad het besluit dat daar ’n regrukpoging van stapel gestuur moes word. Binne ’n paar maande was die kerkraad weer op volsterkte en het ’n grootse poging tot finansiële en geestelike herstel begin. Binne vier jaar het die kerkraad die skuldlas van ’n paar honderd duisend rand afgewerk, die kerkgebou opgeknap en ’n belegging van meer as R100,000.00 in die bank gehad. Die kerkraad se kommissies het weer aan die werk gekom en die gemeente het uitgesien na ‘n toekoms wat goed lyk.
Die gemeente het egter aanhoudend kleiner geword. Redes hiervoor kan gesoek word by die besluite van die algemene sinode oor gemeentegrense, die aanhoudende uitbreiding van besighede in die gemeente se grense en lidmate van ander denominasies en kerkgemeenskappe wat in die gemeente ingetrek het. Tussen 1997 en 2008 het die gemeente nog ‘n keer wat lidmaattalle betref halveer. Die gemeente bestaan tans uit 445 besoekpunte waar sowat 1,232 lidmate woon. Daar is twee kinderhuise in die gemeente.
[Terug na bo]