NGK Noord-Kaapland-DRC Botswana

Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland & Dutch Reformed Church in Botswana



1. INLIGTING/AGTERGROND

1.1 Christelike kerk in Botswana Die Christelike kerk het gedurende die 19de eeu in Botswana gekom aanvanklik deur die toedoen van die Skotse Kongregasionalis, Robert Moffat, en later sy skoonseun, David Livingstone. ’n Belangrike keerpunt was toe kaptein Linchwe van die Bakgatla-stam, onder die bediening van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se sendingaksie, ten gunste van die Christendom sy rug op sy inheemse geloof en gebruike gedraai het.

Kaptein Linchwe

Gedurende die laaste deel van die 19de eeu, het die Christelike geloof gevestig geraak onder die groot stamme in die land, as die vrug van veral die bediening van die:

  • Nederduitse Gereformeerde Kerk: Bakgatla-stam;
  • London Missionary Society: Bakwena-, Bangwato-, Batawana- en Bangwaketse-stamme;
  • Lutherse Kerk van Duitsland: Balete-stam.

Aan die begin van die 20ste eeu het ander kerke gevolg (en het die band tussen ’n spesifieke stam met ’n spesifieke kerk ook al meer vervaag):

  • Anglican Church;
  • Roman Catholic Church;
  • Seventh Day Adventists;
  • Congregational Church.

Die aanvaarding van die Christendom in Botswana is grootliks beïnvloed deur die feit dat die Christendom nie ‘alleen’ gekom het nie, maar saam daarmee ook die Westerse medisyne en onderwys, onder andere:

  • Londonse Sending Genootskap: Moeding College (voormalige Tierkloof) in Otse; Kgari Sechele in Molepolole en die Senior School in Maun.
  • Lutherse Kerk van Duitsland: Wat tans beskou as een van die beste hospitale in Botswana, die Bamalete Lutheran Hospital in Ramotswa.
  • Nederduitse Gereformeerde Kerk: verskeie skole; Deborah Retief Hospital in Mochudi.
  • Rooms-Katolieke Kerk: St. Josephs College in Kgale net buite die stad en ’n kliniek in Ramotswa, sowel as ’n oorvloed van primêre skole oor die hele land.
  • Sewende Dag Adventiste: Hospitaal op Kanye.

Deborah Jacoba Retief

Vandag is die meer tradisionele kerke wat in Botswana aangetref word:

  • Dutch Reformed Church in Botswana;
  • Die twee Lutherse kerke: Evangelical Lutheran Church of Southern Africa en Evangelical Lutheran Church of Botswana;
  • United Congregational Church of Southern Africa;
  • Roman Catholic Church;
  • en Seventh Day Adventists.

So vroeg as die begin van die 20ste eeu, maar veral sedert die 1950’s, speel ’n oorvloed van nuwe en energieke kerke egter ’n al groter rol oor die hele land. As gevolg hiervan het lidmaattalle van die meer tradisionele kerke dan ook grootliks getaan. Hierdie kerke is hoofsaaklik:

  • Zion Christian Church (beide Star en Dove-groepe) met verskeie vertakkings in plattelandse gebiede;
  • Pinksterkerke;
  • Charismatiese en
  • Apostoliese kerke.

Ook Islam, Boeddhisme en Hindoeïsme het nie heeltemal agterweë gebly nie en alhoewel dit hoofsaaklik immigrante is wat aan hierdie godsdienste behoort, is daar heelwat Batswana wat hetsy deur huwelike of eie oortuiging, aanhangers daarvan geword het.
Botswana word vandag allerweë as ’n Christelike land beskou en vryheid van godsdiens word grondwetlik gewaarborg. Inheemse godsdienstige en mediese praktyke, hoofsaaklik gekoppel aan voorvader-verering, het óf afgeneem, óf vermeng geraak met die Christelike geloof. Veral die rituele van begrafnis, huwelik en geboortes is aangepas by die Christelike gebruike en is op ’n ekstreme manier belangrik in die lewe van die Batswana. Dit bring bepaald ’n misbruik van die Christelike kerk mee en bied ’n groot uitdaging vir die kerk om begrip te kan bring vir die onderskeid tussen Christenskap en “geloof” in die Christelike rituele (magiese krag) as sulks.
[Terug na bo]

1.2 Nederduitse Gereformeerde Kerk in Botswana
In 1857 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk besluit om ’n “buitelandse” sendingaksie van stapel te stuur. Die buitelandse sendeling Henri Gonin (van Switserland) het, as sendeling van die sinode, in 1864 in Saulspoort in Wes-Transvaal met sendingwerk begin.

  • Kaptein Kgamanyane, van die Bakgatla ba ga Kgatela, was Gonin en die werk wat hy gedoen het goedgesind. In 1870 verhuis hierdie kaptein en ’n groot groep van sy stam, waaronder talle Nederduitse Gereformeerde Kerk-lidmate, en gaan vestig hulle in Mochudi in Bechuanaland. Gonin het sy werk in Saulspoort voortgesit en nie die trek meegemaak nie.
  • Kaptein Kgamanyane sterf in 1874 en word deur sy seun Linchwe opgevolg. Ds. Pieter Brink, een van Gonin se medewerkers, vestig hom in 1877 in Mochudi op uitnodiging van kaptein Linchwe.
  • Meer Bakgatla-stamlede het met verloop van jare vanuit Wes-Transvaal weswaarts beweeg en die volgende dorpies rondom Mochudi kom mettertyd tot stand: Malolwane, Sikwane, Modipane, Bokaa en Morwa.
  • Ds. Brink sterf in 1886 en word deur ds. EB Beyer opgevolg. Onder laasgenoemde se bediening kom kaptein Linchwe in 1892 tot bekering. Onder laasgenoemde se invloed word die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Mochudi vir alle praktiese doeleindes die  volkskerk van die Bakgatla-stam en word ongekende groei van die kerk ervaar.
  • Die westerse samelewing en sy invloede het al meer ’n impak op Mochudi begin maak, veral toe telefoonverbindings en ’n spoorlyn vanaf Suid-Afrika na Rhodesië deur die gebied gelê is. Intussen is Bechuanaland as ’n Britse protektoraat verklaar.
  • Tydens die Anglo-boere Oorlog is die werk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Mochudi onderbreek, maar dit is na die oorlog met hernude ywer voortgesit. Die hoogtepunt ná die oorlog was die bou van die groot kerkgebou op Mochudi in 1903 en 1904. Hierdie kerkgebou is vandag nog in volle gebruik, alhoewel dit dringend opknapping benodig.
  • In 1934 het die totstandkoming van die Zion African Church en die Bakgatla Free Church (wat weggeskeur het van die Nederduitse Gereformeerde Kerk) ’n baie negatiewe impak op die Nederduitse Gereformeerde Kerk gehad. Dit is egter in die jare 1945 tot 1958 grotendeels weer herstel deur die arbeid van voltydse Nederduitse Gereformeerde Kerk sendelinge.
  • Die werk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Mochudi was inderdaad omvangryk. Onder andere het die volgende deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk tot stand gekom:
    • Die bou van verskeie kerkgeboue en skole.
    • In 1905 reeds het meer as 1000 Bakgatla-kinders onderwys in die onderskeie sendingskole gekry.
    • In 1924 is die eerste mediese kliniek geopen en is in 1932 gevolg deur die eerste hospitaal, die Deborah Retief Memorial Hospital. In later jare is hierdie hospitaal by verskeie geleenthede vergroot, hoofsaaklik deur bydraes van kerke in Europa.
    • ’n Skoolkoshuis vir dogters is in 1941 gebou. Dit het in 1945 ontwikkel in die Home Crafts Centre. Dit was een van die mees positiewe ontwikkelings en dogters van regoor Botswana het hier opleiding ontvang. Elize Cronjé, by ons goed bekend, was sedert 1975 tot haar aftrede hoof van hierdie sentrum.
    • Die eerste oogkliniek in Botswana is in 1966 deur die toedoen van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gevestig.
    • In 1969 is ook die Resource Centre for the Blind geopen.
    • Die rehabilitasie sentrum vir gestremdes, naamlik die Motswedi Community Based Rehabilitation Centre. Motswedi beteken “fontein”. Die rehabilitasiesentrum is ’n nie-winsgewende welsynsprojek van die kerk wat deur die Vrouevereniging van die DRCB in Mochudi Botswana geïnisieer is (Mothers Union of the Dutch Reformed Church in Mochudi Botswana.
  • Met die stigting van die NG Bantoekerk in Suid-Afrika in 1951, wat later die NG Kerk in Afrika geword het, het die bestaande werkkringe onder die Batswana in die Noord-Kaap, Wes Transvaal en Botswana, stelselmatig NGKA-gemeentes geword.
  • Op 15 Maart 1966 is die NGKA Sinode van Phororo van die NGKA sinode van Kaapland afgestig. Samewerking met die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kaapland, deur middel van ’n skakelkommissie, is deur ’n hersiene Akte van Ooreenkoms (Deed of Agreement) tussen dié twee kerke gereël. Hierdie hersiene Akte van Ooreenkoms is nie deur die NGKA sinode van Kaapland aanvaar nie.
  • Die onafhanklikheidswording van die Republiek van Botswana in 1966 het unieke uitdagings aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie gebied. Dit was terselfdertyd ook ’n mylpaal wat bereik is, want vir die eerste keer is die kerk uitgebrei buite die grense van die Kgatleng-distrik, waar dit vir 90 jaar ingeperk was.
    • In 1968 begin die NGKA Mochudi met sendingwerk onder die nomadiese Basarwa bevolkingsgroep aan die westelike grens van Botswana. Die werk onder die kinders is in 1973 deur die sinode van Suid-Transvaal ondersteun, deur die bou van ’n koshuis op Kanagas
    • Die ring van Mochudi word in 1972 gevorm, om die werk van die gemeentes van die NGKA in Botswana te koördineer. ’n Totale lidmaattal van tussen 3000 en 4000 word op daardie stadium bereken.
    • In 1974 het die ring van Mochudi met sendingwerk deur ds. Isaac Moyo in die Francistown-gebied begin. ’n Sendingstasie is op Makaleng gestig.
  • Die onafhanklikwording van Botswana het die Nederduitse Gereformeerde Kerk, met haar bedieningspatroon van lidmate binne volksverband, in ’n unieke situasie laat beland. Botswana se veelrassige samelewingsbeleid het meegebring dat kerke ‘oop’ moes wees vir alle rasse. Daarbenewens het die Botswana-regering in 1973 ook ’n “Societies Bill” goedgekeur waarvolgens alle kerke by die regering moes registreer en hul konstitusies aan die regering moes voorlê vir goedkeuring
  • Ten einde aan die vereistes van die regering te voldoen is ’n skakelkommissie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, NG Sendingkerk en die NGKA in 1973 gekonstitueer om die aangeleentheid te hanteer en ’n weg vorentoe te vind. Die regering van Botswana het nou slegs een Dutch Reformed Church erken. Uiteindelik moes daar ’n keuse gemaak word tussen ’n streeksinode vir die NGKA in Botswana, óf die stigting van ’n selfstandige Dutch Reformed Church in Botswana (DRCB). Die moontlikheid van ’n selfstandige DRCB is na die onderskeie gemeentes verwys vir oorweging. Die ses gemeentes van die NGKA en die kleurling-werkkring in Werda het vir ’n afsonderlike DRCB gestem. Die blanke Nederduitse Gereformeerde Kerk gemeente op Lobatse het ook besluit om by die te stigte DRCB aan te sluit. Ghanzi se gemeente was onseker en Francistown se blanke Nederduitse Gereformeerde Kerk-lidmate het besluit om voorlopig nie in te skakel nie
  • In 1979 is die stigting van die DRCB deur die volgende sinodes goedgekeur: algemene sinode van die NGKA, die Nederduitse Gereformeerde Kerk sinodes van Wes-Transvaal, Suid-Transvaal, Wes- en Noord-Kaapland
  • Na hierdie goedkeuring verkry is kon die ring van Mochudi voortgaan met die konstituering van die nuwe Dutch Reformed Church in Botswana op 20 November 1979.
  • Die blanke NG Gemeente Protektoraat (Lobatse), wat bykans die hele Botswana se blanke lidmate bedien het, het by die nuwe kerk ingeskakel, voortaan as die DRCB Lobatse.
  • Die sinode van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland het in dieselfde jaar, op 17 Oktober 1979, van die sinode van Kaapland afgestig en verantwoordelikheid aanvaar vir samewerking met die NGKA Phororo in Noord-Kaapland, asook om die band van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland met die kerk in Botswana voort te sit.
  • Ander Nederduitse Gereformeerde Kerk gemeentes wat ná die totstandkoming van Mochudi deur die jare gestig/afgestig is, is:
    • 1885 – Sikwane
    • 1945 – Lobatse
    • 1963 – Mokgopeetsane (’n kleurling gemeenskap wat sedert 1915 daar gevestig het). Hierdie gemeente het weer in 1974 een geword met Gaborone
    • 1964 – Mochudi-West
    • 1969 – Mochudi-Oos
    • 1970 – Gaborone
    • 1977 – Makaleng
    • 1979 – Lobatse (vroeër Protektoraat)
    • 1987 – Ghanzi
    • 1989 – Selebi-Pikwe
    • 1998 – Kgalagadi
    • 2003 – Maun
    • 2005 – Phapane
    • 2006 – Tlokweng (afgestig van Gaborone)
  • Benewens sendingwerk onder die Batswana en die Kleurlinge deur die jare, was ten minste vier streeksinodes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk betrokke by die geestelike versorging van blanke lidmate wat in Botswana woonagtig was:
    • Sinode van Kaapland – Nederduitse Gereformeerde Kerk Protektoraat (Lobatse) was ingeskakel by die ring van Mafeking;
    • Sinode van SWA (Gobabis-Suid) betrokke by Ghanzi-distrik;
    • Sinode Midde-Afrika betrokke by Nederduitse Gereformeerde Kerk Francistown (en Bulawayo in Rhodesië);
    • Sinode van Noord-Transvaal (Blouberg en Koedoesrand) het enkele lidmate op verskeie plekke in Botswana bedien.

[Terug na bo]

2.2 AMPTELIKE SKAKELING
2.1 Personeel en vergaderings
Die taakspan Botswana, soos deur die vorige sinode saamgestel, is: Ds. FA Fouche, TC du Toit, dr. JJ Knoetze. me. T Grobler, mnr. JA Swiegers en ds. JPL Mostert (ampshalwe))
[Terug na bo]

2.2 Uitdagings wat DRCB die hoof moes bied
Die afgelope paar jaar het die DRCB inderdaad voor baie groot uitdagings te staan gebring:

  • Bedanking van sinodale saakgelastigde in 2009: Dit het die DRCB in ’n situasie gelaat waar hulle ontdek het dat hul banksaldo nul is, asook dat daar talle uitstaande rekeninge bestaan. Geen verslag is gedoen ten opsigte van die hantering van enige finansies nie en geen samewerking kon van die gewese saakgelastigde verkry word nie.
  • Konflik en spanninge rakende ’n vroulike leraar in die kerk: Die bevestiging van die eerste vroue leraar in die kerk het met hofsake gepaard gegaan. Uiteindelik het dit tot kerkskeuring gelei toe die betrokke leraar uiteindelik, na baie konflik in die gemeente, haar eie kerk met die aanhang van ongeveer 70 DRCB-lidmate gestig het.
  • Konflik en spanninge in kerklike vergaderings: Op gemeentelike, rings- en sinodale vlak was daar talle insidente van konflik, wat onder andere daartoe gelei het dat sommige gemeentes hulself aan die betrokke vergaderings onttrek het.
  • Eiendomme het vervalle geraak: Die talle woonhuise, asook ander eiendom wat aan die  sinode behoort, het deur die jare nie die nodige aandag ontvang nie en gevolglik in ’n groot mate vervalle geraak. Deur die gewese saakgelastigde is ook geen behoorlike kontrole oor verhuring van eiendom uitgeoefen nie en in verskeie gevalle is geen huur ingesamel nie.
  • Vanweë verskeie faktore (onder andere probleme met water- en elektrisiteit-aansluitings) kon die Townhouse-projek vir ’n periode na voltooiing nie inkomste genereer nie:
  • Die koshuis van die Mochudi Home Craft Centre het afgebrand. Die gebou was nie verseker nie.
  • Die gemeente Maun staan afsydig teenoor die DRCB en woon nie rings- en sinodale vergaderings by nie. Die gemeente Ghanzi het besluit om voorlopig aan hulself bloot waarnemer-status te verleen, totdat alle interne konflik opgeklaar is.

Maar, Goddank, Christus se verhaal met sy kerk in Botswana eindig nie hier nie! In 2008 is ’n nuwe moderatuur verkies wat die visie gehad het om die omstandighede in die DRCB om te draai tot eer van die Here. ’n Mens bly maar verstom staan hoe God sekere mense op sekere tye as sy gawes aan sy kerk gee! Onder die leiding van hierdie moderatuur, waarvan die meeste lede by die 2010 sinodesitting herkies en die moderatuur ook uitgebrei is, het daar inderdaad groot ‘hervorming’ in die kerk begin plaas vind!
Onder andere het die volgende onder hul leiding en inisiatief gerealiseer:

  • ’n Buitengewone sinodesitting in 2009 ten einde konflik in die kerk te probeer oplos het ’n baie positiewe impak gehad, alhoewel alle probleme op hierdie vlak nog nie heeltemal opgelos is nie.
  • ’n Behoorlike finansiële boekhoustelsel met gereelde verslag is in plek gebring. Aandag word gegee om die aangeleentheid betreffende die vorige saakgelastigde langs siviele weë te kan uitklaar, aangesien kerklike weë nie sukses kon behaal nie.
  • ’n Baie bekwame sekretaresse beman die kerkkantoor en die administrasie verloop vlot onder direkte toesig van die moderatuur.
  • Daar is ’n aanvang gemaak met die opknap van woonhuise met die oog op verhuring binne ’n hoër inkomstemark.
  • Die townhouse word tans as spreekkamers en kantore verhuur aan die Botswana Harvard Institute teen.

Wanneer ons na hierdie omstandighede en uitdagings van die DRCB kyk, wonder ons watter rol die volgende moontlik speel?:

  • Alle DRCB leraars (met die uitsondering van twee gemeentes, nl. Maun en Ghanzi – wat tans nie aktief betrokke is nie) is tentmakers. Almal het voltydse beroepe waar binne hulle staan en het letterlik net saans en naweke tyd om aandag aan die gemeentes en kerklike werk binne die kerkverband te gee.
  • Die hoë sterftesyfer (o.a. vanweë die HIV/Vigs-pandemie) bring mee dat die grootste gedeelte van leraars se naweke in beslag geneem word met die hou van begrafnisse. Die tradisie wat begrafnisse betref hou in dat daar ook in die voorafgaande week elke aand dienste by die huis van die oorledene gehou word. Alhoewel dit deur ouderlinge en ook ander kerke gehou word, is die leraar gewoonlik betrokke by die Vrydagaand-diens.
  • Die vlak van teologiese en kerklike opleiding van bykans al die leraars wat in die DRCB dien, is dié van sertifikaat-vlak en bring ’n enorme leemte mee. Daar is slegs enkele van die huidige leraars wat teologiese opleiding buite Botswana op ’n hoër vlak ontvang het.
  • Die kulturele belang van posisie en gesag wat leierskap betref, kook oor binne die kerk en het ’n negatiewe impak onder andere op die konflikpotensiaal binne die kerk. Die rol wat lojaliteite teenoor stamlede speel kan sekerlik ook nie buite rekening gelaat word nie.

Die uitdagings hierbo vermeld bied inderdaad ook aan die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland uitdagings om op vindingryke maniere hierdie kerk te ondersteun en bemoedig. Moketa ho tsoswa o itekang! – ’n Bees wat wil opstaan, word gehelp!
[Terug na bo]

2.3 Partnership Agreement
 Tydens ’n ontmoeting tussen die taakspan Botswana en die moderatuur, gehou op 22 Februarie 2007, is daar ooreengekom dat afgestap moet word van die huidig geldende ooreenkoms, naamlik die Deed of Agreement, ten gunste van ’n Partnership Agreement. ’n Konsep-ooreenkoms is namens die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland aan die moderatuur van die DRCB voorsien vir voorlegging aan die sinode van die DRCB. Die aangeleentheid het by die 2008-sinode van die DRCB gedien en is na die gemeentes verwys vir terugvoering. Blykbaar is finale terugvoer van gemeentes oor die aangeleentheid nog steeds nie formeel ontvang nie.
Dit is egter belangrik om die sloer met die bereiking van ’n amptelike ooreenkoms minstens te sien teen die agtergrond van die volgende:

  • Die persone wat die moderatuur tydens gesprekke verteenwoordig is nie altyd dieselfde nie en kontinuïteit word daardeur aan bande gelê.
  • Die administratiewe wanorde wat ontstaan het met die probleem rakende die saakgelastigde en die sinodale kantoor.
  • Die twis en swak verhoudinge tussen leraars onderling, wat die kerk vir ’n paar jaar geteister het.
  • Die swak verhoudinge tussen sommige leraars en hul gemeentes/individuele wyke.
  • Bogenoemde het die DRCB van soveel energie gestroop dat talle belangrike sake wat aandag moes ontvang, dit nie gekry het nie.
  • Die bediening aan Afrikaanssprekendes in Botswana vanuit SA-gemeentes (ook wat sakramentsbediening betref), sonder om die plaaslike gemeente/s van die DRCB in ag te neem, het minstens by sommige leraars/gemeentes agterdog en wantroue gesaai.

[Terug na bo]

2.4 Townhouse-projek
Na die aanvanklike gesloer wat betref die verhuring van die townhouse, word dit nou as spreekkamers en kantore verhuur aan Botswana Harvard Institute.
[Terug na bo]

2.5 Opgradering van eiendom
 Daar is ’n aanvang gemaak met die opknap van woonhuise en ander eiendom van die DRCB met die oog op verhuring binne ’n hoër inkomstemark.
[Terug na bo]

2.6 Kerkkantoor in Mochudi
’n Baie bekwame sekretaresse beman die kerkkantoor en die administrasie verloop vlot onder direkte toesig van die moderatuur. ’n Ope uitnodiging van die taakspan Botswana bestaan teenoor die moderatuur van die DRCB, ten einde behulpsaam te kan wees met advies indien benodig sou word.
[Terug na bo]

3. OPBOU EN UITBOU VAN KONINKRYK
3.1 Afstigting van gemeentes en ringe
Tydens die DRCB se sinodesitting van Desember 2010 is daar ’n besluit geneem om ’n beter indeling van ringe en gemeentes te oorweeg. Sommige wyke van gemeentes is ver van mekaar geleë, of word op so ’n wyse deur die jare bedien dat daar nie regtig ’n gevoel van samehorigheid bestaan nie. Die sinode van die DRCB het gekies om liewer sulke wyke as selfstandige gemeentes af te stig en sodoende ook voorsiening te maak vir ’n vyftal proponente wat nie aan gemeentes gekoppel is nie. Sedert 2014 is daar 19 gemeentes (was 14 gemeentes) en 4 ringe (was 2 ringe), naamlik Sikwane, Lobatse, Mochudi en Makaleng.
[Terug na bo]

3.2 Verdere toerusting van leraars
Die taakspan kon dit regkry om deur middel van onderhandelings ooreenkomste te vestig tussen die Universiteit van Pretoria en Kgolagano Kollege asook die NWU en Kgolagano Kollege. Hierdie ooreenkomste dien die Kerk in Botswana aangesien talle denominasies asook die van die DRCB se opleiding hier plaasvind. Die B.Th. graad van NWU is tans in die tweede jaar en hier is ook enkele DRCB leraars en lidmate wat die graad kursus volg. Verskeie kort kursusse van UP (Kontekstuele Bediening is ook aangebied.
Die moderatuur is tans ernstig daaroor om so ver moontlik te poog om die leraars in diens so goed as moontlik te kan toerus. Verskeie toerusting-geleenthede is ook reeds geskep, maar die bywoning word deur die moderatuur as baie onbevredigend ervaar. Hulle is egter hoopvol dat dit mettertyd sal verbeter en dat leraars die bedoeling daarvan al meer sal begryp. Die taakspan Botswana sien hierdie ontwikkeling as baie positief en iets waarmee die DRCB sterk ondersteun moet word.
[Terug na bo]

3.3 Uitreike
Met die verloop van jare het die ideaal van die sinode van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland (waaraan uiting gegee is in talle besluite en versoeke aan gemeentes), naamlik dat gemeentes vanuit die ons streek bande sal smee met individuele gemeentes van die DRCB, nog grootliks onverwesenlik gebly. Die gemeentes waarvan ons tans kennis dra wat benewens finansiële bydraes (d.m.v. ringe of die sinode) direk betrokke is by DRCB gemeentes, is: Kathu, Kuruman-die-Oog en Hartswater.
[Terug na bo]