Noorderharts

Beginjare

Immanuelsaal te Magogong waar die eerste eredienste gehou is

Om ’n duidelike beeld te kry van hoe God in ons nabye omgewing, die fondamente van die huidige ring van Warrenton gelê het, kan daar meer gelees word oor die vroeë geskiedenis van die gemeentes Warrenton, Jan Kimpdorp en Hartswater.
Voor 1840 is die gebied wat tans as Vaalharts bekend staan, deur Bantoes van die Batlapin-stam bewoon. Vaal en onaantreklik het hierdie groot vallei tussen die samevloei van die Vaal- en Hartsrivier gelyk waar verskillende Batlapin-stamme voortdurend in bloedige gevegte betrokke was.
Van 1840 tot 1870 was Vaalharts die sendingpad waarlangs die Lig van die Evangelie van Jesus Christus verder Noordwaarts gedra is. Na 1870 kry hierdie pad politieke en ekonomiese waarde.
In 1871 was Cecil John Rhodes deel van die stormloop na Kimberley. Sy ideaal was ’n spoorweg van die Kaap tot Kaïro. En die pad na die Noorde was die gebied tussen Warrenton en Mafikeng. Dit is die bekende “bottelnek” van Rhodes, die Suezkanaal van Suid-Afrika. Hierdie ideaal van Rhodes het vir die teenswoordige Vaalharts beteken, dat die Kimberley-Mafikengspoorlyn deur die gebied in 1894 voltooi is. Rhodes laat self in 1881-1882 die moontlikheid van ’n Besproeiingskema ondersoek en opmetings doen, nadat ontdek is dat die vloer van die Hartsriviervallei laer is as die vloer van die Vaalrivier by Veertien Strome.
Eers gedurende die jare 1921-1925 is die gebied intensief opgemeet en die grondstruktuur ondersoek.
Geleë in die Hartsriviervallei is die Vaalharts-besproeiingskema, die grootste aaneenlopende van sy soort in die Republiek van Suid-Afrika. Vaalharts ontleen sy naam aan die Vaal- en Hartsrivier. Dié name is onderskeidelik vertaal uit Khoekhoens (Hottentots) Haigarib (Vaalrivier) en Gaobgarib (Hartsrivier). Die ontwikkeling van die skema het vir talle, veral baie ongetroude jongmanne, ’n heenkome gebied gedurende die 1930’s. Van heinde en verre het werksmense toegestroom – van alle soorte.
Met hierdie geweldige nuwe ontwikkeling en konsentrasie van mense binne die gemeentegrense van Warrenton, het die kerk nie op haar laat wag nie, maar dadelik met die geestelike bearbeiding begin.
Nadat die Tweede Wêreldoorlog beëindig is, is baie van die teruggekeerde soldate (teen 1950 was daar 380 oudsoldate) in die Magogong omgewing van die Vaalharts-besproeiingskema, as proefhuurders geplaas. Buitedienste is eers in
die Laerskool Voorspoed gehou. Die kerkraad van die gemeente Hartswater het besluit om ’n kerksaal te Magogong op te rig. Met ywer en hartlike samewerking het die nuwe intrekkers van die Magogong-omgewing hand aan die ploeg geslaan om te werk vir die oprigting hiervan. So het die Immanuelsaal (op die huidige kerkterrein van die gemeente Noorderharts) met 325 sitplekke tot stand gekom. Teen Junie 1950 word met die oprigting van die kerksaal ’n begin gemaak. Die ingebruikname vind in Februarie 1951 plaas. Saam met ameublement het die gebou ongeveer R10,000 gekos.
Die afstigting van Magogong, Norlim, Taung en Pudimoe het ’n noodsaaklikheid geword. Aangesien hulle ’n kerksaal te Magogong en ’n kerkhuis te Taungstasie, asook ’n inter-kerklike kerkgebou te Buxton (Norlim) gehad het, was daar niks wat kon verhinder om af te stig nie.
Afstigting word op ’n kerkraadsvergadering, gehou op 25 Augustus 1951, deur ouderling PDM Basson bepleit. Op voorstel van oudl. CA van Wyngaardt, gesekondeer deur oudl. AJ Bosman, is tot afstigting van die huidige gemeente Noorderharts besluit. Hierdie voorstel is skynbaar eenparig aangeneem. Diaken AJ van Graan en oudl. AJ van Rensburg stel voor dat afstigting dadelik sou plaasvind. Ouderlinge AJ Bosman en BP de Wet stel voor dat die Immanuelsaal (die huidige Kerksaal van Noorderharts) met twee morge grond en die eiendom te Taung – ’n erf en ’n half met ’n saal en huis daarop – sonder skuldlas as bruidskat aan die gemeente geskenk word. Volgens waardasie ongeveer R10,400. Op voorstel van broeders De Wet en Kilian word aanbeveel dat J-persele bokant die spoor aan Magogong gesny sal word en J-persele onderkant die spoor aan Hartswater.
Op 13 Oktober 1951 het die gemeente Noorderharts van Hartswater afgestig met ’n ledetal van 602. Die sentrum van die gemeente was die Immanuelsaal. Die gemeentelike grense omsluit die geografiese gebied van die J- (bokant die spoor), K-, L-, M-, N-persele in die Vaalharts-besproeiingskema, Norlim, Pudimoe en Taungstasie en –dorp.
Gedurende hierdie tyd was prop. PK Roodt tydelik in die gemeente Hartswater behulpsaam. Ook hy was op die stigtingsvergadering teenwoordig. Aanvanklik is voorgestel dat die naam van die nuut afgestigte gemeente “Hartsvallei” sou wees. Aangesien die gebied by Weskanaal, wat ook in 1951 (van Warrenton) afgestig is, reeds aanspraak op die naam gemaak het, het prop. Roodt aan een van die kerkraadslede genoem om as naam voor te stel “Noorderhart”. Hierdie naam het algemeen byval gevind.
Die eerste herderspaar van die gemeente Noorderharts was prop. en mev. PK Roodt wat op 2 Mei 1952 ontvang is.
Op die Kerkraadsvergadering van 9 Februarie 1953 word besluit om ’n gerieflike en nie-weelderige pastorie op te rig. Die tender het R12,520 bedra. Hierdie sierlike en doeltreffende pastorie is as dubbelverdieping, vanweë die swak grondformasie, opgerig en dien tans nog as die trots van elke herderspaar wat dit tot dusver bewoon het.
Nadat ds. en mev. PK Roodt op 24 Junie van die gemeente afskeid geneem het, is tot die beroep van ’n leraar oorgegaan. Met die gekombineerde kerkraadsvergadering op 26 Oktober 1955 gehou, word ds. SJ Pieterse, vanaf Pofadder, hierheen beroep. Hy neem die beroep aan. Gedurende die eerste naweek van Februarie 1956 is hy en sy gesin in die gemeente ontvang.
Na die vertrek van ds. SJ Pieterse (afskeid 23 Januarie 1960), as tweede leraar van die gemeente, was die gemeente ’n jaar en twee maande vakant. Ds. JG du Plessis het as konsulent opgetree. Gedurende hierdie tyd is nie minder as dertien beroepe uitgebring nie. Die dertiende beroep word uitgebring tydens die gekombineerde Kerkraadsvergadering gehou op 19 Desember 1960. As herder en leraar van die gemeente word, prop. DMS de Swardt beroep.
Onder ds. De Swardt se bediening het daar ’n behoefte ontstaan aan ’n kerkgebou. Die kerkraad besluit op 1 Maart 1962 eenparig om tot die bou van ’n kerk oor te gaan. Op aanbeveling van die argitek is die tender van R37,979 deur die Kerkraad op 26 Oktober 1962 aanvaar. Op 25 November 1962 word die eerste sooi gespit. Na die treffende rede deur ds. CJ Odendaal, voorsitter van die ring, word die hoeksteen op 8 Junie 1963 deur ds. De Swardt gelê. Ondertussen het die bouery voortgegaan. ’n Besondere poging is aangewend om van die Boufondsbasaar ’n reuse sukses te maak, want dit het saamgeval met die ingebruikname van die Kerk op 20 Julie 1963.
Voorafgaande is ’n kort geskiedkundige oorsig van die gemeente. Niemand sal egter al die gebede, al die eredienste, al die stille gesprekke in die naam van die Here kan tel en beskryf nie. Niemand sal ook in staat wees om te kan sê hoeveel siele in die tyd tot bekering gekom het nie. Ons kan maar net vertrou dat die skat in die hemel ook so vermeerder het as die skat hier op aarde. “Aan Hom die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe al die eer en die heerlikheid”.
Die volgende leraars het die gemeente bedien:
Ds. SJ Pieterse – 1955 – 1960
Ds. PAH Grobler – 1964 – 1968
Ds. RJ Pottas1 – 969 – 1971
Ds. JI Potgieter – 1972 – 1975
Ds. JC Koekemoer – 1976 – 1994
Ds. EJM Bergh – 1994 – 2002
Ds. BP Benadé – 2004 – tot datum
Bronne
Aan God Die Eer – Gedenkblad Noorderharts, 20-21 Julie 1963
Bornman Hans, 1988. Vaalharts (Geskryf in opdrag van die Vaalharts Halfeeufees-komitee)
[Terug na bo]

Vandag

Die visie van die gemeente is: Onder die liefdevolle hand van Christus reik ons uit na elkeen.     
Die werksaamhede van die gemeente begin op ’n Sondag met die erediens. Daar versamel God die gelowiges voor Hom, God praat en die gelowiges luister, en dan stuur God die gemeente uit om gasvry te wees. Na die erediens vind die kategese plaas. Terwyl die ouers vir hulle kinders wag, word daar tee/koffie by die saal geniet en saam gekuier.
Die weeklikse Bybelstudie van die gemeente vind op ’n Dinsdagoggend om 09:30 by die pastorie plaas. Daar is ook ’n gebedsgroep wat weekliks op ’n Woensdagaand om 18:00 byeenkom om saam te bid. Huisbesoeke en siekebesoeke vind op ’n gereelde basis plaas gedurende die week in die gemeente.
Die gemeente is in 8 wyke ingedeel wat elkeen deur ’n ouderling en diaken gelei word. Binne wyksverband vind daar maandeliks gedurende die skoolkwartaal wyksbyeenkomste plaas onder leiding van die betrokke wyksouderling of die leraar.
Jaarliks vind die volgende aktiwiteite in die gemeente plaas:
Die eerste Saterdag in Maart hou die gemeente sy Basaar in Hartswater.

  • Na die Pinksterweek op Pinkstersondag is daar ’n gemeente-ete.
  • In Augustus is daar ’n Christen Manne Ontbyt (wat vir die afgelope 21 jaar al gehou word) en ’n Christen Vroue Ontbyt.
  • Gedurende September vind ons Rally plaas.
  • Die gemeente help ook met toegangsbeheer by die Vaalhartsskou wat in Oktober te Magogong plaasvind.
  • Die hoogtepunt van al die aktiwiteite vind op die laaste Sondag van November plaas. Die hoogtepunt is ’n Kerssang geleentheid met ’n geestelike sanger wat optree en mense voorberei vir die Kerstyd.

Die gemeente is betrokke by die plaaslike Ned Herv Kerk en Geref Kerke deur veral die volgende drie gesamentlike aktiwiteite wat jaarliks geskied:

  • ’n “Feminaar” vir die vroue gedurende Maart/April
  • ’n Mannenaweek op die tweede naweek in September
  • ’n Gesamentlike erediens op 16 Desember.

Goeie bande van samewerking bestaan met die AGS-gemeente en Volle Evangelie Kerk te Hartswater en die United Church of Magogong. Die leraars en pastore kom minstens kwartaalliks byeen vir gebed en reël gesamentlik die jaarlikse Wêrelddag van Gebed.
Die gemeente is finansieel betrokke by die organisasie Christian Youth Outreach (CYO). Dit is ’n onafhanklike organisasie wat ten oogmerk het die bediening van die Evangelie veral onder die kinders van die swart gemeenskappe. Die hoofaktiwiteite van die CYO is die stigting en ondersteuning van “youth clubs” in die skole, die gereelde hou van kampe en vakansie-uitreike.
Die CSV in die hoërskool te Hartswater het die volle ondersteuning van die gemeente en die leraar is saam met die ander Christelike kerke se leraars betrokke by die toerusting van kringleiers.
Die gemeente is ook finansieel betrokke by Huis Andalusia te Jan Kempdorp en by die NG Kerk Kinderhuis Noordkaap se Jannie Roux-kampus te Barkly-Wes.
Die kerkraad bestaan uit die leraar, 8 ouderlinge en 8 diakens. Die kerkraad en gemeente se werksaamhede word deur drie kommissies, die kommissie vir bedieningsondersteuning, die kommissie vir diensgetuienis en die kommissie vir hulpdienste, beplan en uitgevoer.
Die gemeente het egter oor die jare al kleiner geword en die huidige lidmaattal is 220 (46 dooplidmate en 174 belydende lidmate).

[Terug na bo]