Piet Plessis

Beginjare

Die dorpie Piet Plessis is in die Noordwes Provinsie, ongeveer 100 km noord van Vryburg. Die gemeente Piet Plessis, soos hy tans daar uitsien, het in 1956 van Stella en Vergelegen afgestig. Die gedeelte wat as Bethel bekendstaan, het van Stella afgestig en Piet Plessis van Vergelegen. Waar Bethel se kerk staan, sowat 22 km suid van Piet Plessis, is daar tans nog ’n skool, ’n paar huise, ’n winkel, ’n saal en die kerk. Die plek word Kadebis genoem en na die kerk word as Bethel verwys. Die gemeente het vandag nog twee preekpunte: Bethel en Piet Plessis.
Die eerste kerkraadsvergadering van die pas gestigte gemeente is op Maandag, 5 November 1956 onder voorsitterskap van ds. JM Swanepoel wat deur die Ringskommissie as konsulent benoem is, gehou. Die kerkraad het uit die volgende kerkraadslede bestaan, wat almal op die vergadering teenwoordig was: Ouderlinge: JM Croucamp, JC du Preez, FJ Engelbrecht, GJ Hanekom, AP Hough, WJ Odendaal en DC van Eeden. Die diakens was FN Celliers, CJS Dippenaar, PJ Moolman, HJ Nel, JLS van der Merwe, MW van Tonder en GD van Wyngaardt. Mnr. TWG Lerm was die eerste skriba. Die eerste koster op Piet Plessis was mnr. TJ Bolton en op Bethel mnr. PJ de Lange. Die orreliste vir Piet Plessis was mev. A Croucamp en vir Bethel mev. J Odendaal.
Ds. PAH Grobler is op 1 Desember 1956 as eerste leraar van die gemeente beroep. Aanvanklik het hy en sy eggenote by sy skoonouers naby Vergeleë gewoon, totdat tydelike huisvesting in die pastorie van die Geref. Kerk op Piet Plessis beskikbaar geraak het. ’n Pastorie vir die NG Gemeente moes dringend gebou word en op 3 Augustus 1957 kon die nuwe pastorie ingewy word!
Op 3 Maart 1945 skenk Theuns de Lange, die eienaar van die plaas Kadebis ’n stuk grond wat op die naam van die NG Kerk Stella geregistreer is. Die kerkgebou op Bethel is gedurende 1946 opgerig toe Bethel nog ’n preekpunt van Stella was. Die kerkgebou is deur Gert van Niekerk en Gert van Wyngaardt gebou. Die kerkgebou het die ou sinkkerkie vervang, wat vanaf Wildealsput (29 km van Piet Plessis in Stella se rigting) na Kadebis verskuif is, toe eersgenoemde nie meer ’n preekpunt was nie. Die kerkgebou doen steeds diens vir die lidmate van die Bethel-wyke. Die ou sinkkerkie is na die oprigting van die nuwe kerkgebou as kerksaal gebruik, maar later vervang deur ’n geboude saal. Die saal is ook afgebreek toe die boerevereniging van Kadebis die huidige saal gebou het. Tot in 1956 het Bethel (Kadebis) ’n preekpunt van Stella gebly.


Kerkgebou Bethel

 


Kerkgebou Bethel se hoeksteen

 

Vergelegen het op 1 Maart 1945 van Stella afgestig en Piet Plessis het toe ’n preekpunt van Vergelegen geword, terwyl Bethel steeds ’n preekpunt van Stella gebly het. Gedurende 1946 is die eerste kerkgebou op Piet Plessis opgerig. Kerneels Odendaal en Gerrie Koekemoer het die bouwerk behartig. Jan Burger van Klipdraai het die hoeksteen geskenk. Die kerkie was spoedig ook te klein en met die koms van ds. Grobler het hy hom beywer vir ’n nuwe en groter kerkgebou. Die huidige kerkgebou is deur Johan Lombaard gebou. Hy het later ook die kerksaal, aan die kerkgebou, gebou. Hy was ’n baie netjiese bouer en ’n gebou deur hom opgetrek bly as’t ware ’n pronkstuk vir die nageslag. Op 24 Februarie 1962 is die nuwe kerkgebou ingewy.


Kerkgebou Piet Plessis

 


Kerkgebou Piet Plessis se Hoeksteen

 

Ds. en mev. Grobler vertrek op 18 Januarie 1964 na Noorderharts en ds. en mev. WH Oosthuizen word op 13 Junie 1964 die gemeente se nuwe leraarspaar. Na slegs drie jaar vertrek die Oosthuizens op 10 Junie 1967. Na die Oosthuizens het die volgende leraars in die gemeente gedien: Dr. PH Landman, ds. AC van Wyk, dr. JD van der Westhuizen, di. A Scholtz, SE van Wyk en LB de Villiers.
[Terug na bo]

Leraars


Ds. PAH Grobler
Maart 1957 – Januarie 1964

 


Ds. en mev. M Oosthuizen
Junie 1964 – Junie 1967

 


Ds. PHCG en mev. HE Landman
Januarie 1969 – Januarie 1978

 


Ds. AC en mev. G van Wyk
Januarie 1980 – November 1985

 


Dr. JD en mev. M van der Westhuizen
Februarie 1986 – September 1992

 


Ds. AH (Anton) en mev. K (Karlien) Scholtz
November 1993 – Maart 1998

 


Ds. SE en mev. H van Wyk
25 Julie 1998 – 15 Januarie 2006

 


Ds. LB (Lendus) en mev. JC (Jeanne) de Villiers
Maart 2007 – Oktober 2018
[Terug na bo]

Enkele hoogtepunte

Die kerkgebou op Piet Plessis is ingewy op 24 Februarie 1962. Dr. EPJ Kleynhans, toenmalige moderator van die Algemene Sinode, het die feesrede waargeneem. Dr. Kleynhans het later berig dat dit vir hom ’n aangename ervaring was om met die kerkraad en gemeentelede geselsies aan te knoop. Die vriendelikheid van die mense was veral vir hom opvallend.
Op 17 en 18 Oktober 1981 vier die gemeente sy kwarteeufees. Dr. PH Landman lei die Saterdag die voorbereidingsdiens en ds. PAH Grobler neem die Sondag die nagmaalsdiens waar. Ds. Dries van Wyk skryf ’n beriggie vir die geleentheid wat so begin: “Piet Plessis gemeente is ’n gemeente wat geknel word deur die ontvolking van die platteland.” Die belydende lidmaattal was op daardie stadium 215. Mev. Mollie Oosthuizen onthul die gedenkplaat van die eerste kerkie wat later as ’n kerksaal diens gedoen het. Ongelukkig is die saal later heeltemal gesloop. Daarmee is die bouwerk van Kerneels Odendaal en Gerrie Koekemoer vernietig. Dit is interessant om daarop te let dat beide di. Oosthuizen en Grobler ook leraars van Vergelegen was voordat Piet Plessis afgestig het van Vergelegen.


Ds. Landman by Willie en Jacoba Odendaal

 

Die halfeeufeesviering van die gemeente het op 4 en 5 November 2006 plaasgevind. Op daardie stadium het die gemeente nie ’n leraar gehad nie, aangesien ds. Edwin van Wyk, na ’n beroep na Middelvlei in Januarie 2006 die gemeente verlaat het. Daar is nogtans besluit om fees te vier! Op Saterdag 4 November 2006 kom die gemeente op Bethel bymekaar. Ds. Edwin lei die voorbereidingsdiens en lidmate en oud-lidmate kuier lekker gesellig saam. Wynand Bester het ’n bees geskenk vir die geleentheid en die vure brand lekker hoog! In die saal is 50 kerse aangesteek. ’n Brief van gelukwensing van die ring van Mafikeng, wat deur die ringskriba, ds. Hans Barnard verwoord is, word voorgelees:
In opdrag van die Ringskommissie wil ek u as gemeente graag van harte gelukwens met die herdenking van u gemeente se 50ste bestaansjaar. Mag dit vir u gemeente ’n feestelike geleentheid wees om saam met oud-lidmate en oud-leraars die naweek saam lekker te kuier en al die onthou-jy-nogs van gister en eergister te kan deel. Groete in Christus. Ds J H de B [Hans] Barnard.
Verskeie oud-lidmate deel gebeure uit die verlede. Mev. van der Westhuizen vertel van hulle kinders se grootworddae op Piet Plessis en Hendrik de Wet vertel hoe sy stiefpa, oom Andries Hough sand en klip met ’n perdewaentjie aangery het vir die bouery. Ouderling Hannes Mans gee ’n kort oorsig van die ontstaan en groei van die gemeente. Op Sondag 5 November heet dr. Johan van der Westhuizen al die nagmaalgangers welkom. Ds. Edwin van Wyk neem die bevestiging van Lorika Kohn en Jana Cremer as nuwe lidmate waar. Hierna neem dr. Johan van der Westhuizen die nagmaalsdiens waar. Na afloop van die diens gaan drink elkeen ’n koppie koffie of tee of dalk ’n glas koeldrank saam met heerlike verversings.


Kerkraad: Halfeeufees 5 November 2006
Agter: G Blignaut, J Croucamp, H Mans, J Burke, J Dippenaar en P Heymans
Voor: B Seevinck, L Kapp, R Kohn, S Reynolds, T Burke en P Hugo.

 

Ds. Lendus en Jeanne de Villiers word in Maart 2007 as nuwe leraarspaar op Piet Plessis verwelkom. Op daardie stadium het dit maar moeilik met die finansies van die gemeente gegaan en hulp is van die sinode in Noord- Kaapland ontvang. Wynand Bester en ander lede van die Kerkraad het met ’n sogenaamde kalfprojek vorendag gekom. Dit het beteken dat elke lidmaat wat oor voldoende grond beskik ’n kalf of twee aan die kerk sal skenk en dan laat loop tot op bemarkbare ouderdom. Die gemeente is tans selfonderhoudend!
Ds. Lendus was van mening dat die gemeente ’n definitiewe missie moet hê. Na baie dinkwerk en vele pogings is die gemeentemissie geformuleer in die lig van Hebr.13:21:
“Mag God deur Jesus Christus in ons gemeente tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is deur: *Liefde vir God *Liefde vir mekaar *Uitreik na buite *Geestelike groei”.
Die missie van ons gemeente word uitgebeeld in ons embleem. Die aanvanklike ontwerp van die embleem is deur Susan Bester gedoen; die figure en die Bybel is van metaalplaat deur die “Blakermaker” van Parys gemaak; die kruis is van spoorwegdwarslêers gemaak en in albei kerkgeboue teen ’n muur vasgeheg deur lede van die Eiendoms- en Gemeentebedieningsdiensgroepe.


Gemeenteembleem op Piet Plessis

 

Met die koms van ds. Lendus as leraar, het die gemeente ook in sy eggenote, Jeanne, ’n uitstaande orrelis bygekry. Die ou orreltjie se beste dae was verby en op 27 Junie 2010 word ’n Lof- en Dankseggingsdiens met die ingebruikneming van die orrel gehou. Weldra het mev. De Villiers ’n kerkkoor op die been gebring wat jaarliks met goeie sang in die gemeente en ook by ander gemeentes opgetree het! Twee koorlede, Bart en Erica Diedericks het van hulle plaas net buite Stella, Piet Plessis toe gery vir die kooroefeninge en optredes.


Die nuwe Allenorrel

 

Jeanne het een keer per week leiding geneem met Bybelstudie vir dames. Dit was so gewild dat mans en dames van ander kerke ook per geleentheid die byeenkomste bygewoon het. Dit is egter moeilik om ’n geskikte tyd te vind wat almal pas en soms moes die Bybelstudie gekanselleer word omdat daar net nie ’n geskikte tyd gedurende die spesifieke week gevind kon word nie.
Ds Lendus het gereeld huis- en siekebesoeke gedoen. Ouderlingskoling is gereeld gehou om ouderlinge toe te rus vir Bybelstudie tydens wyksbyeenkomste. ’n Koordlose mikrofoon is aangeskaf sowel as ’n klankversterker en luidsprekers vir beide Bethel en Piet Plessis. Sondae na die erediens vind die kategese plaas en een keer per kwartaal hou Leo en Maliska Roets vir die kleiner kinders “kinderkerk” terwyl die erediens aan die gang is. Tydens een van ds. Lendus se kommissievergaderings in Kimberley, noem die leraar van Postmasburg, ds. O’Callaghan dat hulle ’n nuwe groter projektordoek gratis by die mynbestuur gekry het. Ds. Lendus sê toe grappenderwys dat ds. O’Callaghan die myn moet vra om aan Piet Plessis te dink as hulle weer ’n projektordoek het wat hulle wil weggee. Die volgende Sondag noem ds. O’Callaghan dit tydens die aankondigings aan die gemeente. Na die diens drink almal toe koffie of tee. Donasies word aan ds. O’Callaghan oorhandig en toe hy pastorie toe stap, het hy genoeg om vir Piet Plessis ’n splinternuwe projektor, projektordoek en skootrekenaar te koop en daarmee saam ook nog genoeg om ’n jaar se tantieme op die Liedboek se musiek en woorde, te betaal! ’n Datum is gereël en die apparatuur word deur die Postmasburgers gratis op Piet Plessis afgelaai! Piet Plessis bly steeds dankbaar vir hierdie geskenk, want nou kan die gemeente opkyk as hulle sing!
Die ou Marleyteëls in die kerk het gelyk of hulle gekrimp het en sommige se hoeke het afgebreek. Daar word besluit om alles te verwyder en nuwe teëls te lê. Die banke is verwyder en terwyl sommige die banke afskuur en ’n nuwe seëlaar opsit, maak ander die vloer met kookwater en spitgrawe skoon om die swart gom wat met die lê van die ou teëls gebruik is, te verwyder. Eindelik is alles skoon en die teellêery word vinnig en netjies gedoen. Die banke word op hulle plekke vasgesit. Volgende op die program is die geroeste kerktoring. Dit blyk spoedig dat om tot by die spits van die toring te kan skoonmaak en oorverf óf baie geld gaan kos, óf vernuftige denke. Die oplossing? Windpomptorings wat in onbruik geraak het. Wynand Bester, Leo Roets en Pieter Heymans “bou” ’n steier om die toring tot bo. Toe is dit skuur, onderlaag en verf. Ook die dakteëls word weer deeglik vasgespyker. Die liturgiese ruimte voor die kansel word ook netjies afgerond. Die eiendomsdiensgroep doen deeglike werk en om die kroon te span bring hulle ook diefwering voor die vensters en deure van die kerkgebou en kerksaal aan.
Die dames van die gemeente lewer ’n reusebydrae met hulle verkopings by die veilingskrale tydens veilings. Dis ook hulle wat altyd sorg vir iets te ete en te drinke met funksies of spesiale geleenthede. Met dankofferbasaars is dit hulle wat die leiding neem met die verwerking van die vleis, die bak van groot- en kleinkoekies en so meer.
Op 29 Oktober 2017 herdenk die gemeente die 500-jarige Reformasie en word ’n gedenksteen, wat deur Albie Stroebel van Taurus Signs op Vryburg vir die doel gemaak is en opgerig is deur Wynand Bester, deur ds. Lendus de Villiers in die kerktuin onthul. ’n Olienhoutboom word naby die gedenksteen geplant in medewerkende verbintenis met die Luthertuin in Wittenberg, Duitsland. Elke lidmaat kon ’n wit klippie by die geleentheid by die steen neersit. Al die klippies is sedertdien deur Wynand Bester om die gedenksteen in sement vasgesit.


Die Gedenksteen in Piet Plessis se kerktuin

 

Daar was ook tyd vir sport en ontspanning, straatbraaie en kuier. Dié wat hierdie byeenkomste bygewoon het, het dit baie geniet!


’n Paar van die lidmate by die straatbraai — in die pad reg voor die kerk!
[Terug na bo]

Bediening en projekte

Die gemeente werk met ’n Gawebediening waar lidmate volgens hulle gawes betrokke raak by dienswerk in die gemeente. Uitreike na buite behels projekte en geleenthede soos die vertoning van die Jesus-film in Botswana, op plase en woonbuurte in die omgewing. Hiermee saam is preke in Tswana op DVD en CD opgeneem sodat boere dit aan hulle werkers kan voorspeel. Die twee gemeentes van die NG Kerk wat geografies binne die grense van die NGKA val – Piet Plessis en Vergelegen – werk saam met die Tswelelopele gemeente van die NGKA om te help met die volhoubare bediening in die gemeente. Daar is ’n groterwordende behoefte aan Tswana Bybels in die gemeenskap en Bybels word teen ’n verminderde prys aan hulle verkoop. Die plaaslike polisie, skole en kliniek word jaarliks besoek waartydens hulle bedank en ondersteun word vir hulle bydrae in die gemeenskap. By hierdie geleentheid word hulle in gebed aan die Here opgedra en traktaatjies word aan hulle uitgedeel.
Die Ihuteng Dagsorgsentrum in die plaaslike Tswana woonbuurt, word deur die Diens van Barmhartigheids-diensgroep ondersteun met onder andere voedselhulp, toerusting, opleiding, organisering, welwillendheidsbesoeke en toesig oor die funksionering van die skool. Die leraar neem by geleentheid die opening van die Reitshokile-skool waar. Die matrikulante kry jaarliks ’n aandenking ter ondersteuning en aanmoediging vir die eindeksamen.
Gedurende die week van Pinkster word daar jaarliks ’n Projek Winterhoop geloods om klere en voedsel aan arm plaaslike gesinne en by die Portugese gemeenskap by Pomfret uit te deel. Gedurende Pinkster word jaarliks ook ’n Marathongebed van die Vrydag tot die Sondagoggend gereël. Die kerkkoor tree ook tydens Pinkster op. Met die 75ste verjaarsdag van die Bybel in Afrikaans, is ’n Bybelleesmarathon gehou waartydens die Bybel in drie dae deurgelees is. Jonk en oud het hieraan deelgeneem. ’n Gebedsketting funksioneer deurlopend binne die gemeente. Kerssangdienste word jaarliks gereël en aangebied saam met die kerkkoor. Een keer per jaar vind ’n Lof- en Dank-sangdiens plaas waarna die gemeente saam eet. ’n Kersliederepiekniek vind jaarliks op die laaste Sondag voor Kersfees plaas en die hele gemeenskap is welkom om dit by te woon.
Alhoewel kampe nie elke jaar aangebied of gereël word nie, word daar periodiek Vrouekampe, Gemeentekampe, Mannekampe, Ouerleidingkampe, Huweliksverreikingkampe of Jeugkampe gereël soos wat die behoefte vir sodanige kamp ontstaan of versoek word. Lidmate van ander kerke of gemeentes is welkom om ook hierdie geleenthede by te woon. Hierdie kampe is dikwels op Leeuwbosch Lodge, ongeveer 60 km oos van Piet Plessis, aangebied, omdat dit weg van geraas en ander afleidings geleë is. Die stilte en rustigheid in die ongerepte natuur het bygedra tot die sukses van die kampe. Lidmate het gereeld aangedui dat hulle baie baat by hierdie kampe gevind het.

Samesteller: Hannes Mans Oktober 2018
[Terug na bo]