Prieska

Beginjare

Prieska

Prieska eerste kerkgebou

Niekerkshoop eerste kerkgebou

Niekerkshoop huidige kerk word ingewy

Die gemeente is op 11 Maart 1878 gestig. In die beginjare is die eredienste onder bokseile gehou. Later jare is ’n groot tent opgeslaan as die gemeente deur haar eerste konsulent, Ds. Jordaan, die predikant van Victoria-Wes, besoek is.
Ten opsigte van gemeentegrense val dit op dat die noordelike grens van die gemeente op geen punt die Oranjerivier oorskry nie, en dit ondanks die feit dat daar toe reeds etlike plase noord van die Oranje was en deur lidmate van die gemeente bewoon is. Die rede hiervoor:
In 1878 was Griekwaland-Wes nog ’n Britse Kroonkolonie buite die limiete van die Kaapkolonie. Eers na 1880 kon die Kerkraad van Prieska amptelik Griekwaland-Wes betrek nadat die Kaapse Parlement ’n wetsontwerp aangeneem het dat Griekwaland-Wes by die Kaapkolonie ingelyf is.
Vanaf 1886 aanvaar Prieska ook verantwoordelikheid vir lidmate noord van die Oranje
Die eerste predikant van die gemeente was ds. A Ahrbeck en die eerste kerkraad het uit 6 lede bestaan. Die eerste kerkgebou is in 1881-2 opgerig en het £4,500 gekos. Die boumateriaal is in Port Elizabeth aangekoop en moes by Aberdeen stasie afgehaal word.
Ds. Ahrbeck is deur ds. RJ van Niekerk opgevolg. Tydens sy bediening is ’n ruim pastorie aangebou. Hy is opgevolg deur ds. AGT Venter wat ’n kerksaal laat bou het. Ds. Venter is in die fleur van sy lewe oorlede en eerw. AF Weich het die gemeente tydens die vakature bearbei. Op 12 Februarie 1916 is ds. WJ du Toit bevestig. Tydens sy bediening is geld bymekaargemaak om ’n doelmatige kerkgebou op te rig.
[Terug na bo]

Niekerkshoop
So vroeg as 1896 is al gedink aan die aankoop van die plaas Modderfontein as setel vir ’n dorp, maar die plan is kort daarna weer laat vaar.
Vanaf 1890 is buitekerk te Modderfontein (Niekerkshoop) gehou.
In 1893 was daar blykbaar weer sprake van die stigting van ’n dorp (en gemeente). Lidmate van die Prieska gemeente wat woonagtig was aan die Griekwastadse kant van die Oranjerivier (lidmate te Koegas) rig ’n versoekskrif: “Hulle wil onder geen omstandighede opgeneem word onder die nuwe gemeente (‘Modderfontein’) nie”. Die kerkraad voldoen aan die versoek.
Die dorp Niekerkshoop is deur die broers JP en JD van Niekerk in 1899 aangelê op ’n vrugbare plaas met die naam Modderfontein. Die dorp het ’n standhoudende fontein gehad. Met sy honderde groen bome het die dorp “enigsins het aansien heeft van een bôlands dorp”.
In 1899 word die dorp Niekerkshoop aangelê. Dit het die drang na die stigting van ’n gemeente laat toeneem. Daarvoor moes vooraf verlof gekry word vanaf Griekwastad en Prieska, omdat ’n aansienlike deel uit hierdie twee gemeentes by die te stigte gemeente gevoeg sou word. Prieska is teen die stigting van die gemeente gekant.
Die gemeente is deur die ringskommissie van Dutoitspan op 29 Maart 1904 gestig. Voor die stigting is die Woord en die sakramente om die beurt deur predikante van Prieska en Griekwastad bedien. Van die gemeente Griekwastad is ’n aansienlike deel afgesny om die gemeente Niekerkshoop te vorm.
Na afstigting het die konsulent, ds. P Stroebel van Griekwastad die eredienste waargeneem. Omdat daar nog geen kerkgebou was nie, moes die pakhuis van die broers Van Niekerk vir eredienste gebruik word.
Op die eerste kerkraadsvergadering word die aanbod van die Van Niekerk broers aangeneem om ’n kerkgebou op te rig en vir tien jaar te huur. Die kansel, banke en lampe het van Robertson se kerk gekom. In Februarie 1906 is die kerk klaar gebou. Toe die huur in 1916 verstryk, is die kerkgebou deur die kerkraad aangekoop. Die kerk het sitplek vir 300 mense gehad. Die gemeente het op die stadium ’n sieletal van 1,400 gehad en tydens nagmaalsgeleenthede was die kerkgebou te klein.
Die eerste leraar was ds. JR Hugo en hy is in Januarie 1907 bevestig. Hy is in die tuig, in die jeugdige ouderdom van 38 jaar, oorlede. ’n Marmerplaat hang binne die kerk ter herinnering aan hom.
Ds. JA van Zijl le Roux het hom opgevolg en hy is in Mei 1915 bevestig. Hy het die voorreg gehad om die Woord op die kansel (wat vanaf Robertson gekom het) te verkondig. Die kansel het vir hom groot emosionele waarde gehad: sy vader het voor dié kansel belydenis van geloof afgelê en is ook voor die kansel in die huwelik bevestig. Hyself is ook gedoop en het voor dié kansel belydenis van geloof afgelê.
[Terug na bo]

Koegas
Koegas was as’t ware die twisappel! In 1893 is begin met die ontginning van “garingklip” (asbes) by Koegas en Westerberg. In 1893 toe daar vir die eerste maal sprake was van ’n nuwe gemeente met Modderfontein as sentrum (sedert 1899 bekend as Niekerkshoop) het die inwoners duidelik en beslis te kenne gegee dat hulle onder Prieska wou bly. Dit was ook hulle standpunt met én na die stigting van Niekerkshoop in 1904.
Vanaf 1895 is gereelde buitedienste te Westerberg gehou. Die lidmate te Koegas bou op eie houtjie ‘n kerkie en dit word op 18 September 1896 ingewy.
Die feit was egter dat Koegas geografies binne die grensgebied van die nuutgestigte gemeente van Niekerkshoop geval het! Tog het die predikante van Prieska en Griekwastad voortgegaan om, om die beurt op Koegas dienste te hou en die sakramente te bedien. Die kerkraad van Prieska het in 1903 die kerkgeboutjie oorgeneem.
In 1905 het Prieska se kerkraad ’n gemeentevergadering gehou om te besluit of Koegas van Prieska afgesny kan word: máár die gevoel teen aansluiting by Niekerkshoop was só sterk dat dit nie gedoen is nie.
Die Ring van Dutoitspan was nie tevrede met dié toedrag van sake nie.
Die Kerkraad van Prieska kry opdrag om die mense van Koegas te oorreed om na Niekerkshoop oor te gaan – máár die mense wou nie! Waarop die predikant van Prieska, ds R van Niekerk weier om verder dienste te Koegas te hou. Die band tussen Koegas en Prieska is in 1908 finaal gebreek. Op 19/20 Desember 1908 hou die predikant van Niekerkshoop vir die eerste keer ‘n diens te Koegas.
Terwyl die asbesmyn te Koegas in bedryf was, het die twee wyke van Koegas ’n kwart van die gemeente van Niekerkshoop uitgemaak en byna ‘n helfte van die sendinggemeente.
[Terug na bo]

Volop (Bakenskop)
Die geskiedenis van hierdie gedeelte van die gemeente voor afstigting, is nie baie duidelik nie. Wat wel bekend is, is dat die predikante van Prieska en Griekwastad om die beurt op Dabep dienste gehou het. Op 28 Januarie 1907 besluit die Kerkraad om verlof te vra van broer J. de Wet, Zaalwerven om by sy huis buitedienste te hou.
Die kosinrigting vir behoeftige kinders bring ’n saamtrek van ouers op Bakenskop mee wat daartoe aanleiding gee dat die buitedienste daar gehou word. So lees ons dan ook in die notule van 31 Mei 1930 dat ’n versoek van lidmate om ’n kerkgebou op Bakenskop op te rig ernstig bespreek word.
Wanneer die kerkgebou aldaar in gebruik geneem is, kon nie presies vasgestel word nie, maar op 7 September 1935 word die direksie gekies vir die sorg van die Kerkgeboutjie te Volop.
Die volgende aanhaling kom uit die halfeeufees bundel van die NG Kerk Niekerkshoop: “Sedertdien word daar gereeld buitedienste gehou en die sakramente bedien, alhoewel die aannemingsbesluit weer herroep is. Hierdie deel van die gemeente is dan ook steeds aan die ontwikkel en wie weet, miskien, as dit die wil van die Here is, sal hierdie deel van die gemeente binne die volgende klompie jare ‘n eie selfstandige gemeente wees. ‘n Doel waarna beslis gestrewe moet word omdat dit groot heil vir die siele en tot uitbreiding van Gods Koninkryk sal strek”.
[Terug na bo]

Marydale
In 1903 het GP Snyman sy plaas Kalkput in erwe laat uitmeet en as kerkdorp met die naam Marydale aan die Ned Geref Kerk geskenk. Marydale sou egter eers in 1917 as dorp geproklameer word. Marydale was ’n mooi, vrugbare, waterryke dorp wat baie belofte ingehou het. Die dorp het dorpsgronde vir weiding van byna 9,000 morge gehad. Marydale was 2 myl van die Draghoender spoorwegstasie.
Die naam van die gemeente kom van Maria, die naam van die eggenote van ene PG Snijman, die oorspronklike eienaar van die plaas Witputs. Hy het by die stigting van die gemeente nog 108 onverkoopte erwe aan die kerkraad vir £950 verkoop. Hy het tevore alreeds 11 erwe geskenk vir ’n kerk, pastorie en geboue.
In 1904 verskyn ’n deputasie van Marydale voor die Kerkraad van Prieska om te vra vir die stigting van ‘n gemeente. Die kerkraad is egter oortuig dat die tyd nog nie ryp is nie. In 1905 begin Prieska met kwartaallikse buitedienste te Marydale. Die mense van Marydale het hierdie dienste só waardeer en die inwonertal het só toegeneem, dat die Kerkraad in 1911 besluit om ‘n ekstra diens saam met die kwartaallikse dienste te hou. Vanaf 1915 kon die predikant van Prieska per trein na Marydale reis vir die buitedienste.
In 1916 word prop. CJ Brink aangestel as hulpleraar om vir 6 maande evangeliese werk te Marydale te doen.
Die gemeente is op 10 November 1916 deur die ringskommissie van Britstown gestig. Die kerkraad is op 23 Desember bevestig en hulle het dadelik besluit om die dorp vir £950 oor te neem. Die skoolgebou is aanvanklik as aanbiddingsplek gebruik.
[Terug na bo]

Vergesig
Vroeg in 1969 word koper op die plaas Vogelstruisbult ontdek. Teen Oktober/November was daar reeds soveel lidmate aldaar dat Prieska besluit om ’n ekstra wyk dáár te stig.
Teen 1972 was die sieletal van die kerk te Copperton ±500. Die skoolgebou is nie meer geskik vir dienste nie. ’n Derde leraar word beoog en in Oktober 1974 is die pastorie voltooi. In 1975 begin ds. Ben Smit sy werksaamhede te Copperton.
Die gemeente Vergesig word op 9 Maart 1975 gestig. In 1977 was daar 300 belydende en 800 dooplidmate.
Vergesig gemeente ontbind op Sondag 22 November 1987 en skakel in by Prieska.
Bronne
Ons Kerk Album, bladsy 124
Ons Kerk Album, bladsy 130
Ons Kerk Album, bladsy 149
Halfeeufees bundel van die NG Kerk Niekerkshoop
Smit, AP. 1978. Prieska se gister – eeufeesgedenkboek 1878-1978
[Terug na bo]

Vandag

Prieska huidige kerkgebou

Niekerkshoop huidige kerkgebou

Marydale huidige kerkgebou

Die historiese en geografiese ontwikkelinge in die drie Westelike gemeentes van die Ring van Hopetown [Prieska, Marydale en Niekerkshoop] het sedert die sinode van Noord-Kaapland 1993 waartydens die saak van “kleinerwordende gemeentes” vir die eerste keer akuut op die agenda gekom het, ’n eiesoortige proses deurloop. Daarna het hierdie drie gemeentes verskeie onderskeie strategiese beplannings-sessies insake hulle spesifieke situasies deurloop.
Die drie Westelike gemeentes het op ’n vergadering op 13 September 1997 op Prieska besin oor moontlike modelle van samewerking in terme van die Kerkorde Reglemente 6 en 12. Dit het egter gou geblyk dat hierdie reglemente nie die spesifieke aard van die heersende omstandighede wat tot die inter-gemeentelike gesprek aanleiding gee, voldoende aanspreek nie. Die uiteinde van die eerste gesamentlike gesprek was egter dat die lede teenwoordig tot die oortuiging gekom het dat ’n proses van eenwording van die drie gemeentes die enigste werklike langer-termyn oplossing vir die verskynsel van die kleinerwordende plattelandse gemeente, skyn te wees. ’n Loodskomitee is aangewys wat bestaan het uit verteenwoordigers uit elkeen van die drie gemeentes. Die leraars van Niekerkshoop en Prieska het sedert Marydale vakant geraak het, ’n preekprogram wat die bediening van die sakramente insluit, saam met en vir Marydale behartig.
Intussen het die Sinode 1997 plaasgevind, maar tot die teleurstelling van die ring was die sinodale kommissie vir orde nie te vinde vir die ope gesprek oor die aangeleentheid tydens die sitting nie. Daar is goeie rede om te vermoed dat spesifiek die gemeentes uit die groter sentra, wat almal geworstel het met die algemene sinode 1994 se besluit oor diffuse grense tussen gemeentes en die gevolglike werklikheid van lidmate wat onordelik heen en weer tussen gemeentes trek, nie die risiko van so ’n oop gesprek wou loop nie.
Die saak van die drie westelike gemeentes word terugverwys na gemeentes – “plaaslike gemeentes het eiesoortige omstandighede – hulle moet self besluit”. Drie gemeentes se kerkrade gee ’n mandaat dat gesprek oor eenwording moet voorgaan.
Die gemeentes Marydale en Niekerkshoop het hulle gemeentes en kerkrade se erns met die eenwordingsgesprek verder onderskryf deur die kerkraad van Prieska en die loodskomitee skriftelik te versoek om die gesprek oor eenwording nou ’n hoë prioriteit te gee.
Die drie gemeentes word een gemeente op 1 Maart 2001 en staan bekend as die Ned. Geref. Kerk Prieska.
[Terug na bo]

Embleem


[Terug na bo]