Williston

Beginjare

“Toen de Naturellen in het Noordwesten in de uitgestrekte gewesten van Carnarvon, Calvinia en Fraserburg bearbeid werden door zendelingen van het Rhijnsch Genootschap, liet een van hen een ongekraakte amandel in de fontein vallen, welke ontspringt boven het tegenwoordig dorp Williston en als vrucht daarvan staat die oude geknarrelde boom nog, die den naam aan de gemeente heeft gegeven”.
Kerklik het die gemeente Amandelboom (Williston) deel gevorm van die ontsaglik gemeente van Fraserburg wat in 1851 van Beaufort-Wes afgestig is. Op 16 Oktober 1878 is die gemeente Amandelboom gestig.
Ds. WP de Villiers is as konsulent benoem. Die kerkraad het daarin geslaag om met behulp van die moedergemeente en die ring die kerk en die ander eiendomme van die ontbinde gemeente van die Rynse Sendinggenootskap te verkry. Die genootskap se sendingwerk is gestaak omdat die Bastergemeenskap Amandelboom verlaat het en noordwaarts verhuis het.
’n Koster, heer Van Taak is aangestel om na die eiendom te kyk teen ’n salaris van £1 per maand.
Ds. SH Kühn is as eerste leraar op 8 Augustus 1880 bevestig. Die sieletal was op hierdie stadium 565 en die lidmaattal 261. “Die voorsitter (dis ds. Kühn, die bruidegom self!) gee kennis aan die vergadering dat hy teen die tyd dat hy vir hom ’n vrou trou, verhoging van salaris verwag; sê 52 skape in die jaar en 12 mud meel”.
Verskeie en gereelde fondsinsamelings vir die kerkboufonds is van stapel gestuur ten spyte van die kwaai droogtes van 1901-1903 en 1907-1908. Op 21 November 1904 word besluit dat ’n nuwe kerk gebou moet word. Die hoeksteen van die kerk is eers op 2 November 1912 gelê. Binne ’n jaar is die gebou voltooi. Die kerk het £8 000 gekos en dit is op 31 Augustus 1913 ingewy.
In 1914 is die leraar se salaris verhoog tot £400 per jaar en die nodige pensioenfondsreëlings is getref. Die koster het nou ’n salaris van £50 per jaar verdien.
Van ds. Kühn word die volgende gesê: “… en hoewel een degelijk man, praktische prediker en getrouwe herder, houdt hij zich stil; en omdat hij veel maakt van zijn studeerkamer, diep peinst en aangenaam kan gezelsen met de weinigen die hem bezoeken, wordt hij genoemd ‘de philosooph van het Noordwesten’”.
Ds. Kühn het die noodkerk, wat alreeds bestaan het toe hy in Williston bevestig is, laat verander en vergroot in ’n kerkgebou wat “de hoofdfiguur uitmaakt in het dorpje, dat zich eenigzins wegsteekt in de drooge Karroo, in een land dor en mat zonder water. De pastorie echter, heeft een lief en vruchtbaar tuin, voor welk de inwoner goed zorg draagt en waarin de wijsgeer den tijd verkort”.
Ds. CF Scheepers is op 21 Junie 1920 as tweede leraar bevestig.
Om en by 1951 het die kerkraad besluit om die ou tradisieryke naam van die gemeente, Amandelboom, te vervang met die naam Williston soos die dorp trouens heet. Die naamsverandering is om praktiese redes gedoen, nl. omdat die dorp ’n ander naam as die gemeente gehad het. “Vir posstukke om verseker hulle bestemming te bereik en om twyfel uit te skakel moes die naam Williston tot nog altyd met die naam Amandelboom saamgeskrywe word”.
Bronne
Ons Kerk Album, bladsy 82
Kotzé, DA. 1978. Amandelboom staan in die bloei
[Terug na bo]

Vandag

Die visie van die Ned. Geref. Kerk Williston is:
Ons Here en bewaker staan gereed om fonteine in ’n dor land oop te breek.

[Terug na bo]