“Save the Date”
Vrouefees te Deo Gloria (Barkly-Wes)
14-16 September 2018
Met die Sappige Vonkelvrou Elsabé Aldrich
Moet dit nie misloop nie!
Inskrywings open April 2018
Taakspan NGK Vroue van die sinode in Noord-Kaapland bied elke tweede jaar ’n Vrouefees aan. Vanjaar is die dames van die ring van Upington en ring van Kenhardt verantwoordelik vir die reëlings.
Volledige inligting sal in April beskikbaar gestel word.
Ek deel voorlopig iets oor Elsabé Aldrich. Op die webblad Elsabé Aldrich word die volgende meegedeel:
Elsabe het aan die sy van haar diplomaatman al in Londen, New York, Windhoek en Washington gewoon. Sy is ’n oud-dramastudent, oud-onderwyseres, oud-ambassadeursvrou, oud-verfkontrakteur, oud-bemarkingsbestuurder, oud-eiendomsagent, oud-boervrou en oud-skakelbeampte. Sy het ’n nagraadse diploma in Suggesto-pedagogiek verwerf en oor drie jaar besoekende buitelandse dosente en studente basiese Afrikaans leer praat aan die Universiteit van Stellenbosch.
Sy is die afgelope tien jaar ’n pretprater, motiveringskonsultant en opleier. Sy tree dikwels op as seremoniemeester en geleentheidspreker. Sy bied personeelverrykingseminare aan met temas soos leierskap, bestuur en die wengewoontes van sukses. Haar trefwydte is van die korporatiewe wêreld tot kerkgroepe.
Sy lei ook kinders en volwassenes op oor spontaan praat voor mense met haar werkswinkel LIG JOU KEN EN Sê JOU Sê. Sy is die dogter van ’n skrywersma en volg graag in haar voetspore. Daar het al ses boeke uit haar pen verskyn. Van haar tienerboek Is jy cool of common? is reeds meer as 30,000 kopieë verkoop en ongeveer 10,000 kopieë van Vonkelkyk op die lewe deur Carpe Diem Drukpers. Sy het reeds vier CD’s op die mark vir luister op die langpad, veral as jy nie tyd het om self al die boeke te lees nie. Dit handel oor humor, ouerskap en oorwinning oor oudword en papgeklaptheid. Elsabe is ’n bekende vir Finesse-tydskriflesers.
Elsabe is die stigter en sameroeper van ’n vriendskapsklub vir vroue, naamlik die Bevryde, Sappige Vriendinne en organiseer jaarliks sprankelgeleenthede waartydens sy, ander sprekers en kunstenaars optree om vir vroue kuierkans, pitkos en pret te bied. Die mikpunt is om uiteindelik landswyd en in Namibië takke te hê.
Op ’n persoonlike noot: sy is al 39 jaar getroud met haar eerste liefde, Stephan, tans ’n prokureur. Hulle het drie kinders: Stephan (31), Catrina (28) en Dirk (24).