Leef met hart en siel – briekloos vir Christus. Wat ’n wonderlike uitdaging vir 2018. Hier in ons area is dit plek-plek horingdroog, plek-plek half droog en plek-plek is daar inwoners wat breed glimlag. Ons leef egter steeds met hart en siel en wag vir daardie algemene diepnat en reën wat sommer sjor! Die Goeie Vader het ons nog nooit gefaal nie.
Briekloos vir Christus – hoe kry jy dit reg om deur droogte, deur krisisse en siekte en baie ander rampe steeds so moedig te leef? Jy kry mense om jou opnuut te inspireer, net uit te help uit die diep swart gat waarin soveel van ons gemeentelede soms val en net nie op eie houtjie weer bo kan uitkom nie. Niks skandaligs daaraan nie – dit gebeur met die grootste Christene en ekself staan soms verwonderd oor die grasie waarmee hul dit hanteer. Die beste nuus is egter dat juis wanneer jy niks is nie, God oorneem en Hy kan wonderwerke laat gebeur. Soms gebruik Hy persone om jou net weer daardie geestelike inspuiting te gee.
Ons gemeente word deur ’n entoesiastiese geesvervulde herderspaar gelei waarvoor en waaroor ons diep dankbaar is, maar selfs hulle het soms net daardie iets ekstra nodig om met hernude moed skouer aan die wiel te sit. Ons lewe in ’n era van soveel mense soveel menings. Ek voel net dat ons as lidmate ondersteunend moet wees, vol begrip en betrokke moet wees. Deesdae is daar ’n behoefte aan geestelike versterking omdat die aanslae al hoe feller word en ons moet mekaar aanmoedig om die wenstreep te haal.
Ons het met behulp van die kerkraad die voorreg gehad om net weer te sien hoe maklik dit is om Christenskap uit te leef. Dis die grootste voorreg – God het vir ons Sy Seun gestuur en sodoende het ons die grootste genadegawe ontvang. Wat moet jy doen? Oefen jou keuse uit – kies God en die Heilige Gees help jou om briekloos vir Christus te leef en Hom te dien met alles wat binne-in jou is.
Ons het ’n paar sulke manne beleef – ds. Heinrich Viljoen en sy meelewende orkes en koorgroep van Kathu wat al twee lofprysings op Vanzylsrus kom aanbied het.
Toe kom besoek Danie Botha ons ook – hoe heerlik – wie gaan Hemel toe… ek kom saam.. halleluja. Mense het verskillende gawes ontvang. Party kan sing en die Bybel vers vir vers onthou, ander preek, ander dien, ander betoon barmhartigheid en deel gasvryheid mildelik uit, ander bid… solank ons net briekloos vir Christus leef. Kom ons dra die vrug van die Gees. Kom ons gee en doen en dien sonder om moeg te word en as jy moeg word laat ander jou hande vat en leef met hart en siel.
As jy self swaarkry ken, sien jy gou as ander swaar kry. Ons gemeente was in die bevoorregte posisie om self uit te reik na Carnarvon en het 720 sakke voer ten bedrae van R108,000 aan hulle geskenk na ’n insameling.
Ons reik uit na ons kinderhuis te Barkly-Wes en skenk vir ongeveer 130 plus kinders elkeen ’n paar veldskoene ter waarde van R56,150.
Ons dank die Vader vir harte wat ontvanklik is vir die stem van God om ten spyte van knellende finansies nog behoeftiges raak te sien en iets daaraan te doen. Dankie Vanzylsrus gemeenskap – dit maak dat ek nou-al amper ’n halfeeu hier kan bly en help dien en help doen. Dankie Liewe Jesus vir sagte harte, vir empatie en voorvatters wat ons kan inspireer. Na alles is ons grootste taak om God te dien in liefde… met hart en siel te leef en bowenal briekloos vir Christus te leef. Mag Hy ons ryklik seën. Kom ons vat hande, hef hul op na Bo en dien en eer ons Vader soos wat ons moet!
(Chummy de Bruin – Vrouediens Ned. Geref. Kerk Vanzylsrus)