Die doelstelling met VKO Sentrums is om die ontwikkeling van die kind vanaf ’n baie vroeë ouderdom te stimuleer ten einde sy/haar volle potensiaal te bereik en ’n positiewe bydrae te lewer tot die gemeenskap waarin hulle hul bevind. Ten einde hierdie doelstelling te bereik word daar gefokus op ’n holistiese benadering van die kind in die voorskoolse fase van sy/haar lewe. Die einddoel is om die kinders se ontwikkeling op so ’n wyse te laat geskied dat die kinders gereed sal wees vir hul Graad R jaar. Die ouers van hierdie kinders het toegang tot hierdie Sentrums en ontvang ouerleiding vanaf die personeel van Caritas.
Caritas beskik oor drie personeellede wat by die VKO Sentrums betrokke is. VKO Sentrums is nie speelgroepies nie. Die kinders word intellektueel, emosioneel, liggaamlik en geestelik voorberei vir die lewe en kry van dag een af blootstelling aan dissipline, higiëne, gesondheidsopvoeding en sosiale verkeer met ander kinders. Gebalanseerde etes word vir elke kind elke dag aangebied. Dit alles geskied met skoolgeld deur die ouers betaal en fondse wat maandeliks vanaf die staat per kind ontvang word.
Daar is 45 praktisyns en 17 kokke werksaam by die verskillende Sentrums. Hierdie praktisyns (leerkragte) en kokke is nie personeel van Caritas nie, maar staan onder die toesig en bestuur van ’n Bestuursliggaam wat uit lede van die gemeenskap saamgestel word. Kinders is vanaf 07:00 – 17:00 by die Sentrums waar die programme so saamgestel word dat daar balans is tussen leer, speel en rus vir die kinders tussen 3 – 5 jaar oud. Dit is die ideaal om die kinders vanaf die Sentrums terug te stuur na gesonde gesins- en huislike omstandighede ten einde selfstandigheid aan te moedig en lewenskwaliteit van die gesinslede te verbeter. Sodoende word ’n versorgende samelewing geskep deur die bemagtiging en ontwikkeling van die gemeenskappe waar VKO Sentrums tot stand gekom het.
Die volgende VKO Sentrums is in bedryf:
1. Blommeland – Strydenburg: 107 kinders
2. !Xun – Platfontein Kimberley: 30 kinders
3. Khwe – Platfontein Kimberley: 22 kinders
4. Kagisho – Jan Kempdorp: 19 kinders
5. Sonstraaltjie – Marchand: 45 kinders
6. Kids Savety Haven – Postmasburg: 50 kinders
7. Haasdas – Augrabies: 35 kinders
8. Ithuteng – Piet Plessis: 60 kinders
9. Tjokkershoop – Hopetown: 63 kinders
10. Ratangthuto – Stella: 30 kinders
11. Karoodruppels – Britstown: 45 kinders
12. Zimbi – Niekerkshoop: 30 kinders
13. Voetspore van Hoop – Griekwastad: 30 kinders
14. Renosterbergprojek – Petrusville: 60 kinders
15. Besige Bytjies – Upington: 45 kinders
16. Nthatise – Warrenton: 27 kinders
17. Loxton – in proses
18. Ganspan – in proses
19. Haasbekkies – VKO Sentrum van Caritas Vryburg maatskaplike Kantoor vir Graad R kinders.
Foto: Haasdas VKO te Augrabies
Die Taakspan Diakonaat van die Algemene Sinode het in 2018 opnuut bevestig dat die wyse waarop die Kerk armoede in Suid-Afrika wil aanspreek deur VKO Sentrums is. Die NG Kerk in Noord-Kaapland het reeds in 2012 hierdie besluit geneem. Die oprigting van bogenoemde VKO Sentrums in die sinode van Noord-Kaapland getuig dat gemeentes toenemend onder die indruk van die waarde van vroeë kind ontwikkeling kom. Gemeentes wil en kan ’n volhoubare en sinvolle bydrae tot hul gemeenskap se ontwikkeling lewer. Die oprigting van VKO Sentrums onder leiding en deur die inisiatief van plaaslike gemeentes in plattelandse gemeenskappe bied ’n besondere geleentheid waarop hierdie bydrae tot gemeenskapsontwikkeling gedoen kan word. Dit rig die fokus van die gemeente na buite! Caritas beskik oor die kennis, leerprogramme en personeel om gemeentes hiermee te help. Gemeentes word aangemoedig om van hierdie uitstekende geleentheid gebruik te maak tot ontwikkeling van hul gemeenskap en om blywende waarde toe te voeg tot ons Suid-Afrikaanse samelewing!
Die Programbestuurder Gemeenskapsontwikkeling van Caritas Gemeenskapsfokus NPC het ver gevorder met die skryf van ’n Bestuurshandleiding vir VKO Sentrums. Caritas is daarvan oortuig dat hierdie Bestuurshandleiding nie net vir die funksionering van VKO Sentrums onder die vleuels van Caritas is nie, maar vir die oprigting en bestuur van VKO Sentrums landswyd van baie groot betekenis kan wees – gesien in die lig van die fokus wat die Taakspan Diakonaat van die Algemene Sinode aan VKO Sentrums gee.
Die Caritas Kinderland Leerprogram, opgestel deur personeel van Caritas betrokke by VKO, nader voltooiing. Hoofstukke van hierdie leerplan word reeds met trots deur praktisyns by VKO Sentrums aangebied.
(Artikel met dank en erkenning aan Caritas Gemeenskapsfokus NPC)