Op Sondag, 8 September 2019 het Annekie Teessen, ’n onderwyseres van Upington, vir elke boervrou in die Kenhardt distrik ’n geskenkpakkie afgelewer. Sy het die projek geloods, nadat sy besef het dat die boere nie die enigste slagoffers van die vernietigende omstandighede (droogte) is nie, maar ook boervroue, kinders, plaaswerkers en ook dorpenaars wat afhanklik is van die spandering van die boere.
Vroue se instelling en gesindheid bepaal die emosionele welvaart van haar gesin. Die boervroue moet dikwels luukses en heel moontlik alledaagse behoeftes prysgee om die basiese behoeftes van hulle gesinne te kan vervul.
Die idee was dat die pakkies in gebed saamgestel word en dat voorbidding gedoen sal word vir die vrou wat jou pakkie ontvang. ’n Goeie voorbeeld hiervan, is: ’n goeie boek wat jy onlangs gelees het en nou op die rak staan, dalk ’n onlangse tydskrif wat jy reeds gelees het, vogroom, lekkerruikseep, ’n pakkie “muffin mix”, ’n mooi CD op jou rak wat jy nie meer luister nie, ’n spesiale skinkbordlap, blombolle, lipglans, handeroom, lyfroom, ens.
Kenhardt se boervroue is emosioneel uitgeput en ontmoedig. Annekie vertel dat sy ’n hopeloosheid by hulle ervaar het as gevolg van die aanhoudende droogte en dat hulle sukkel om die res van die gesin se moraal hoog te hou. Hierdie boervroue het dringende ondersteuning, bederf en bemoediging nodig. Iets wat omgee weerspieël en weer hoop gee. Sy het afgekom op ’n bestaande projek wat ander distrikte se vroue gehelp het.
Mari Snyman, ’n boervrou van Brandvlei, het self deur ’n soortgelyke projek, ’n bederfpakkie ontvang. Sy getuig van die groot invloed wat hierdie pakkie op haar lewe gehad het.
Mari: “Om so ’n pakkie te kry, laat jou voel asof die pakkie spesiaal vir jou gepak is. Wanneer jy dit oopmaak en sien hoe alles met sorg bymekaar gesit is, asof die persoon jou persoonlik ken, laat dit jou besef dat hierdie pakkie van God is. Dat iemand iewers gehoorsaam was aan Sy stem en dat al gaan dit moeilik en het ons baie vrae oor waarom hierdie droogte so lank aanhou – God het ons nie vergeet nie. Hy ken ons by die naam. Ons bly Sy eiendom.”
Waar het die projek begin? By Sarie Nel… (haar storie volg)
“Ek het in die Karoo grootgeraak en uit eie ondervinding weet ek daar is nie tyd en tissues om te huil oor elke bakatel nie. Nadat ons vanjaar in Februarie tussen Laingsburg en Beaufort-Wes gereis het, pla die hele droogte my. Ek bid en begin navorsing doen onder boervroue in die Karoo en Boesmanland en besef…
Die vroue as planmakers se planne het opgeraak. Hulle is emosioneel uitgeput. Om hulself, hul kinders en lewensmaat regop en versorg te hou, raak al moeiliker. Baie word uitgeboul deur finansies. Uiteindelik klassifiseer ek die vroue as Finansieel en Emosioneel beproef.
Ek wou graag vir hulle iets prakties doen en so het die gedagte ontstaan om vir elke vrou ’n geskenkboksie op te maak, met praktiese en bederfgoedjies daarbinne. Dinge soos haarsjampoo en handeroom is luukses, want hulle kan dit nie meer maklik vir hulself koop nie.”
Annekie het die projek vir Kenhardt se boervroue geloods en gehoop en gebid vir 60 geskenkboksies. Op die afsnydatum het sy 200 boksies ontvang. Hiervan het sy 50 geskenkboksies na die NG Kerk Kakamas geneem wat aan die Boesmanlandse vroue uitgedeel kan word. Die res, met ook kruideniersware wat sy ontvang het, het hulle gebring vir Kenhardt se vroue. Al gee hierdie projek net hoop aan een vrou, sal dit steeds die moeite werd wees.
Ons dank ons hemelse Vader vir mense soos Annekie wat Hy tussen ons geplaas het om in ander mense se lewens ’n verskil te probeer maak.
(Christa Stander – NG Kerk Kenhardt)