Finale aankondiging! Vlug Goue Tee 2019 van Loxton Lugredery is op pad om te vertrek. Alle passasiers moet asseblief hul sitplekke inneem sodat die reis kan begin.
So het ’n eerlike oggend op Saterdag 9 November 2019 begin toe die senior burgers van Loxton getrakteer is met ’n reis om die wêreld. En wat ’n internasionale spektakel was dit nie? Arabiere, Meksikane, Maltese, Aussies, ’n Fransman en Suid-Afrikaners!
Soos dit nou maar gaan in ’n vliegtuig, moet daar mos eers ’n veiligheidspraatjie wees. Sonder dat ons enigsins Frans verstaan, het die baie komiese vlugbeampte dit met soveel gepaste gebare aangebied dat niemand van ons getwyfel het aan hoe dit werk nie!
En die reis begin. ’n Vasvra oor lande van die wêreld. Ons kuier onder meer in Angola, Argentinië, Brasilië, Egipte, Frankryk, Nederland, België, Israel, Oostenryk, Italië, Botswana, Monaco, Duitsland en Uruguay. Ons reis ook terug in tyd en besoek die 7 wonders van die antieke en Middeleeuse wêreld. Dan na die hede om die 7 wonders van die nuwe en moderne wêreld te besoek.
Tydens die reis leer ons ’n paar interessante feite van al die plekke waar ons toer. Soos dat Nederland gemiddeld die langste mans ter wêreld het (6″ en langer!), dat prinses Caroline van Monaco die casinos begin het om die Grimaldi’s van bankrotskap te red. Ook dat Israel die enigste land in die wêreld is wat oor ’n tydperk van 3 000 jaar nog steeds dieselfde naam het, op dieselfde plek is en waar dieselfde taal nog gepraat word. Asterix en Obelix, die Smurfs en Tintin (beter bekend as Kuifie in Afrikaans) is almal van Belgiese oorsprong! In Argentinië is ’n hele streek, genaamd Patagonië in die Chubut provinsie, waar die mense Afrikaans praat.
Terug op eie bodem vertel ons staaltjies oor ander reis-ervarings wat ons beleef het, terwyl ons heerlik smul aan kossoorte eie aan Nederland, Frankryk en Turkye. Natuurlik moes ons dit afsluit met melktert en koeksisters, wat so eie is aan ons sonnige Suid-Afrika! Elke lid van die Loxton Lugredery se Goue ondersteunersgilde ontvang ‘n stukkie vrugtekoek om saam te neem huis toe.
Nou ja, tot volgende jaar – Bon Voyage, Buen viaje, Goede reis, uhambo oluhle en mooi loop!
(NG Kerk Loxton Vrouediens)