Ds. Sarize Retief van Aggeneys skryf: Hierdie droogte het ons weer hoop in ons medemens kom gee
Ek onthou hoe ek as dominee twee jaar gelde ’n biddag vir reën in die Boesmanland gehou het. Ons het gebid en gesmeek vir reën. Elkeen het ook ’n sakkie van hulle plaasgrond saamgebring en ons het dit op ’n hoop uitgegooi en die Here se seën oor die grond gebid.
Daardie dag het ek hulle ook verseker dat die Here ons gebede verhoor, maar dalk nie antwoord soos ons hoop nie. Ons bid vir reën sodat die veld weer kan herstel en die boerderye kan vrugbaar wees.
Tot vandag toe sien ons hoe die Here voorsien het met veld wat in sakke veevoer voorsien word en kospakkies aan gesinne. Hoe weldoeners en kerke help om kinders se skoolgelde en koshuisgelde te betaal. Ons gemeenskap het besef die Here verhoor ons gebede. Hy antwoord anders, nie meer reën uit die lug uit vir die veld nie, maar met veld in sakke en in waterbottels. Ons sien hoop raak in die mense wat skenkings bring.
Hierdie droogte het ons weer hoop in ons medemens kom gee, ons het besef dat mense nog omgee vir wildvreemdelinge. Dat die Here mense gebruik en stuur. Ons is stom gelaat in dankbaarheid en die versekering dat die Here voorsien. Elke keer net op die regte tyd as die laaste sak voer uitgegooi word, die laaste kos vir ’n maaltyd voorberei word, die skoolgeld betaal moet word.
Ons is nederig en dankbaar vir elke bietjie hulp, dit is wat ons staande hou in die droogte.

’n Droogtegetuienis uit Williston: Droogte is ’n opleidingskool vir ons boerdery
Droogte het vele gesigte: dis ooie wat blêr vir voer; dis ’n veld wat al kaler word met niks wat skape kan vreet nie; dis stofstorms as die wind waai; dis angstig na weervoorspellings luister en in die verte tuur vir enige wolkie; dis die teleurstelling as die buurman ’n bui reën kry en jy nie; dis soebat vir genade by die bank en Koöperasie; dis ekstras wat uit die koskas verdwyn; dis verlange na vakansie… Dis roei met die Here oor hoekom en wanneer!
Maar droogte het ook ’n ander gesig – die gesig van engele op ons pad wat vir ons bid, maar meer nog – wat in ons behoeftes voorsien en ons sprakeloos laat!
Reeds einde 2018 het Kaapse vriende vir ’n kleiner groep van ons ’n groot voorraad kruideniers- en toiletware gebring. Ons was oorweldig met hierdie ‘eerste’’ ervaring van omgee.
Augustus 2019 het ’n boervrou in Kareedouw omgewing (waar ek grootgeword het) Johan van Wyk se berig gelees oor wat hy in ’n boks sou pak vir ’n boervrou. So besluit sy om vir ons gemeenskap boksies te pak. Sy hoop op 15… dit word 55 en kring nog verder uit na Humansdorp moedergemeente en so ver as Gamtoos omgewing. Uiteindelik ry hul 3 maal Williston toe met ’n bakkie en wa om produkte af te laai. Ook een lorrie vrag produkte volg. Selfs nou weer het daardie gemeente geld bewillig vir ’n student… Wat hul net van hoorsê ken.
Daarna ontvang ons oor maande vele skenkings van oral oor.
Elke maal is ons oorweldig: dat mense so kan omgee vir vreemdelinge; dat jy pakkies oopmaak wat lyk asof dit spesifiek vir jou gepak is; die trane as jy ’n koevert uit ’n boksie haal met R1000 kontant in!
Vele meer kan ek noem: ’n oud-klasmaat van my man wat geld oorplaas as hy hoor ons laat ons oë toets… Of as hy hoor van die nuwe kleinkind… Of sy seun in Kanada wat geld oorplaas… Sy vriend wat maandeliks geld oorplaas sodat ek kan help waar groot nood is.
Kan ons bevraagteken dat God omgee en van ons wéét? Nooit. Keer op keer het ons Sy hand hierin gesien. Die droogte het harte aangeraak en hande oopgemaak vir ander se nood. Dis goddelik! Ons harte is aangeraak en ons geloof is versterk want sulke omgee was bonatuurlik!
Droogte was ook ’n opleidingskool vir ons boerdery : ten spyte van voerskuld is ons boerdery op sekere gebiede op ’n beter plek as voor die droogte. Omdat diere om die huis moes voer kry, kon ooie fyn dopgehou word… Die bestes is geselekteer en die oog was op elke lam. Ek glo die Here het my man insig gegee om slim planne te maak… Maar iemand het ook eendag my man gebel en vir hom gesê dat die Here wil hê hy moet ons finansieel help! Ons was sprakeloos. Maar ons kan ook getuig dat ons beleef het hoe skape wat noodgedwonge in die veld moes loop (sonder voer) in ’n kondisie gebly het wat ons verstom het.
Ons het leer vertrou want ons het agtergekom Hy is betroubaar. (1Kor 1:9) Ons het ophou vrae vra oor die droogte, want ons het geleer dat Hy belangriker is as die reën.
Dit het nog nie gereën nie en dis moeilik maar ons aanvaar dat ons opleiding dalk nog nie klaar is nie! So ons wag – want Hy werk nog agter die skerms!

’n Boervrou van Williston skryf: Ek wil so afhanklik van die Here wees soos ’n boer wat wag vir reën…
As kind, was droogte vir my net ’n woord en dalk ’n prentjie van maer beeste by ’n droë waterkrip op die SAUK se TV-nuus. In die Karoo het droogte vir my ’n ander betekenis gekry… Dis eintlik nie noodwendig ’n tekort aan water nie – wel, na 8 jaar plek-plek ook dit – maar droogte is veel meer as ’n leë waterkrip, dis dieper en seerder en swaarder en langer as ’n nuusflits op die SAUK…
Dit neem alles oor – mens en dier en veld en gedagtes en emosies en leefwyse en moed en drome en…
Op ’n dag wonder jy: ‘Wanneer het ons ophou leef?’
Jy staan elke oggend op, jy doen wat jy moet doen, jy gaan slaap en môre doen jy dit weer. ‘Dit gaan goed’, as iemand sou vra. Want dit gaan regtig goed. Ons het ’n plaas, ’n boerdery, gesondheid, kos, klere, water, voertuie, gemaklike huis, wonderlike kinders, en – alles wat ons nodig het… Maar dit gaan nie lekker nie. Dit is net nie meer lekker nie…
Jy leer so baie…
Jy leer om planne te maak en uit te voer tot dit weer nodig is vir nuwe planne…
Jy leer om jou nie meer te steur aan weervoorspellings nie en dit liewer te vermy, want as hulle reën voorspel vir jou area en dit reën nié, breek dit jou bietjie moed…
Jy leer om reg te kom met wat jy het, want dit is genoeg.
Jy staan op en gaan help jou man om die diere te voer wanneer die werkers ‘vorentoe staan’ of ’n afnaweek het en jy leer om in sy wêreld te leef en om sy elke dag beter te verstaan en waardeer.
Jy leer om nie op alles te reageer wat mense om jou sê nie – om maar net aan te gaan met ‘stil wees en vertroue’.
Jy leer om te ontvang… ‘Om te gee is beter as om te ontvang’. Dit weet ons, maar gee is ook makliker as ontvang. Jy probeer leer om nie skuldig te voel daaroor nie, want jy wéét – in hierdie wêreld is daar miljoene mense wat baie swaarder kry as jy – wat niks het nie, en jy verstaan nie hoekom jy so bederf word nie.
Jy leer dat die mensdom nog soveel goedheid in hom het.
Jy leer dat die Here altyd sorg – ook al reën dit nie.
Jy leer dat hoop ’n baie sterker woord is as dit waarvoor dit elke dag gebruik word…
Jy leer meer van dankbaarheid.
Jy leer wat beteken ‘My genade is vir jou genoeg’.
Want genade is nie meer net ’n ‘verlossingswoord’ wat jou sonder verdienste deel maak van God se koninkryk nie, genade is prakties:
Dis die voer wat op jou werf afgelaai word sonder dat jy daarvoor gevra het.
Dis die koevert met note wat in jou hand geplaas word.
Dis die inbetaling in jou kind se bank- of universiteitsrekening of in jou man se koöperasierekening.
Dis die pakkies vol kos en bederf in oorvloed wat op jou kombuistafel beland van regoor die hele land, want sien, hierdie droogte het iewers langs die pad die hele land se droogte geword.
Dis die wérklike omgee van mense – bekend en onbekend…
Jy verstaan egter nie hoekom dit steeds nie reën nie… Jy verstaan eintlik niks meer nie…. Maar jy bly steeds hoop… Jy ervaar soveel emosies tussen die realiteite van die droogte en die ‘begenadiging’, maar jy hou dit mooi in toom – solank jy nie daaroor praat nie, is alles mooi rustig en onder beheer en kan jy jou ‘front’ voorhou. Maar net soms gebeur daar klein dingetjies wat jou laat oorgee aan jou emosies en die damwal so bietjie laat meegee…
Soos wanneer jou kind se boodskap op haar ‘uitstapdag’ is: Ek wil in my loopbaan altyd so afhanklik van die Here wees soos ’n boer wat wag vir reën…
Foto met toestemming: Wynand Luttig (Brandvlei omgewing)