Kerksondermure (KSM) het die voorreg gehad om in die 2020/2021 jaar ’n ondersteuningspad saam met die NG Kerk Loxton en Kenhardt te stap. KSM is kortpad vir kerksondermure – ’n naam wat uitdrukking gee aan ’n insluitende gemeenskap wat doelbewus mensgemaakte mure afbreek sodat God se koninkryk oral met blydskap kan kom. KSM is ’n dienende geloofsfamilie wat ook in die droogte geteisterde dele van ons land diensbaar wil wees.
Ons fokus vir 2020/2021 was humanitêre hulp aan die Noord-Kaap en die Oos-Kaap met droogtehulp werkgroepe wat werksaam was in die dorre Adelaide, Loxton en Kenhardt. Dit was een enorme voorreg om nuwe familie in Christus te kon ontmoet en byvoeg tot ons familie in Jesus Christus.
Ons wil graag die Oos-Kaap en Noord-Kaapland sinodes opreg bedank vir die manier waarop ons ontvang is oral waar ons deel kon wees. Dit was werklik ’n Geestelike reis wat ons vir altyd sal onthou en koester.
Nooit het een van ons geweet wat die invloed sou wees van Covid-19 toe God ons in 2019 gestuur het om by droogtehulp in ons land betrokke te raak nie. Ons het net meer as ’n jaar terug ’n stap in geloof geneem om R1 miljoen aan droogtehulp te beloof en ons kyk terug op ’n wonderlike jaar en dank God saam met elkeen van julle vir meer as R1 miljoen, ten spyte van Covid-19, wat ons na hierdie gebiede kon aangee.
Kerksondermure het weer ’n besoek aan Loxton en Kenhardt in die begin van April 2021 gebring om die situasie in hierdie gebiede te herevalueer. Weereens is ons soos familie ontvang en met die liefde van Jesus versorg vir die tyd wat ons by die Loxton en Kenhardt families spandeer het.
Ons is vas oortuig dat die herstelpad na 7 jaar se droogte nog lank en ver is en dat die Oos-Kaap en Noord-Kaap die kerk en SA se hulp oor die volgende paar jaar gaan benodig om op te staan uit die enorme skade en ellende wat ontstaan het en net vererger is deur die Covid-19 pandemie.
Die heropbou van skaapkuddes is ’n prioriteit wat op albei dorpies na die oppervlak gekom het. Boere moes kuddes soveel verklein om net te oorleef dat hulle net nie meer die kapitaal het om dit te vergroot, sodat hulle weer by gelykbreek en ‘n waardevolle bydra tot die voedselsekuriteit van ons land kan uitkom nie.
Daarom is dit met groot vrymoedigheid en vreugde dat KSM graag weer ons belofte van R1 miljoen in geloof wil hernu vir die 2021/2022 jaar. Ons sien uit om weer ’n paar opwindende projekte saam met hierdie gemeenskappe van die Oos- en Noord-Kaap aan te pak om hulle omstandighede te verbeter.
Ons wil ook elke kerk/gemeente, besighede en individue in ons land versoek om ernstig oor julle deelname aan droogtehulp in ons land te gaan bid. Julle hulp word werklik benodig. Maak nie saak hoe klein of gering julle julle deelname skat nie, elke bietjie kan ’n groot verskil maak.
KSM sien uit om in die toekoms saam met julle te dien en te sorg dat ons bly hoop bring en Jesus se lig skyn waar daar al moed verloor is en die son al onder gegaan het.
Foto: Die Sopkombuis op Loxton voorsien 200 arm mense elke dag met ’n middagete.
(Francois Schoombee – Kerksondermure)