Wat ervaar ’n gemeente wie se leraarspos vakant is? Veral in ’n tyd van Covid-19. Die gemeente voel herderloos. Hulle voel broos en onseker. Hulle doen wat gedoen moet word, die wyksverteenwoordigers en kerkraad probeer ondersteun waar hul kan. Die kerkkantoor bel en bemoedig. Vrouediens en kerkraad reël die basaar so goed moontlik… gaan net aan, ons kan tog nie ophou bestaan nie. Maar heeltyd die ding wat knaag… ons kort ’n herder.
Dit was die ervaring van NG Kerk Kuruman Moedergemeente vanaf April 2020. Ons het nou simpatie met gemeentes wat selfs langer as ons ’n vakante leraarspos het. Met ons storie wil ons julle uitdaag om kreatief te dink, om moed te hou, om die Here te vertrou.
In Kuruman is twee NG Gemeentes (Kuruman Moedergemeente en Kuruman-Die Oog) wat elkeen mooi op hul eie bene staan. Wat ’n vreugde toe ’n samewerkingsooreenkoms tussen die twee Kerkrade gesluit word! Dit word ’n wen-wen situasie. Skielik word ons regtig familie. Kuruman-Die Oog, wat nes enige ander gemeente erg geraak word deur afname in inkomste as gevolg van Covid-regulasies, kry finansiële hulp om hul leraarspos te dra en Kuruman Moedergemeente kry ’n “geliefde tussentydse leraar”. Ds. Christo Jonck bedien beide Kuruman-Die Oog en Kuruman Moedergemeente amptelik vanaf Junie 2020 tot Junie 2021. ’n Uitdagende jaar met Covid wat vrees saai en lewens neem. Baie uitdagings vir ’n leraar wat verantwoordelik is vir twee gemeentes asook buitewyke. Sommige Sondae vier dienste in ’n radius van 200km.
’n Dubbele krisis bring gemeentes en kinders van die Here saam.
Intussen is die kerkraad van Moedergemeente besig met ’n beroepingsproses en onderhoudspreke wat uitdagend is, ook met al die Covid-regulasies. Op 1 Julie 2021 is ons bevoorreg om ’n pragtige leraar, ds. Dirkie van Heerden vanaf Swellendam, aan te stel. Ons is klaar lief vir hom. En kan ds. Christo Jonck die hele Julie verlof neem om weer mens te word.
Die amptelike bevestiging van ds. Dirkie van Heerden het plaasgevind op 15 Augustus 2021. Ds. Christo Jonck het hom bevestig namens die ring van Deben. As gevolg van Covid-regulasies kon ons nie die volle ring uitnooi na dié spesiale geleentheid nie.
Terselfdertyd is ds. Christo Jonck bedank vir sy diens aan ons Gemeente met Psalm 1:3: “Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” ’n Wilde Olyfboom is aan hom oorhandig, wat hy kan plant en kan onthou dat Kuruman Moedergemeente hom waardeer.
Dankie ds. Christo! Dankie aan die kerkraad van die NG Kerk Kuruman-Die Oog vir ’n samewerkingsooreenkoms! Dankie ds. Dirkie! Ons is super opgewonde oor dominee. Dankie Here, vir U plan vir NG Kerk Kuruman Moedergemeente!
(Foto v.l.n.r. Ds. Christo Jonck en ds. Dirkie van Heerden)
(Erika Ekkerd – Skriba NG Kerk Kuruman)