In die Jaarboek van 2022 lees jy: BA (Hons); BTh (Lis Teol); M.Th.; L 1981; O 1983 Etosha-werkkring (EGKA); 1989 Niekerkshoop (nou Prieska); 2001 Prieska; 2006 Kimberley-Vooruitsig (PSD Noord-Kaapland)
In die 2023 Jaarboek gaan daar staan emeritus.
Ons het ds. Mossie leer ken as ’n ongelooflike nederige, nougesette en onselfsugtige mens. ’n Mens met ’n passie vir ander. ’n Mens wat ’n verskil maak.
Sy kennis is verbysterend. As jy nie weet nie, vra net vir Mossie. In een vergadering is hy die “google” van die Noord-Kaap genoem. Maak ook nie saak hoe besig hy is nie, hy kan altyd ’n paar minute afknyp om te help. Dis soos ons hom leer ken het. ’n Man wat elke dag sy Bybel in Grieks lees ’n georganiseerde man. Iemand wat verlengingskoorde skoonmaak, oprol en vasbind na gebruik. Hy is ’n presiese mens. Inligting is sorgvuldig ingesamel en gestoor – om seker te maak dit bly voortleef vir nageslagte. Veilig en noukeurig weggebêre.
Ds. Mossie se ongelooflike nederigheid, nougesetheid en onselfsugtigheid is deel van sy menswees. ’n Mens met ’n passie vir sy medemens.
Na 16 jaar eindig sy storie nie, want as ’n storie eindig, moet ’n mens afskeid neem. Hierdie is slegs vir hom die begin van ’n nuwe hoofstuk in sy lewe saam met sy ou mens, Mariana in Stillerweë Aftree-oord Kimberley.
Ds. Mossie het ons gereeld herinner aan die roepingsverklaring van die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland omdat dit ook sy dryfveer was.
Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland se roepingsverklaring is steeds: Saam luister ons na die Woord van die Here en loop so saam op die pad dat ons ons roeping ontdek en mekaar moed en hoop gee om dit uit te leef.
Dankie Mossie ons waardeer jou.
(Ds. Christo Jonck – lid Taakspan Benoeming PSD)