Die boom op die foto, by die sinodale sentrum te Kimberley, is die partner-boom van boom nommer 279 in die Luthergarten in Wittenberg.
Besoek http://www.luthergarten.de/welcome.html. By “List of all trees” moet afgeblaai word na nommer 279.
Die sinode het aanbeveel dat in 2017 by elke gemeente ’n “partner-boom” geplant word. Die sinode het kennis geneem dat die algemene taakspan reformasie 500, Vrygemaak, as tema gekies het en dat taakspan leer en aktuele sake van Noord-Kaapland aanbeveel dat die tema in Noord-Kaapland, Reformeer Weer, moet wees.
Liturg: In die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Gemeente: Amen.
Liturg: Ons hulp is in die Naam van die Here
Gemeente: wat hemel en aarde gemaak het.
Liturg: Genade vir u en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus.
Bybelteks… (deur gemeente gekies en voorgelees)
Boomplanting
1 Kor. 3:6 “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.”
Uit elke gemeente kry ’n afgevaardigde geleentheid om grond in die gat te gooi. Daarna kry ’n afgevaardigde uit elke gemeente geleentheid om water rondom die boom te giet.
“Laudate omnes gentes” word tydens die seremonie gesing.
Gebed:
Here, Skepper van Hemel en aarde, U het eens vir Adam en Eva, van wie ons almal stam, in ’n wonderlike tuin geplaas. Tans roep U ons, hul nageslag hier saam in hierdie tuin. Ons bid om u seën sodat dié boom sal gedy en groei as simbool van die eenheid van ons geloof sodat ons soos bome sal wees wat aan waterstrome geplant is en wat vrugte dra op hulle tyd. Laat dié vrugte getuienis wees van die genade en liefde van onse Here Jesus Christus. Ons roep tot U:
Gemeente: Verhoor ons Here!
Here, God van hervorming en vernuwing, U het ons Here Jesus Christus as Middelaar van U verbond in die wêreld gestuur. Sou ons in die versoeking kom om ons op ons eie krag te verlaat, roep U ons om alleen op Sy genade en liefde te vertrou. Ons dank U vir die getuienis van die geloof van ons vaders en moeders in talle lande. Laat ons van hulle leer dat die kerk voortdurend aan hervorming behoefte het. Gee ons krag om ons daaglikse lewens deur U Woord te hervorm. Ons roep tot U:
Gemeente: Verhoor ons Here!
Here, God van die Kerk, U het U Kerk in nagenoeg elke plek op aarde laat wortel skiet. Sommige getuig en dra vrug in plekke waar hulle die meerderheid is en andere waar hulle in die minderheid is. Bewaar dié wat in die meerderheid verkeer van apatie, bewaar dié wat in die minderheid verkeer van ontmoediging. Soos die boom wat ons hier plant skadu gee, laat alle kerke wêreldwyd mekaar wedersyds beskadu, bemoedig en help om U Evangelie uit te dra. Laat onderlinge gemeenskap groei ongeag ons onderlinge verskille. Ons roep tot U:
Gemeente: Verhoor ons Here!
Here, God van ekumeniese betrekkings, U het ons almal deel van ’n groot familie gemaak, U één heilige, algemene en wêreldwye Christelike Kerk op aarde. Verskeie kerkgenootskappe neem aan dié projek van boomplanting deel. Laat dié boom ’n herinnering en opdrag vir ons wees dat ons almal sal saamwerk om U te dien. Laat groei ’n ekumeniese gees onder ons almal. Ons roep tot U:
Gemeente: Verhoor ons Here!
Here, God van hoop, gee ons vertroue. Ons woon in ’n land wat ’n bloedige geskiedenis het. Gee aan ons die verbeeldingskrag – geloofsoë – om te kan sien wat die gevolge van hierdie boomplanting in ons land kan wees.
Ons sien hoe ons wêreld tans bedreig word deur sondige handelinge, deur sosiale en ekonomiese ongeregtigheid, deur werkloosheid, honger, armoede, siektes, terrorisme en oorloë in talle lande. Vir talle kom hulle wêreld inderwaarheid tot ’n einde. Martin Luther sou gesê het dat hy, indien die wêreld môre sou vergaan, vandag nog ’n appelboom sou plant. Help ons om dié vertroue te bewaar en om in geloof nader aan Hom – U Seun Jesus Christus, die Brood van die Lewe en die Lig van die wêreld – te groei. Ons roep tot U:
Gemeente: Verhoor ons Here!
Lied Ps. 46:1 (Ein feste Burg ist unser Gott – Martin Luther)
God is ’n toevlug in die nood,
’n rots wat altyd vas bly staan,
al dreig die vyand met die dood,
al storm sy leërbendes aan.
Laat dan maar buig en beef
al wat ons hier omgeef;
laat berge uit hul stee
wegwankel in die see –
ons sal nie beef of rugwaarts gaan.
Onse Vader:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid
Amen.
Seën