Kerkkantoor

’n Handleiding vir kerkpersoneel kan hieronder afgelaai word. ’n Uittreksel uit die voorwoord:

In my eerste jare in die bediening het ek dikwels uitgeroep: “Is daar iemand wat my kan help!”
My bediening het begin in Kaokoland (Himba’s) en daarna was ek werksaam onder die Damaras en Boesmans. Die luukse van ’n kerkkantoor en kerkpersoneel het ek nie geken nie!
In die NG Kerk het die grootste deel van my bediening in die diep platteland plaasgevind. Dikwels was daar elke tweede jaar ’n ander skriba in die kerkkantoor. In een gemeente was daar in die bestek van 9 jaar 5 skribas. Dit was letterlik ’n geval van “swem Jannie, swem…”.
Kerkpersoneel skakel my van tyd tot tyd en vra raad. Die versoek is telkens: “Stel asseblief die stof beskikbaar wat jy tydens opleidingsessies gebruik”.
Ek het besluit om aan die versoek te voldoen. Wat ek beskikbaar stel, is eintlik ’n “handleiding (praktiese gids) wat ek opgestel het sodat Mossie ’n idee kan hê wat in die kerkkantoor gebeur”.
Miskien kan dit ’n bydrae lewer vir nuwe beginners in kerkkantore… met niemand byderhand wat opleiding en raad kan gee.
Kerkpersoneel met jare se ondervinding moet liefs die “trap-der-jeug” verbygaan!

Handleiding Kerkkantoorpersoneel – praktiese gids – JPL Mostert

Ina Rousseau skryf so mooi oor dié Skriba en die potlood:
                  Potlood
Skriba, sny deur my hout:
laat Jou messie in my ínsny
tot aan my kern; lê bloot
soos ’n stuk gebeente
my grafiet,
al sou ek my teen Jou verset
totdat ek splinter –
sny deur die plankdood, onthul
my siel, gebruik dan, Skriba,
gebruik my soos Jy wil.