Kestell Kinderhuis
Die ou hoofgebou van die Kestell Kinderhuis
Die verhaal van Kestell Kinderhuis begin by ’n kerkraadsvergadering van die Ned. Geref. Kerk Kimberley wat op 5 Mei 1890 plaasgevind het.
“De vergadering spreekt nu meer over de armen, en keurt goed een voorstel van enige zusters der gemeente dat er een ’thuis worde opgericht voor Arme Kinderen, gebrekkigen en ouden. De Kerkraad zal in deze saak steeds warm belangstellen, en moedicht de zusters aan in hun werk.”
Die susters in samewerking met ’n kommissie van die kerkraad nader die De Beers maatskappy. De Beers skenk ’n stuk grond met ’n huisie vir ’n Tehuis vir behoeftige kinders – dit was geleë in die huidige Lawsonstraat. Op 22 April 1891 is “Newton Tehuis – Newton Home” ingewy.
Tydens die openingsgeleentheid is reeds 5 kindertjies opgeneem, naamlik Georgina Elizabeth Kirkham, Magaret Josephine Kirkham, Willie Kirkham, William Benjamin Leë en Joseph Leë.
Aangesien die oorspronklike platdakhuisie reeds vanaf die begin nie aan sy doel as versorgingsoord beantwoord het nie, besluit die destydse Raad om “’n moderne gebou wat aan die doel vir kinderversorging beantwoord daar te stel”. Die hoeksteen van die nuwe “Newton Tehuis/Newton Home” word in Augustus 1898 deur ds. PJ de Vaal gelê. Verdere uitbreidings aan hierdie gebou is in 1921 en 1937 gedoen. Hierdie gebou was die bekende dubbelverdiepinggebou op die hoek van Lawsonstraat en Reservoirstraat. Die gebou is in 1968 gesloop. Die hoeksteen is bewaar en in die nuwe kompleks ingebou. Tans (2014) dien die gedeelte as konferensie geriewe.
Die konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boere oorlog (1900-1902) was aangrensend aan Kestell Kinderhuis.
“The Refugee Camp / Vluchteling Kamp”
Die foto, “The Refugee Camp / Vluchteling Kamp”, is geneem uit die ou hoofgebou van die Newton Tehuis (Kestell Kinderhuis).
Op die voorgrond is die agterplaas van die tehuis.
Die huidige Laerskool Vooruitsig is gebou op die gebied heel links op die foto.
Die naamsverandering (Kestell-Kinderhuis) het op 2 Augustus 1949 plaasgevind. Dit is gedoen ter ere van die stigters, naamlik dr. en mev. Kestell – veral mev. Kestell het waardevolle dienste gelewer.
Verdere uitbreidings aan die kinderhuis het plaasgevind en is op die volgende datums ingewy: 14 Oktober 1961 afdeling vir kleuters, 18 Julie 1964 afdeling vir dogters en op 25 April 1970’n afdeling vir seuns.
Fullard, W. 1972. Ned. Geref. Kerk Kimberley: Geskiedenis van die Gemeente 1872-1972
[Terug na bo]
Jannie Roux Kinderhuis
Die gedagte van ’n kinderhuis te Barkly-Wes het by dr. Willie Venter ontstaan. Dr. Venter het in 1948 ’n beroep na Barkly-Wes aanvaar. Tydens ’n kerkraadsvergadering van die Ned. Geref. Kerk Barkly-Wes op 25 November 1950 bied broer Jannie Roux £5,000 pond aan om dit vir die kerkraad moontlik te maak om ’n ou hostel in ’n kinderhuis om te skep.
Die notule van die kerkraadsvergadering van 25 November 1950:
“Hierdie gulde aanbod het die kerkraad byna hulle asems ontneem en in stilte het hulle die Here gedank vir wat Hy deur broer Jannie Roux aan ons doen”.
Die geld is onder meer gebruik om 300 morg van die munisipaliteit aan te koop wat aan die inrigting grens, waarvan 20 morg onder besproeiing geplaas is. In 1952 was daar reeds 55 kinders in die inrigting.
Die nuwe gebou is op Saterdag 5 Desember 1953 ingewy. Die gebou het destyds £45,000 gekos en kon 120 kinders huisves.
Van der Merwe, G. 1993. Onverganklike rykdom
[Terug na bo]
Caritas Kinder en Jeugsorgsentrum
Caritas Kinder en Jeugsorgsentrum beskik oor ‘n kampus in Barkly-Wes:
As gevolg van die feit dat Kestell en Jannie Roux kampusse beide halfvol was, is die kinders van Kestell aan die begin van 2013 na Jannie Roux verskuif. Die tekort aan genoegsame fondse en die feit dat die subsidie van die staat nie verhoog nie het tot die onafwendbare stap gelei.
Die behoefte aan fondse bly groot en die kinderhuis bly afhanklik van die goedgesindheid van lidmate en gemeentes. NG Kerk Kinderhuis Noord-Kaap poog om versorging en terapeutiese programme vir die kinders van hoogstaande standaard aan te bied, asook om vir kinders wat uit ’n vyandige omgewing kom ’n veilige en sorgsame tuiste te skep.
Kontak besonderhede
Telefoon 076 260 7312
E-pos [email protected]
Bestuurder: Jannie Roux Kampus
Marelize Hurter